NG Kerk Eros Preke
Sondag, 27 Januarie 2019 09:00

DIEPER 2019: Wees altyd bly in die Here

Geskryf deur

Sondag, 27 Januarie 2019

In die fokusweek het ons gesels oor die tema van die jaar. Ons begin dus die eerste termyn deur te fokus op Dieper.

Verlede week - Verwondering. Om in awe en wonder te wees oor die evangelie, om opnuut verras te word met die Christus-storie.

2 weke terug - Brandende hart. Met die geleentheid het Fourie só mooi verduidelik hoe bekering werk. Hy het Paulus se verhaal van bekering vertel. Paulus het op sy perd gery toe God aan hom verskyn, hy skrik so groot dat hy van sy perd af val. Hy word so geruk deur die gebeurtenis dat hy sy hele lewe van haat omkeer en val in die liefde en genade van God en hy kies ‘n lewe van liefde en vreugde. Paulus leef nie net asof die Jesus-storie waar is nie. Paulus leef, deur sy hele lewe op die spel te sit met die wete dat die Jesus-storie waar is. M.a.w. Paulus plaas homself pens en pootjies binne die Jesus-storie.

Als was nie maanskyn en rose net omdat hy bekeer is nie. Trouens, dit het meeste van die tyd eintlik baie sleg gegaan het hom. Tog lees ons op so baie plekke van sy vreugde en blydskap. 

Vandag delf ons dieper in Paulus se verhaal, na sy bekering, om te kyk of ons beter kan verstaan hoe hierdie vreugde werk, selfs wanneer dit sleg gaan. Hoe kry Paulus dit reg om lofliedere te sing uit die tronk?

Ons lees in Handelinge die verhaal van Paulus en Silas wat in die tronk in Filippi sit.  In slegte omstandighede, hulle voel gedruk van alle kante af.  Hulle voete is vasgeboei met houtblokke.  Hulle is geslaan en hul klere is van hul afgeruk.  Hulle is in die binneste deel van die tronk geplaas waar daar nie vensters na buite is nie.  Hulle sit tussen talle misdadigers wat seker baie oor hul te sê gehad het.  Hulle is behandel soos die gevaarlikste misdadigers van daardie tyd. Die ironie is dat hulle nog onskuldig ook is.  Dit het gelyk of hierdie dalk die einde kan wees vir Paulus en Silas, dat daar nie meer hoop is nie, dis nag en donker en dit lyk nie of daar uitkoms is nie.

Wat is jou tronk? Wat is die omstandighede waarmee jy vereenselwig met sommige van hierdie omstandighede waarin Paulus en Silas hulle bevind? Dalk beleef jy teenspoed met ‘n verhouding met ‘n vriend of familielid? Dalk is iemand na aan jou siek. Dalk het jy iemand na aan jou aan die dood afgestaan.

Wat is jou reaksie op jou omstandighede? Droefheid, leweloosheid, depressie?

Wat dink julle was Paulus en Silas se reaksie in hulle moeilikste situasie? Hulle sing van vreugde!

Wat!? Hoe is dit moontlik? Hulle het nie geweet of hulle na hul verhoor gaan leef of nie, tog bly hulle vreugdevol.

Beethoven se 9de simfonie

Dit laat my dink aan die bekende Ludwig van Beethoven met sy 9de en laaste simfonie. Die laaste beweging in hierdie simfonie is die bekende “Ode to joy”. Die interessante deel van hierdie lied is dat Beethoven totaal en al doof was toe hy hierdie geskryf het. Hy het nooit ‘n enkele noot gehoor van die simfonie nie, maar tog noem hy dit die “Ode to joy”. Hierdie lied gryp vandag nog mense se harte aan as dit wêreldwyd gespeel word. Kan jy jou indink hoe erg dit moes wees vir Beethoven dat hy, hierdie briljante komponis, nie meer musiek kon hoor nie, maar tog is die laaste deel van sy finale simfonie se naam “Ode to joy”.  Dalk het hy iets verstaan van hierdie vreugde waarvan Paulus en Silas gesing het in die tronk.

Paulus se brief aan die Filippense

Om Paulus se hart en vreugde te midde van hierdie pyn beter te verstaan kyk ons na ‘n brief wat hy geskryf het sowat 10 jaar later waar Paulus in ‘n ander tronk sit, hierdie keer in Rome. Hy skryf ‘n brief aan Filippi en haal weer sy en Silas se loflied aan. Te midde van sy swaarkry skryf hy ‘n brief wat onder al die Bybelboeke bekend staan as die mees vreugdevolle boek. Die terme vir blydskap en vreugde kom 16 keer voor in slegs 4 hoofstukke. Die hele Filippense weergalm van vreugde en blydskap.

Die vreugde waarvan Paulus praat kom dan ook tot ‘n klimaks hier in Filippense 4, en die verse in Hoofstuk 4 vloei in mekaar in soos ‘n legkaart wat so mooi geskep is om ‘n pragtige beeld van vreugde uit te beeld.  Kom ons lees saam vanuit Filippense 4:4-9.

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. 8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.”

Wie van die kinders kan vir my sê wat is hierdie?

Ja, dis ‘n legkaart. Paulus sit in die tronk en sê “wees bly!” Wat? Dit maak dan nie sin nie, ons kan sê dit puzzle ons. Gelukkig sit Paulus vir ons die evangelie, die goeie nuus aanmekaar, soos legkaartstukke. Ons sien dan ook ‘n paar praktiese riglyne om ‘n vreugdevolle lewe te leef, sodat ons ook lofliedere uit ‘n tronk sou kan sing.

Legkaartstuk 1 - Wees altyd bly in die Here!

Die eerste legkaartstuk is: Wees altyd bly in die Here!

Maar wat beteken dit om bly te wees? Beteken blydskap vir jou verrassings op jou verjaarsdag, of as jou sport span gewen het?  M.a.w. beteken blydskap vir jou die gevoel wat jy kry wanneer goeie goed met jou gebeur? Vir baie mense bly hierdie hoe hulle blydskap verstaan en vir baie word dit ‘n lewensideaal, dat goeie goed die heeltyd met hulle moet gebeur. Maar ons weet die lewe werk nie so nie. Ons is nie imuun teen die slegte goed wat met ons gebeur nie. 

‘n Ander valse idee wat mens dikwels kry is as iemand dink “verbly jou in die Heer” soos die 1953 vertaling sê, beteken om ‘n valse glimlag op te plak en te maak of alles goed en reg gaan waar in realiteit jou lewe se nate eintlik bietjie los trek.

Dit is dan die mooi van hierdie deel, dat Paulus juis hierdie presiese woorde gekies het. hy sê nie “wees altyd bly in of oor jou omstandighede nie”. Hy sê ook nie “maak of jy altyd bly is nie”. Paulus sê eerder, “wees altyd bly in die Here” en hy herhaal dit weer... wees bly!

Paulus maak in effek ‘n onderskyd tussen blydskap en vreugde. Blydskap is ‘n tydelike positiewe gevoel wat soos ‘n warm bad wat vinnig weer koud word. Paulus praat hier eerder van ‘n volhoubare indiepte vreugde, wat nie van jou omstandighede afhanklik is nie.

Legkaartstuk 2 - Wees inskiklik teenoor alle mense

Met die tweede legkaartstuk sê Paulus, “wees inskiklik teenoor alle mense”. Onthou, hy sit in die tronk, hy is die een wat swaarkry, maar hy sê dink aan die mense rondom jou eerder as jou eie situasie. Die blote feit dat hy die brief skryf is vir ons ‘n aanduiding dat dit vir hom nie om homself gaan nie. In die Handelinge verhaal lees ons hoe hy ‘n tronkwag, wat eintlik sy vyand is, se lewe red. Paulus besef hy is deel van iets groter as homself. Ek dink wat hy hier sê is “kom net partykeer so bietjie oor jouself. Ja jy beleef soms swaarkry, maar in die groter prentjie is jou eie omstandighede weglaatbaar as jy die mense rondom jou se swaarkry begin raaksien.

Legkaartstuk 3 - Die Here is naby

Die derde legkaart stukkie lê opgesluit in die woorde van vers 5 “Die Here is naby.” Dit is die middelpunt van ons legkaart, als draai om hierdie woorde: “Die Here is naby.”

Die volgelinge van Jesus in Filippi het in ‘n Romeinse kolonie gewoon waar die krag en goddelikheid van die Romeinse keiser duidelik was. Die Romeinse keiser het homself as ‘n godelike heerser verklaar. Daarom wil Paulus dit beklemtoon en duidelik maak dat die krag en goddelikheid van Jesus Christus, ook teenwoordig is, anders teenwoordig is as aardse mag, en die redding wat deur Jesus is, baie groter en kragtiger is as die realiteit van die keiser.

Dis eintlik baie interessant, in ‘n tyd waar mense gode wou word, kom God en hy word mens. Ons lees hiervan in Filippense 2:5-11, waar Jesus mens word deur Homself te verneder, deur ‘n slaaf te word en gekruisig te word. En hierdie is dan die uiteindelike bron en rede vir vreugde vir Paulus. Paulus weet die Here is naby. Dis dan ook die middelpunt van die legkaart waaraan al die ander stukke verbind is.

Legkaartstuk 4 - Moet oor niks besorg wees nie

En daarom, omdat die Here naby is, hoef ons oor niks besorg te wees nie, dan pas vers 6 ook in die legkaart in. Die term “besorg” in vers 6 kan ook vervang word met angstig, “ons hoef oor niks angstig te wees nie”. Hierdie vroeë Christelike gemeenskap in Filippi was angstig oor dreigemente van vervolging vir hul geloof en daarom skryf Paulus juis hierdie vir hulle om hulle te verseker om nie angstig te wees nie, want die Here is naby hulle.

Ek is self ‘n baie angstige mens. Iets wat ek doen is om vir ‘n oomblik diep asem te haal. Oefen dit gou saam met my. In by die neus en uit by die mond, In by die neus en uit by die mond. Asemhaling is van die oudste maniere in die kerklike tradisie oor duisende jare om bewus te word van God se teenwoordigheid, so asof mens die Gees inasem.

Om nie angstig te wees nie beteken nie om die werklikheid van jou situasie te ontken nie. Die aard van Paulus se vreugde in tye van angs is gegrond in sy verhouding met God wat so naby gekom het.

Legkaartstuk 5 - Smeking en danksegging

Dan praat Paulus van smeking en danksegging, nog ‘n legkaart stukkie. Iemand het eenmaal gesê dat smeking en danksegging die twee vlerke is van ‘n voël. Net so min as wat ‘n voël kan vlieg as sy een vlerk gebreek is, net so min kan ons gebede van die grond af kom as dit nie smeking en danksegging bevat nie. Met smeking en danksegging lê ons ons diepste wese bloot voor God en erken ons dat ons totaal afhanklik is van God se goedheid en sorg. God se stem lê tussen ons smeking en danksegging.

Legkaartstuk 6 - Vrede van God ervaar

Nóg ‘n legkaart stukkie wat in hierdie vreugde verhaal pas is waar Paulus ‘n belofte in vers 7 maak. Hy belowe dat dié wat op hierdie manier bid, die vrede van God sal ervaar, vrede wat alle verstand te bowe gaan. God se vrede is nie die gevolg van die krag van ons gebede of die doeltreffendheid van ons gebede nie. Gebed is ons openheid oor ons behoeftes voor God, ons leegheid in Sy teenwoordigheid. As ons God as teenwoordig beleef, maak dit ons teenwoordig.

Legkaartstuk 7 - Fokus op die WERRMP dinge

Fokus op dit wat mooi en goed is. Paulus gebruik so baie byvoeglike naamwoorde, nie om noodwendig verskillende goed uit te beeld nie maar om te beklemtoon hoe belangrik dit is om op die mooi goed te fokus. Fokus op die WERRMP dinge.

Dit beteken nie mens ontken die slegte en lelike nie. Paulus was self in die tronk en in moeilike omstandighede, maar Paulus leer ons om te kies vir die goeie.

Legkaartstuk 8 - Doen dit

Dan ressoneer Paulus Jesus se woorde “volg my”. Hy sê te doen wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het. Paulus sê, moet dit nie oordink nie. Dit laat my dink aan ‘n Nike advertensie wat sê “Just do it!”

Doen wat julle vandag van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het. Dink aan ander mense se swaarkry eerder as jou eie, wees bewus van God te teenwoordigheid, moenie in angs lewe nie, dra jou gebede op met smeking en danksegging, moet nie die slegte situasie wegwens nie, maar hou jou fokus op alles wat goed is.

Legkaartstuk 9 - God wat vrede gee

En dan sluit Paulus af deur te herhaal, “en God wat vrede gee, sal by julle wees.” Ons kan dit ook andersom sê, as julle bewus bly van God se teenwoordigheid sal julle God se vrede en vreudge ervaar.

Slot

Mag julle terugkyk na hierdie teks en die legkaartstukke van die gelukkige lewe raaksien...en mag dit julle help om ‘n volhoubare geluk te kweek maak nie saak waar jy jouself bevind nie.

Amen

Sondag, 20 Januarie 2019 09:00

DIEPER 2019: In "Awe" and "Wonder" oor God

Geskryf deur

Sondag: 20 Januarie 2019

Die musiek groep REM sing ‘n liedjie “Losing my religion”. Dit is vandag baie die geval. Hoekom verloor mense hulle geloof? Hoekom verlaat hulle hul kerke? Dit kan oor verskeie redes wees, maar om by verlede week se preek aan te sluit is een van die redes as gevolg van ‘n hart wat nog nooit gebrand het nie. Dus ’n hart wat nie passievol lewe nie, omdat die vlamme van God se liefde nooit die hart brand gesteek het nie. Dit kan ook wees dat dit eens gebrand het, maar dat daar nie hout opgesit is nie en oor tyd flouer geword het tot dit later doodgegaan het. Dalk is daar water op die vuur gegooi wat dit koud gelaat het.

 Kerkgroei statistiek-ouens soos Kerkspieël en George Barna het bevind dat die nommer een rede hiervoor te doen het met die manier hoe daar oor God gedink en gepraat word. Beide deur Christene en nie-Christene. Mense vandag glo nie meer in God nie, wil nie kerk bywoon nie en gee eenvoudig net hulle geloof op as gevolg van een of meer van die volgende sienings:

  1. God word voorgehou as die een wat sonde straf. Hy bring rampe, siektes en droogtes alles as maniere om ons te straf vir verkeerde dade.
  1. As ’n mens se hart aan die brand gesteek word, volg God se seën en sal dit voorspoedig gaan. Toe dit nie gebeur het nie, het hulle op God opgegee, want “wie wil nou so God dien? Wat nog te sê liefhê?”.
  2. Medegelowiges fokus net op mekaar se foute. In plaas dat gelowiges oor God se goedheid, guns en genade praat, praat hulle eerder die ander persoon se foute en wat die persoon volgens die Bybel verkeerd doen. Die uiteinde hiervan is dat mense voel hulle word deur die kerk en gelowiges geoordeel en veroordeel.

Verlede Sondag het ons so mooi gehoor dat ons met brandende hart vol passie en opwinding moet lewe. Maar oor die eeue heen verstaan mense die brandende hart verkeerd.  Wanneer jy ’n herontmoeting met Jesus gehad het, steek Sy Gees in Sy liefde vir jou, jou hart aan die brand met die gevolg dat dit jou DIEPER vat met God. Ongelukkig kan hierdie mooi konsep so geweldig verkeerd verstaan en geïnterpreteer word dat “Christene” fanatici of ‘gatekeepers’ word wat namens God ander mense wat verkeerde sienings en oortuigings het, wie se seksualiteit nie reg is nie of wat sonde doen en verkeerd lewe, wil bykom. In die geval word die Bybel gebruik om wetties en fundamentalisties met mense om te gaan. Dit neem niemand DIEPER met God nie, maar eerder vlakker en word dus OPPERVLAKKIG. Gelowige Christen mense, wat hulle geloof en christenskap op dié manier uitleef wil die vlam en brandende hart aan die gang hou deur die navolging van wette aangepor deur vrees, twyfel en onsekerheid. Hulle vrees God, maar op ’n verkeerde manier omdat hulle dit doen om straf te ontduik. Daarom hou dit nie en verflou die passie en gaan dit selfs dood.

Dit terwyl die Bybel baie duidelik is dat jy God op ’n heel ander manier moet “vrees”.

Joh 9:31 - “Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en Hom vrees en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.”
Luk 7:16 - “En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en haar aangeraak. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee. En vrees en ontsag het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ’n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.”

Jy kan alleenlik dieper met God gaan en die brandende hart aan die gang hou as jy ’n Bybelse vrees vir God het. Kom ons kyk wat dit prakties beteken en hoe jy dit doen?

VERWONDERING

 Tim Keller skryf: ‘Obviously, to be in the fear of the Lord is not to be scared of the Lord, as the Hebrew word has overtones of respect and awe. ‘Fear’ in the Bible means to be overwhelmed, to be controlled by something. To fear the Lord is to be overwhelmed with awe and wonder before the greatness of God and his love. It means that, because of his bright holiness and magnificent love, you find him ‘fearfully beautiful.’

Verwondering is om in vervoering te wees, om aangegryp te wees oor wat die Bybel van en oor God sê. Dit gaan nie oor wat mense sê nie, wat dus beteken dat jy fisies die Bybel moet gaan lees en jou daarin verdiep sodat jy kan ontdek wat die vrees van God beteken. Luister bietjie na die volgende:

“. . . is altyd verbind met ‘great joy’ - Spr 28:14 ‘Happy is the one who feareth always.’ “Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees (Wie die Here altyd liefhet, ervaar blydskap), maar wie sy hart hard maak, sal nooit gelukkig wees nie.” 

‘How can someone who is constantly in fear be filled with happiness? Most surprising says Psalm 130:4 “Forgiveness comes from you – therefore you are feared.”

“Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.” 

‘Forgiveness and grace increase the fear of the Lord as it is characterized by praise, wonder, and delight (Psalm 40:3). How can that be? One commentator on Psalm 130 puts it like this: “Servile fear [being scared] would have been diminished, not increased, by forgiveness…The true sense of the ‘fear of the Lord’ in the Old Testament…implies relationship.” Tim Keller

 Die Bybel se boodskap is aantreklik. Dit trek mense aan na ’n mooi God om nader en dieper in verhouding met Hom en met Sy geliefdes te kom. Dis nie om te oordeel, veroordeel of verwerp nie. Dit gaan nie oor voorwaardes nie, want dit stoot mense af.

Beteken dit nou alles is okay en dat ek net kan lewe soos ek wil as gevolg van God se goedheid, guns en genade? Nee, genade is te duur! Dit het ‘n prys gekos en vra ook ‘n prys naamlik om jou sondige vlees teen te staan.

Die tweede rede waarom mense hulle geloof verloor is oor die wyse waarop gelowiges, christene en kerkmense lewe, naamlik skynheilig, hard, ongenaakbaar, skelm, agteraf, hoogmoedig, beterwetig, eiewys – “my way or no way”. Dis so moeilik om met sulke mense te leef. As die vlam van God se liefde jou hart verwarm en brand steek sal jy gevul word met ‘n diepe verwondering. Maar wat is verwondering en hoe lyk en werk dit?

ONTSAG

Wanneer jou hart brand gesteek word, weet jy dat jy dit nie verdien nie. Jou lewe word gevul met ‘n diep eerbied vir God. Jy begin lewe deur God te eer en te respekteer oor wie Hy is. Wat Hy vir jou gedoen het weeg swaar en is baie gewigtig – Hebreeus KABOD. Dit maak dat jy voor Hom neerval, oorweldigd deur Sy Heilige teenwoordigheid wat alle onrein dinge verbrand omdat dit op Jesus neerkom. Dit vul jou met vlam en vuur, maar nie om te skroei en te verbrand nie, maar om aan die brand te steek. Om die goedheid en liefde van God vir jou as sondaar te beleef.  Wanneer jy dit besef val jy voor Hom neer in ‘n diep ontsag (Ps 2: 1 “Jy moet die Here met ontsag dien, en met vrees toejuig”)  want jy is dit nie waardig nie. Jy besef dan vir die eerste keer watter prys Jesus se sterwe aan die kruis gekos het en wat se geweldige, eksponensiële implikasie dit vir sondaars tot gevolg het. Dan lewe ons met wat 1 Pet 1:15 sê naamlik “met ‘n heilige eerbied vir Christus”. 

Om met ontsag en eerbied voor God te lewe is om jou aan Hom te onderwerp. Luister na die volgende 2 tekste:

“Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê.” JOB 22:21

“Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” JAK 4:10

 Om jouself te onderwerp beteken om voor God te val en jouself oor te gee aan Hom.

Kyk na mense wat voor God geval het:

Moses Eks 3. Die dissipels in die storm in Markus 4:41. Die duiwelbesete man in Markus 5:6, “En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan.” Dan die ryk jongman in Lukas 17:15-16. Die soldate saam Judas, die moordenaar aan kruis en Saulus.

In Op 19:10 skryf Johannes “Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid.“

Eros Gemeente se visie is volgens Kolossense 3: ALLES IN . . . IN ALLES. Met ander woorde om nie halfpad op te hou nie, maar voluit alles vir Jesus te doen. Dit beteken dat jy jou geloof met meer erns moet opvat:

  1. OPGEWONDE

In dié val word daar ‘n diep opgewondenheid in jou gebore wat aantreklik is vir ander mense. Jy ken mos sulke mense wat vol vreugde, vrede en vertroue is wat lei tot ‘n kalmte en rustigheid. Mense wat nie heeltyd vrees en vol bekommernisse, stress en angs is wat jou moeg maak soveel so dat die vlam en vuur geblus word. Jy is dan lus vir niks nie, voel leeg en ongemotiveerd vir die toekoms. Hoe kry sommige dit dan reg om vol vreugde en opgewondenheid te lewe? Die Here is hulle passie, energie en motivering. Hulle lewenslus en passie kom van die vuur wat in hul harte brand. 

Jy besef eers wat vryheid is as jy agter tronktralies is! Dan besef jy dat jy vroeër nooit vryheid waardeer het nie. Net so met die Evangelie: ’n mens besef eers die waarde daarvan van hoe wonderlik dit is as jy direk met iemand te doen het in wie die ontsag en opgewondenheid oor die Here oorborrel.

  1. VERHEERLIK

Wanneer jou hart bons en oorborrel van opgewondenheid lei dit daartoe dat jy God deur jou dade en lewe wil verheerlik. Nou word die wet juis die manier hoe jy Jesus sigbaar maak en hoe jy jou dankbaarheid teenoor Hom uitleef. Jou lewens mantra word dan om die Onse Vader gebed te lééf. Sy Naam te heilig. Nie om beloon te word, geseën te word, beskerming en voorspoedig te word of die hemel as “grand price” te kry nie. Maar eerder omdat jy wil! Omdat jy gedryf word deur ‘n brandende hart om God deur jou lewe te verheerlik.

  1. GETUIE

Met so ’n brandende hart voer jy Jesus se laaste opdrag uit naamlik om te gaan vertel en dissipels te maak. Hy het gesê “Ek stuur julle uit...Ek maak julle vissers van mense”.Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.”
LUK 7:22.

“Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword.” LUK 17:14  Hulle is so opgewonde en gevul met verwondering uit ‘n diepe eerbied en respek vir Jesus en wat Hy gedoen het dat hulle nie anders kan as om dit wat gebeur het, te moet gaan vertel nie. Dis hoe die evangelie versprei word, die koninkryk kom, en God verheerlik word. Dis ook hoe die vuur in ‘n brandende hart bly brand en daarby met passie, met energie, vreugde, hoop, optimisme en positiwiteit brand.

Hoekom “lose people religion”?

Die derde rede is omrede gelowiges nie meer vertel nie. Hulle gaan nie meer uit nie, hulle gooi nie meer die aas van die GOEIE NUUS in nie. Is jy nog in verwondering en opgewonde oor ons God en die Evangelie? Oor die Goeie Nuus wat die engele vir die skaapwagters vertel het met groot blydskap? As jy regtig opgewonde oor iets is, dan praat jy tog daaroor. Jy bly nie stil nie. Want as jy stilbly is jy tog nie opgewonde daaroor nie, of hoe?

Dit is hoe jy die vuur laat aanhou sterk brand in jou hart, naamlik deur te vertel en te getuig. As jy dit nie doen nie, verdoof dit die vuur. As jy nie betrokke is iewers in ‘n bediening of gebed of Bybelstudie groep nie, sal die vuur ook verdoof en verflou. Diensbaarheid en betrokkenheid in die koninkryk laat die vuur brand. As jy 365 dae net met wêreldse goed in jou eie ou lewetjie betrokke is, blus dit die vuur totdat dit later heeltemal dood is. 

Kom ons gaan vertel in 2019 vir mense die Goeie Nuus met ‘n opgewonde hart, ’n hart wat met verwondering gevul is, ’n hart wat in vervoering brand oor die goedheid, guns en genade van ‘n “beautiful God”. Van ’n God wat net die goeie begeer vir Sy kinders. Wat nie kwaad is, heeltyd wil straf en mense met vuur uit die hemel wil vernietig met allerlei siektes, sterftes en droogtes nie. Kom ons tel weer die visstok op en sit die aas van die Goeie Evangelie aan en gooi dit na elke mens wat jou pad kruis, nie om hulle te veroordeel of skuldig te laat voel nie, maar sodat hulle ook:

  • In verwondering sal kom oor wie Hy is, In vervoering en in “awe and wonder” oor God. 
  • Gevul sal word met ‘n diep ontsag vir ‘n heilige God oor alles wat Hy kom doen het. 
  • Opgewonde sal wees oor die lewe.
  • God sal verheerlik deur hulle lewens. Dat hulle met brandend harte passievol verder sal gaan vertel wat Jesus kom doen het - soos Cleopas en sy vrou. Dit het daartoe gelei dat dieselfde vuur in miljoene mense hulle harte verwarm en brand gesteek is, sodat ook hulle met brandende harte en met ‘awe en wonder’ kon lewe!

Amen

Druk op die link as jy na die preek wil luister!
https://drive.google.com/file/d/1qp4az0vU27oEkNo1_0_yVpSXSpnl5KgV/view?usp=sharing

Sondag, 13 Januarie 2019 09:00

DIEPER 2019: Brandende Hart

Geskryf deur

Sondag 13 Januarie 2019

“Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.” Kol 3: 11

Eros se Visie teks is Kol 3:11 “Alles in . . . en . . . in Alles”, met ander woorde om nie halfpad of halfhartig te werk te gaan nie. Nou die vraag: Vir wat?

Luister na die volgende tekste:

Ons lees in Matteus 22:37, “Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het” (Die Boodskap). Dus moet jy liefhê met jou hele hart (passie), siel (intelligensie) en al jou krag (energie)”.

Mat 22: 37 -40 “37Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhe soos jouself. 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat."

“Never be lacking in zeal, keep the fire burning (bly geesdriftig) in your life” Rom 12:11.

“Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.” Rom 12:11

“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” Kol 3:23

Die hart of “psyche” is God se lewensasem, Sy wind wat Hy inblaas.

Vergelyk Gen 2 + Joh 20 waar die wind vuur aanblaas. Dis ’n vuur wat in jou psyche brand, wat dit laat warm brand, passievol. Dit is wat met die 2 mense op pad na Emmaus gebeur. Hulle vlug na ’n plek soos Sun City, dus is dit ontvlugting na Jesus se kruisiging.

Hulle het hulle verslaentheid – “ons het so gehoop . . .” – daar met mekaar gedeel. Skielik sluit Jesus by hulle aan. Hy luister hulle uit en vra vrae, waarop hulle heftig en ontsteld reageer. Hy begin praat en die Skrifte uitlê. By Emmaus aangekom nooi hulle Hom na hulle huis toe. Daar neem Hy die brood en toe Hy dit breek gaan hulle oë oop en herken hulle vir Jesus, net om te sien hoe Hy weer net so voor hulle oë verdwyn. Hulle was so verbaas en begin nadink. Hulle sê toe vir mekaar “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” Luk 24:32

Wat is ’n Brandende hart? Dis ‘n hart wat warm is van passie en energie. Wat opgewonde klop en bons. Dink aan Eros se logo vir 2019 met die hart op.

Het jy ’n brandende hart? Oor die lewe, jou lewe, jou God? Oor enigiets?

Daar was seker al tye wat jou hart warm geklop het en oomblikke wat jy regtig ‘n brandende hart gehad het, maar oor tyd het dit verflou en lou geraak. Selfs begin smeul en koud geword. Ons lees in Openbaring 3:15  “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.”

Hoekom? Want ‘Life happens’! Jy word gekonfronteer en met moeilikhede, uitdagings, krisisse, probleme, terugslae, teenkantings, onreg, siekte, dood, spanning, angs, vrees, bekommernis, twyfel, hartseer in jou lewe getref. Jou hart het gebreek, die vlam in jou  huwelik het geblus, jou werk, sport. . .” en nog vele meer. Dan moet jy hoor wat Paulus vir die jonge Timoteus sê “. . . soos ‘n vuur moet jy weer aanblaas” 2 Tim 1:6.

 6Om hierdie rede herineer ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas”. 2 Tim 1:6

Hoe blaas jy weer die vuur in jou hart aan? Hoe kry jy jou hart weer bonsend opgewonde? Hoe kry jy weer ’n opwindende hart vol passie en energie van binne af?

Die twee Emmausgangers se verhaal help ons hiermee as Jesus by hulle aansluit en na hulle luister. Verder deur met hulle te gesels en vrae te vrae. Hulle reaksie is ontsteltenis omdat Hy dan nie weet nie. Dan wanneer Jesus die Skrifte vir hulle uit lê, speel daar 3 bewegings in die verhaal af:

  1. Jesus neem hulle DIEPER met hulle lewens en in hulle geloof in Hom.
  2. Hy bring hulle NADER aan Hom “. . . vertel My . . .” en mekaar. Heel moontlik was die twee Emmausgangers Cleopas en sy vrou gewees. Nadat hulle Jesus herken, word hulle verhouding intiemer asof hulle nou ‘n eie en nuwe geloofsgemeenskap word  “ . . . waar twee of drie in My naam is, is ek daar, by hulle” Mat 18:20.
  3. Hulle gaan vêrder, wyer. Hulle gaan terug na die plek waar hulle harte gebreek het, waar hulle hoop verflou het en hulle geloof geblus is. Nou met opwinding, energie en passie vanweë die hart wat nou brand gesteek is en weer aangeblaas is deur die asem van ‘n Lewende Opgestane Jesus!

Hierdie is juis die 3 termyn temas waarna ons in die jaar gaan kyk, naamlik DIEPER, NADER, VERDER /WYER.

Ons gaan die eerste termyn na dieper kyk en spesifiek dieper met God en dieper met jou geloof in God.

Hoe gaan jy dieper?

Eerstens: Jy kan dit nie doen nie. Dis nie jy wat die besluit neem en dan bloot dieper gaan nie. Dit begin by God. Dis Hy wat dieper met jou gaan. God vind jou en vat jou dieper. Dis nie WAT jy doen nie, maar wat aan jou gedoen word. ’n Mens sou sê God is soos die “flippers” van ’n diepseeduiker wat hom dieper die see-invat. Hy vat jou dieper. Jy moet net oop wees daarvoor. Jy moet daarna vra en verlang. Daar moet ‘n begeerte en wens wees om dieper met Hom en in jou geloof te gaan.

Tweedens: Jy moet die regte motivering hê. Jy moenie dieper wil gaan om iets daardeur van God af te kry dus geseën en beloon te word nie. Jy moet dieper wil gaan om daardeur iets en iemand te word.

Derdens: Jou hart moet brand. Die eerste twee kan net gebeur as jou hart brand. Dis ook net die Gees wat dit aansteek. Dis ook net die Gees wat dit weer kan laat brand as die vuur verflou het. Dis net Hy wat weer die vuur aanblaas.

Soos met Cleopas en sy vrou:  hulle harte het warm geword en vlam gevat omdat hulle ‘n ontmoeting – eintlik ‘n her-ontmoeting – met die Lewende Opgestane Jesus gehad het. As Jesus by hulle aansluit is hulle so ernstig besig om volgens Henry Nouwen sê “to mourn and grief their losses”.

Hulle was so ontsteld oor die historiese Jesus, oor wat gebeur het, oor wat hulle verloor het en hoe dit in die politiek en die ekonomie sou uitspeel, dat hulle verblind geraak het. Hulle het gekyk, maar nie gesien dis Jesus wat by hulle is nie. Dis wat verliese doen. Dit verblind jou en maak dat jy oppervlakkig lewe met ’n “gebrek aan begrip en traagheid van gees”. Jy verloor  jou onskuld, sekuriteit, jeugdigheid, skoonheid, ‘fame’, populariteit, mag, beheer, geld, besigheid, vriende . . . die dood, droom . . . pyn en seer -  “ons het so gehoop . . . ”.

Wat doen Jesus? Hy luister aandagtig en simpatiek. Hy begin die Ou Testamentiese profesieë uitlê. Dit maak toe eintlik alreeds hulle harte warm, maar die hartseer was dat hulle so verblind en verhard was oor die gebeure en verliese dat hulle dit nie eens gevoel het nie. Eers na die tyd word hulle daaraan deur die Gees herinner toe hulle Jesus herken. Toe eers kom hulle in ‘touch’ met hulle innerlike en hulle emosies. Eers toe voel hulle die vlam wat al ’n tydjie lank in hulle hart brand. Om dieper met God te gaan is om te begin met ‘n brandende hart.

Hoe kry jy ’n brandende hart? Jy ontmoet Jesus Christus. Tog ken die meeste Hom. Ten minste almal hier teenwoordig ken Hom en het Hom dalk iewers persoonlik ontmoet. Ons het dus nodig om Hom te her-ontdek, want ons kan so blasé raak oor God dat die “ou nuus” ons nie meer opgewonde maak nie. Dat die Evangelie jou nie meer roer en met dankbaarheid vul nie. Dat dit jou nie meer bly maak dat jy een uit die 7 biljoen mense is wat die ware, lewendige, inwonende ongelooflike God ken nie. Dié God wat volgens die digters, skrywers, profete en priesters deur al die eeue heen sê “barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde” dus met ’n sagte hart. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien! So vêr as die ooste van die weste af is, so vêr verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” PS 103:8-13

Jesus is lewendig. Hy het uit die dood opgestaan. Hy gaan diep in die lewens in van die wat Hom aanvaar, wat oop is vir Hom en hul lewe en harte vir Hom oopmaak. Hy het reeds oor eeue heen mense se lewens omgedraai, nuut gemaak, verander en anders laat lewe, Hy het hulle gedrag, gewoontes, woorde, ingesteldheid, houding, ens. kom verander. Die Bybel noem dit bekering.

Maar wat is bekering regtig? Die Ou Testamentiese woord beteken: omkeer en terugkeer. Jy los waarmee jy besig is, draai om en loop weg daarvan. Jy loop na iets toe en neem ’n nuwe taak aan. Jy kry dan nuwe insig van God en van alles wat Hy in jou kom doen het en in jou gemaak het. Alles word nuut en vry, alles word vergewe en jy word ’n versoenende kind van God. Dis Hy wat jou hele lewe nuut maak en jou gedrag en gewoontes verander. Kyk na die bekering van Paulus: hy ry op sy perd.

Nou onthou ‘n perd is ’n teken van mag, krag, sterkte, status en identiteit, maar Paulus val van sy perd, sy troon af:  “Toe hy op die grond val, het hy gehoor dat Iemand sê: “Saul, Saul, hoekom doen jy hierdie slegte dinge aan My?” Hand 9:4. Maar hoor die hele gedeelte: “Naby Damaskus is Saulus skielik deur ’n skerp lig uit die hemel verblind. Hy het baie groot geskrik toe hy die lig sien en het soos ’n dooie op die grond neergeval. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?” “Sê asseblief vir my wie U is, Here,” het hy benoud gevra. “Dit is Ek, Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Staan nou op en gaan Damaskus toe. Daar sal jy hoor wat jy moet doen,” het Jesus geantwoord.” Hand 9:3-6.

Iets val net as dit swaar is. In Paulus se geval was sy lewe swaar en vol van dit wat hy in Filippense 3:3-7 beskryf, amper soos sy CV: “ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër”.

Fil. 3:3-7 “3Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseer, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. 7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter will van Christus.

Hy val as’t ware, “fell in love” en beskou dit wat eers belangrik en ‘n bate was as waardeloos. Hy val uit dit uit, hy verloor dit, maar val in die liefde en genade van God. Hy kry meer as ooit, meer as dit waarna hy sy hele lewe lank gesoek het.  Augustinus beskryf dit as “die hart van die mens bly onrustig totdat dit rus vind in God”.

Jy het ook ‘n perd. Die vraag is: op watter perd sit jy? Waarop maak jy staat en vertrou jy? Wat dryf n motiveer jou? Wat is jou motivering om God te dien? Om kerk toe te kom, om te bid, Bybel te lees, te glo?

Paulus val soos ‘n klip op die grond in die wonderbaarlike liefde, genade barmhartigheid, lankmoedigheid van Jesus in en dit verander sy hart. Toe steek God Sy liefdesvuur brand in sy hart en kry hy ‘n brandende hart deur sy motivering oor wie God is (Sy karakter).  Oor wat Jesus vir hom, Paulus, ‘n drek, ’n misgeboorte, die slegste van alle mense, kom doen het aan die kruis naamlik om hom te vergewe, hom vry te maak en hom met Homself te versoen.

Dit dryf en motiveer hom om beskikbaar te wees vir God. Om God se doel uit te leef naamlik dit wat in Genesis 1 staan asook die groot gebod van naaste liefhê en dien. Dit het ook met Cleopas en sy vrou gebeur in hulle hernude ontmoeting met Lewendige Opgestane Jesus. Hulle harte het brandend warm geword en hulle het teruggegaan na die plek waar hulle verliese gelê het, waar hulle seergekry het, terug na die plek wat hulle moedeloos gemaak het. Daarheen gaan hulle terug, maar nou as getuies met ‘n wonderlike boodskap. Die boodskap dat HY LEWE. Ons moet bewus word van Sy Lewendige teenwoordigheid en toelaat dat die asem en wind van Sy Gees die liefdesvlam in jou hart aanblaas. Hierdie ontmoeting en ontdekking van wie God is, Sy karakter, word die motivering om dieper te gaan met God in jou geloof.

Mag jy nes Paulus destyds, nou hier in 2019 bewus word van God se lewendige teenwoordigheid. Ek hoop jy her-ontmoet die opgestane Jesus soos Cleopas en sy vrou en dat jou hart warm sal word, omdat Hy dit brand gesteek het. Herontdek wie God in en deur Jesus se Gees is, sodat jy 2019 dieper met God kan gaan, dieper in jou liefde, dieper in jou verhoudings, dieper in jou dien en diens aan almal met wie jou paaie gaan kruis in die jaar. Mag jy die jaar dinge los, omdraai en wegloop van . . . .

Mag dit ‘n brandende, opwindende jaar wees waarin jy met passie en ‘n bonsende hart elke oggend wakker word, met ‘n doel uit die bed klim en die dag tegemoetgaan.

Met ’n BRANDENDE HART – IN ALLES . . .  ALLES IN – PASSIEVOL!

Amen

 

Preekopname

https://drive.google.com/file/d/1sA2mbj2NqGjjziVQ0291yCM7YFiExasd/view?usp=sharing

Sondag: 2 Desember 2018

Teks : Matt 2:1-12

1Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”
3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe: 6“En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees." 7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”
9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Mark 13:32-37
32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

 

Wat sien u op die verhoog? ’n Kersboom, ’n krip met die baba, sterre op die kruis, ens. Alles handel oor die geboorte van Jesus, van hoe Hy in die wêreld ingekom het. Dan weet ons ook dat die boom alreeds ‘n heenwysing is na Sy sterfte. Tog is die winkels met versierings opgemaak en oral speel Kersliedere. Mense doen groot inkopies en terwyl ander alreeds met vakansie is. Almal berei voor vir Kersfees. Die doel is dat ons die geboorte van Jesus herdenk.

Dis interessant dat alles tydens Kersfees gaan oor die herdenking van wat in die verlede gebeur het en wat Jesus in die verlede gedoen het. Ons self kyk ook meeste van die tyd na Jesus se geboorte as ‘n historiese gebeurtenis met die besonderse verhaal van Jesus wat in ‘n stal gebore is. Ons kyk na Kersfees amper op dieselfde manier as wat ons na ons verjaarsdae kyk: ons herdenk ons geboortedag en met Kersfees herdenk ons die geboortedag van Jesus. Met ander woorde dis iets wat gister en eergister gebeur het. Dit voel vir my of die historiese aspekte daarvan ons heel verblind en so daarvan weerhou om vorentoe te kan kyk. Alles en ook Kersfees gaan vir ons mense oor ‘n terug kyk en nie ‘n vorentoe kyk nie. Dis waar ons die fout maak. Kersfees behoort ‘n vorentoe kyk te wees. Te veel mense vier Kersfees net met ‘n terugkyk en meeste mense bly net daar vasgehaak. Vir hulle gaan Kersfees net oor families. geskenke en ontspanning. Hoor mooi, dis belangrik om die eerste Kersfees te vier, maar as dit net daar bly, dan is dit tragies. Dit is daarom wat Mariah Carey sing: "All I want for Christmas is you." Dit gaan net oor die nou en wat ek nou wil hê en kan kry. In plaas daarvan om te sing: ”You’re all I want”. Dit gaan oor die hier en die nou en my onmiddellike behoeftes wat bevredig moet word. Selfs die winkels beklemtoon en bemark slegs die onmiddellike tydens die feestyd. Hulle sê: koop nou want dis afslag. Die klem val op al die Kersfees winskope.

Vir die Bybel gaan alles oor ‘n vorentoe kyk. Daarom praat die Bybel van wat ek noem ‘n tweede Kersfees. Die eerste Kersfees is belangrik, want ons herdenk die eerste koms van Jesus na die wêreld, maar die tweede Kersfees is wat tel, want die tweede Kersfees wil ons laat vorentoe kyk, die tweede Kersfees vertel ons dat Jesus weer gaan kom. Met die tweede Kersfees gaan alles verander, want daarmee kom ‘n geskenk wat geld nie kan koop nie. Die tweede Kersfees (die Bybel gebruik die woord: wederkoms) beteken Jesus kom weer. Dit was bevestig alreeds by Sy hemelvaart. In Handelinge 1:10-11 staan daar: “Terwyl Jesus weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere gestaan. Die sê toe vir hulle: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel opgeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel toe sien opgaan het”.

Die verskil met tweede Kersfees is dat hierdie keer kom Jesus nie as ‘n pap, hulpelose babatjie wat daar in ‘n krip lê nie, maar hierdie keer kom Hy terug as Koning en Regter. Die goeie nuus is dat wanneer Hy kom, dan bring Hy die grootste geskenk ooit, naamlik die Nuwe Hemel. Dis daardie plek wat Hy spesiaal vir ons voorberei het, ‘n plek waar daar geen siekte, pyn en lyding sal wees nie. Dit is die ultimate, dit is daardie plek waar daar algehele vrede sal wees. Dit is die plek met ‘n lewe van oorvloed. Daarom moet ons eintlik leef vir die tweede Kersfees. Die goeie nuus is dat die tweede Kersfees aan die kom is. En die boodskap van die tweede Kersfees is dat dit wat ons op aarde gedoen het, nie niksseggend is nie. Al die armes wat jy gehelp het, die mense wat jy opgetel en bemoedig het, al jou goeie dade, jou dien van die Here in alle omstandighede heen, is nie verniet nie. Tweede Kersfees sê dat jy dan vir al jou goeie dade beloon sal word, beloon met die hemel en dit breek aan wanneer Jesus weer kom. Die tweede Kersfees gaan ‘n fees met groter vreugde wees. Daarom die oproep: Kom ons leef vandag op die eerste Advent met alles wat ons het. Kom ons leef vir die tweede Kersfees. Dis met die tweede Kersfees in gedagte dat die Bybel sê ons moenie ophou om goed te doen nie. Jou belonging wag vir jou op die tweede Kersfees wanneer Jesus weer terugkom met jou beloning, naamlik die Hemel die plek waar jy by God kan wees, daardie plek met die goue strate.

Natuurlik vriende, gaan die tweede Kersfees vir sommige net een bitter-fees wees, ‘n fees van trane en smart, van tande kners en vrees. Dit is die mense wat God nie liefgehad het nie, wat Hom nie met hart, siel en liggaam gedien het nie. Wat Hom verwerp het. Met die tweede Kersfees breek die hel (die plek van Godverlatenheid) aan vir ander.
Die Bybel sê die tweede Kersfees het egter nie ‘n datum en tyd en seisoen nie, d.w.s. dis anders as die eerste Kersfees waar daar ‘n dag, maand en datum en plek was. Die tweede Kersfees weet niemand watter dag, tyd, maand, jaar en plek dit sal wees nie. Inteendeel, die enigste aanduiding van tyd wat ons het, is dat dit onverwags sal wees, soos ‘n dief in die nag, wanneer ons dit die minste sal verwag. Daarom is die voorbereiding belangrik. Ons moet eintlik sê dat die voorbereidingstyd eintlik aangebreek toe Jesus opgevaar het na die hemel toe. Ons leef nou in voorbereidingstyd. Vanweë die feit dat ons nie die tyd, uur, jaar en plek van die tweede Kersfees ken nie en omdat dit enige tyd mag plaasvind, is dit so belangrik om voorbereid te wees. Daarom moet ons wegbeweeg van die nou af, weg van terugkyk na vorentoe kyk. Ons moet leef vir die tweede Kersfees. Al ons energie moet daarin gaan. Dit is die moeite werd om vir die tweede Kersfees voor te berei. Die tyd waarin ons nou is, is egter ‘n aktiewe wagtydperk waar ons gereedmaak en voorberei soos vir ‘n groot wedloop. Dis ’n tyd waar ons voorberei vir die tweede Kersfees wat op pad is. So elke viering van die eerste Kersfees moet eintlik ‘n "wake up call" wees wat uitroep: Is jy gereed, is jy wakker vir die tweede Kersfees?

Hoe berei n mens voor vir die tweede Kersfees? Slegs op twee maniere:
1. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand. Dit beteken om Jesus aan te neem as Saligmaker en Verlosser. Om God te dien en so Sy getuie te wees. Om ander na Jesus te lei deur Sy Gees tot bekering.
2. Jy moet jou naaste lief hê soos jouself. Dit beteken om jouself en van jouself te gee inplaas daarvan om net te ontvang nie. Soos Jesus Homself gegee het vir ander.
• Gee van jou besittings met hulle wat nie het nie.
• Gee jou tyd vir mense wat emosioneel stukkend is.
• Gee jou talente vir hulle wat nie weet hoe om verder te gaan nie.

So kom ons vier Kersfees, maar met ‘n fokus op die toekoms, op die tweede Kersfees, die wederkoms. Is jy gereed? Is jy voorbereid?

Amen

 

'n Opname van die preek kan verkry word by hierdie adres: 

https://drive.google.com/file/d/1wIoaA4bY31lYghjmGLgvmSG3qsye35aA/view?usp=sharing

 

Holy Night

https://drive.google.com/file/d/1eb-ofn79R3nyKjabvkeOWLaSY4-mjME-/view?usp=sharing 

 

Sondag, 25 November 2018 09:00

HOU UIT 2018: Lewende Hoop

Geskryf deur

Sondag 25 November 2018

 

1 Pet 1: 3-9, 18-21 

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.”

Paulus skryf hier aan mense wat geweldig swaar gekry het onder allerhande vervolgings en martelings in die ergste vorme. In ’n poging om vir hulle hoop te gee, bied hy praktiese en werklike hulpmiddels van hoop. Hy hou hulle dus nie besig met abstrakthede en teologieë nie. Hulle het met hulle optrede die wêreld verstom, omdat hulle alles wat met hulle gebeur het, selfs erge lyding en marteldood met vreugde hanteer het. Dis merkwaardig dat dit niks aan hulle gedoen het nie, naamlik dat daar by hulle ’n gebrek was aan vrees, hysteria, trane en ’n geskreeu en dat hulle alles met styl hanteer het.  Hulle stylvolle optrede was die grootste getuienis vir die skare dat hulle die ergste pyn en marteling ondergaan het, maar dit kon uitstaan ter wille van hulle geloof. Dit het mense tot geloof laat kom.

Wat is dit wat Paulus vir hulle gee?

Ons hoor nie deesdae meer baie preke oor die hemel nie. Dit mag dalk vreemd wees, siende dat elke Christen wil hemel toe gaan om vir ewig met die Here te wees, maar tog wil niemand fisies doodgaan nie. Die belofte van die hemel is die kern van die Evangelie wat ons preek, soos in die teksvers 1 Petrus 3:9 “het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is”. Tog sê die Bybel nie baie oor hoe die hemel is nie. Jesus het nooit gaan sit en aan sy dissipels die roemrykheid en majesteit van die hemel verduidelik nie. Hy het vir die dief aan die kruis gesê, “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees,” maar Hy het nie gesê hoe dit sal wees nie. Wanneer die apostel Paulus na die hemel verwys, sê hy dat ons in die paradys opgeneem sal word. Hy sê dat hy dinge daar gesien en gehoor het wat hom so oorbluf het, dat hy dit in geen taal kon beskryf nie. ‘n Mens kry die idee van Paulus sy beskrywing dat, selfs al kon hy beskryf wat hy gesien het, ons menslike verstand dit nie kan verstaan nie. Wat Paulus ook al in die hemel gesien het, het so ’n indruk op hom gemaak dat hy vir die res van sy lewe daarna verlang het om daar te wees en dat die hemel hom gehelp het om die moeilikste, hardste, onregverdigste, ergste dinge (lyding, siekte, finansiële nood, egskeiding, dood, werkloos ens.) in die gesig te staar en dit deur te gaan. 

Hoe help die hemel jou met al hierdie dinge?  Hoe help die hemel jou op aarde?

Eerstens as jy iemand aan die dood afstaan – kry mens soms ’n totaal nuwe perspektief en uitkyk op die lewe. Maar ook op die hemel deurdat dit ’n werklikheid is, dat dit waar is en ’n realiteit is dat jy met die afgestorwene verenig gaan word. Dit verander jou lewe, met hoe jy lewe asook hoe jy die dood hanteer.  Dit verander jou geheel en al.

In 2 Pet. 3:13 lees ons “Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

’n Pa wat sy kind aan dood verloor het, skryf vir my: “Ek het die dood nie verstaan nie. Ek besef egter nou dat die dood eintlik baie mooi ook kan wees, nie net sleg nie. Ja, vir ons wat agterbly, is dit nie lekker nie, maar vir my kind wat ons vooruitgegaan het, is dit die beste gebeurtenis in haar lewe. Dit is die einde van dit wat ons ken op aarde, maar die geboorte van ’n nuwe lewe, die ewige lewe. Hier huil ons omdat sy dood is, in die hemel jubel hulle omdat sy nuut gebore is.”

Tweedens leer ons in 1 Petrus 1:3 hoe die hemel ons help om enige sleg ding te hanteer. Paulus sê dat hoe jy nou optree en reageer as gevolg van wat in die hede met jou gebeur het en waarin jy jou nou bevind, hang totaal en al af van hoe en wat jy oor jou toekoms glo en hoop. Mense kan hulle in presies dieselfde situasies bevind en nog steeds op totaal verskillende wyses optree. Hoekom? Oor dit waarop hulle hoop in die toekoms en dit bepaal jou reaksie. By voorbeeld een ou werk vir N$ 30 000 en die ander ou doen presies dieselfde werk, maar vir 30 miljoen. Nou watteer een van die twee gaan nie tou opgooi nie?

Paulus gee hulle ‘n prentjie van die hemel

Jesus, het ons ‘n nuwe lewe geskenk. Nikodemus hoor dat hy deur die opstanding van Jesus, nuutgebore is. En dat Jesus Christus aan die regterhand van God in die hemel gaan sit het, vanwaar Christus se Gees vanuit die hemel op mense uitgestort is. Sodoende het hulle iets van die hemel in hulle lewens ontvang naamlik ’n lewende hoop. Met ander woorde ‘n erfenis wat in die hemel vir jou in bewaring gehou word totdat jy sterf en jy dit in die hemel erf. Die opstanding van Jesus word beskryf in die Bybel as die eerste vrugte, eerste gawe of die eerste paaiement van die nuwe hemel en die nuwe aarde, want met die koms, die sterwe en die opstanding van Jesus kom maak Hy alles nuut: Ons lees van die nuwe gebod in Johannes 13:34, van die nuwe verbond in Hebreërs 8:13 en die nuwe beker in 1 Korintiërs 11:25. Paulus sê dat die regte siening, uitkyk of lens waarmee ons na die hemel kyk (die toekoms en alles waarop jy hoop) jou help om alles waarmee jy in die lewe te doen kry (die seer, moeilikheid, swaar, pyn, onreg, sukkel, sweet) help jou om dit alles te hanteer. En dus nie moedeloos te word, op te gee of toe te laat om negatief, pessimisties, teleurgesteld, sinies en ongelowig te word nie.

Hoe? Jy moet die hemel reg verstaan, reg sien, en reg daaroor dink. Die hemel gaan hier wees. Die Bybel praat van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Dus die herstel daarvan soos dit veronderstel was om te wees naamlik perfek geskep en met geen droogtes, aardbewings, klimaatverwarming, orkane, tornados, tsunamis, tropiese storms, oorstromings, besoedeling ens. nie. Ons gaan mekaar herken en selfs saameet -  Jesus in Johannes 20 eet vis saam met Petrus.

Wat daar nie in die hemel gaan wees – Daar gaan geen:

Horlosies: Tyd, oudword, grysword, stres wees nie.

Drup/Pille: Pyn, siektes, epidemies, kankersoorte.

Sneesdoekies: Dood, trane, seer, leed, smart.

Sonde: haat, woede, oorlog, rusie, konflik, misverstande, rugstekery, diefstal, moord, leuens, bedrog – geen vrees, bekommernis, begeertes

Duiwel: geen boosheid, versoekings en verleidings nie.

Ons lees in Openbaring 21:1-4 “Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Nuwe gaan kom in terme van:

Woonplek: Tuiste en huis – volkome vrede en vreugde

Verhoudings – herstel, heel, gelukkige: Families

Liefde

Liggame

Lewe – nuwe jy – volkome versadig, vervuld, tevrede, vergenoegd

Jou diepste begeertes en verlange bevredig – soos vrou Johannes 4 – lewende water – sal nooit weer dors kry nie.

Open 21: 5 sê “Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.”

Jesus is die lewende water, wat geheel en al, in totaliteit bevredig. Dit beteken dat Hy in jou lewe opstaan en jou bekeer. Hy sterf nie ’n tweede keer nie, maar staan uit die dood van jou ou lewe op en maak dit nuut: 2 Korintiërs 5:17 beskryf dit: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Gal 6:15 sê “Of 'n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy 'n nuwe mens is”. Jesus Christus maak jou nuut. Dan lewe jy as ‘n nuwe mens wat nuut en anders lewe omdat die opstanding van Jesus in jou lewe lewende hoop bring. Hoop op die toekoms, want onthou ons het gesê dat hoe jy nou optree en reageer op jou huidige omstandighede absoluut sal afhang van hoe en wat jy oor die toekoms – jou toekoms - glo. Die lewende hoop kom wanneer die Gees van Jesus Christus die nuwe van die hemel af in die hede in bring, daar waar jy is. Dit word soos ‘n bril waardeur jy na môre en die toekoms kyk.

Die nuwe gaan kom in die omstandighede van waar jy jou nou bevind. Die nuwe kom terwyl jy in die sleg, seer, swaarkry plekke verkeer, want die hoop is nou meer as net gewone optimisme (wat glo dinge gaan verbeter en beter word). Dis die geloof dat dit geheel en al anders gaan word, nuut gaan wees.

 Hoop word dan ook meer as wat dit was. Dit gaan dan verder as ideologieë, teorieë, abstrakthede en word dit ‘n werklikheid. Dit word ‘n realiteit in ‘n persoon wat dit van binne jou moontlik maak om te glo dat daar uit ‘n dor, droë stomp, ‘n takkie sal spruit (Jesaja 11) en die Here sê vir Jesaja (43:19) “Kyk Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom”. ‘n Takkie van hoop as gevolg van lewende hoop in jou en waardeur jy kyk en dink. Soos ‘n vrou in kraam wat die geboorte van ’n nuwe kind voor oë hou.

Rom 8:18, 22-28 “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Op die hoogtes (goed, reg) van die lewe groei jy nie, dit is net in die valleie (verkeerd, sleg, seer) waar jy groei en nuut word. Dit beteken prakties dat jy sal glo wat ook al die omstandighede en situasie is waarin jy jou bevind – dat die NUWE gaan kom: Nuwe plek, werk, liefde, verhoudings, maat, moontlikhede, geleenthede, kanse, uitdagings, nuwe jy kragtens nuwe gedrag, gewoontes, sienings, opinies en ingesteldheid. Want lewende hoop glo dat al is dinge gebreek, stukkend, uitmekaar, deurmekaar, vuil, besoedel, stink, oud, in onbruik, onvanpas dit weer heel sal word, sal herstel, weer sal werk, skoon, suiwer, vars, weer gebruik/in werking, van pas sal word. Dan sien jy dat lewende hoop as gevolg van opstanding jou ‘n nuwe prentjie gee van die nuwe in die toekoms, want alles wat jy glo van môre impakteer jou in die hier en nou – hetsy positief of negatief. En ek glo en lewe met die verwagting veral in moeilike, swaar, sleg, seer, verwarde en moeilike tye of situasies as gevolg van die lewende hoop dat God na aanleiding van Jakobus 1:16-18 sê hoop:

  • Is Liefde - soos by die doop waar God sê Ek sal jou God wees en bly.
  • Is Goedheid – God sal dit ten goede laat meewerk, sal dit transformer, sal my weer vreugde en blydskap laat ervaar – Ps 51:41 “Hy sal my my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is” en in Job 8:21 “Hy sal jou weer vreugde gee, jou van blydskap laat jubel.”
  • Is genade – dis vergifnis, vryspraak, versoening.

As jy hierdie dinge glo sal jy enige iets kan trotseer, hanteer, deurgaan, uithou, aanhou, volhou, want die moed-hou kom van die lewende hoop wat glo dat God alles wat mooi en goed is, vir my wil hê dus die beste vir my wil hê. Daarom vertrou ek God. Dis die prentjie van môre wat nou vandag in my kop is midde van al die ‘tough’ en ‘bad’ en ‘sad’.

 

Die voorbeeld van ’n lappieskombers word voorgehou. Dis baie mooi aan die bokant maar die onder of agterkant is lelik, deurmekaar en niks maak sin nie. God maak die lappieskombers in die hemel en ons is op aarde die onderkant. Dit is hoekom ons worstel met die sin en doel van alles wat in ons lewens gebeur en worstel met vrae soos waarom en hoekom. Maar lewende hoop sien en glo die mooi bokant waar God ‘n ongeëwenaarde meesterstuk van jou lewe maak. Die dag as jy hemel toe gaan sal jy uiteindelik die bokant van die lappieskombers van jou lewe sien. Intussen lewe jy met ’n lewende geloof in die ry...

'n Opname van die preek kan verkry word by hierdie adres: 

https://drive.google.com/file/d/11MtBhnNo2ZGeqjYkC0HgrJRIEzzaiDNT/view?usp=sharing

 

Bladsy 4 van 11

Groei

Materiaal vir groei & Bybelstudie

Lees meer

Gemeenskap

Reik uit na die gemeenskap

Lees meer

Koinonia

Interaksie tussen gemeentelede

Lees meer

Kalender

Bly op hoogte van al ons gebeure

Lees meer