NG Kerk Eros Preke
Sondag, 13 Januarie 2019 09:00

DIEPER 2019: Brandende Hart

Geskryf deur

Sondag 13 Januarie 2019

“Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.” Kol 3: 11

Eros se Visie teks is Kol 3:11 “Alles in . . . en . . . in Alles”, met ander woorde om nie halfpad of halfhartig te werk te gaan nie. Nou die vraag: Vir wat?

Luister na die volgende tekste:

Ons lees in Matteus 22:37, “Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het” (Die Boodskap). Dus moet jy liefhê met jou hele hart (passie), siel (intelligensie) en al jou krag (energie)”.

Mat 22: 37 -40 “37Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhe soos jouself. 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat."

“Never be lacking in zeal, keep the fire burning (bly geesdriftig) in your life” Rom 12:11.

“Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.” Rom 12:11

“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” Kol 3:23

Die hart of “psyche” is God se lewensasem, Sy wind wat Hy inblaas.

Vergelyk Gen 2 + Joh 20 waar die wind vuur aanblaas. Dis ’n vuur wat in jou psyche brand, wat dit laat warm brand, passievol. Dit is wat met die 2 mense op pad na Emmaus gebeur. Hulle vlug na ’n plek soos Sun City, dus is dit ontvlugting na Jesus se kruisiging.

Hulle het hulle verslaentheid – “ons het so gehoop . . .” – daar met mekaar gedeel. Skielik sluit Jesus by hulle aan. Hy luister hulle uit en vra vrae, waarop hulle heftig en ontsteld reageer. Hy begin praat en die Skrifte uitlê. By Emmaus aangekom nooi hulle Hom na hulle huis toe. Daar neem Hy die brood en toe Hy dit breek gaan hulle oë oop en herken hulle vir Jesus, net om te sien hoe Hy weer net so voor hulle oë verdwyn. Hulle was so verbaas en begin nadink. Hulle sê toe vir mekaar “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” Luk 24:32

Wat is ’n Brandende hart? Dis ‘n hart wat warm is van passie en energie. Wat opgewonde klop en bons. Dink aan Eros se logo vir 2019 met die hart op.

Het jy ’n brandende hart? Oor die lewe, jou lewe, jou God? Oor enigiets?

Daar was seker al tye wat jou hart warm geklop het en oomblikke wat jy regtig ‘n brandende hart gehad het, maar oor tyd het dit verflou en lou geraak. Selfs begin smeul en koud geword. Ons lees in Openbaring 3:15  “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.”

Hoekom? Want ‘Life happens’! Jy word gekonfronteer en met moeilikhede, uitdagings, krisisse, probleme, terugslae, teenkantings, onreg, siekte, dood, spanning, angs, vrees, bekommernis, twyfel, hartseer in jou lewe getref. Jou hart het gebreek, die vlam in jou  huwelik het geblus, jou werk, sport. . .” en nog vele meer. Dan moet jy hoor wat Paulus vir die jonge Timoteus sê “. . . soos ‘n vuur moet jy weer aanblaas” 2 Tim 1:6.

 6Om hierdie rede herineer ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas”. 2 Tim 1:6

Hoe blaas jy weer die vuur in jou hart aan? Hoe kry jy jou hart weer bonsend opgewonde? Hoe kry jy weer ’n opwindende hart vol passie en energie van binne af?

Die twee Emmausgangers se verhaal help ons hiermee as Jesus by hulle aansluit en na hulle luister. Verder deur met hulle te gesels en vrae te vrae. Hulle reaksie is ontsteltenis omdat Hy dan nie weet nie. Dan wanneer Jesus die Skrifte vir hulle uit lê, speel daar 3 bewegings in die verhaal af:

  1. Jesus neem hulle DIEPER met hulle lewens en in hulle geloof in Hom.
  2. Hy bring hulle NADER aan Hom “. . . vertel My . . .” en mekaar. Heel moontlik was die twee Emmausgangers Cleopas en sy vrou gewees. Nadat hulle Jesus herken, word hulle verhouding intiemer asof hulle nou ‘n eie en nuwe geloofsgemeenskap word  “ . . . waar twee of drie in My naam is, is ek daar, by hulle” Mat 18:20.
  3. Hulle gaan vêrder, wyer. Hulle gaan terug na die plek waar hulle harte gebreek het, waar hulle hoop verflou het en hulle geloof geblus is. Nou met opwinding, energie en passie vanweë die hart wat nou brand gesteek is en weer aangeblaas is deur die asem van ‘n Lewende Opgestane Jesus!

Hierdie is juis die 3 termyn temas waarna ons in die jaar gaan kyk, naamlik DIEPER, NADER, VERDER /WYER.

Ons gaan die eerste termyn na dieper kyk en spesifiek dieper met God en dieper met jou geloof in God.

Hoe gaan jy dieper?

Eerstens: Jy kan dit nie doen nie. Dis nie jy wat die besluit neem en dan bloot dieper gaan nie. Dit begin by God. Dis Hy wat dieper met jou gaan. God vind jou en vat jou dieper. Dis nie WAT jy doen nie, maar wat aan jou gedoen word. ’n Mens sou sê God is soos die “flippers” van ’n diepseeduiker wat hom dieper die see-invat. Hy vat jou dieper. Jy moet net oop wees daarvoor. Jy moet daarna vra en verlang. Daar moet ‘n begeerte en wens wees om dieper met Hom en in jou geloof te gaan.

Tweedens: Jy moet die regte motivering hê. Jy moenie dieper wil gaan om iets daardeur van God af te kry dus geseën en beloon te word nie. Jy moet dieper wil gaan om daardeur iets en iemand te word.

Derdens: Jou hart moet brand. Die eerste twee kan net gebeur as jou hart brand. Dis ook net die Gees wat dit aansteek. Dis ook net die Gees wat dit weer kan laat brand as die vuur verflou het. Dis net Hy wat weer die vuur aanblaas.

Soos met Cleopas en sy vrou:  hulle harte het warm geword en vlam gevat omdat hulle ‘n ontmoeting – eintlik ‘n her-ontmoeting – met die Lewende Opgestane Jesus gehad het. As Jesus by hulle aansluit is hulle so ernstig besig om volgens Henry Nouwen sê “to mourn and grief their losses”.

Hulle was so ontsteld oor die historiese Jesus, oor wat gebeur het, oor wat hulle verloor het en hoe dit in die politiek en die ekonomie sou uitspeel, dat hulle verblind geraak het. Hulle het gekyk, maar nie gesien dis Jesus wat by hulle is nie. Dis wat verliese doen. Dit verblind jou en maak dat jy oppervlakkig lewe met ’n “gebrek aan begrip en traagheid van gees”. Jy verloor  jou onskuld, sekuriteit, jeugdigheid, skoonheid, ‘fame’, populariteit, mag, beheer, geld, besigheid, vriende . . . die dood, droom . . . pyn en seer -  “ons het so gehoop . . . ”.

Wat doen Jesus? Hy luister aandagtig en simpatiek. Hy begin die Ou Testamentiese profesieë uitlê. Dit maak toe eintlik alreeds hulle harte warm, maar die hartseer was dat hulle so verblind en verhard was oor die gebeure en verliese dat hulle dit nie eens gevoel het nie. Eers na die tyd word hulle daaraan deur die Gees herinner toe hulle Jesus herken. Toe eers kom hulle in ‘touch’ met hulle innerlike en hulle emosies. Eers toe voel hulle die vlam wat al ’n tydjie lank in hulle hart brand. Om dieper met God te gaan is om te begin met ‘n brandende hart.

Hoe kry jy ’n brandende hart? Jy ontmoet Jesus Christus. Tog ken die meeste Hom. Ten minste almal hier teenwoordig ken Hom en het Hom dalk iewers persoonlik ontmoet. Ons het dus nodig om Hom te her-ontdek, want ons kan so blasé raak oor God dat die “ou nuus” ons nie meer opgewonde maak nie. Dat die Evangelie jou nie meer roer en met dankbaarheid vul nie. Dat dit jou nie meer bly maak dat jy een uit die 7 biljoen mense is wat die ware, lewendige, inwonende ongelooflike God ken nie. Dié God wat volgens die digters, skrywers, profete en priesters deur al die eeue heen sê “barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde” dus met ’n sagte hart. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien! So vêr as die ooste van die weste af is, so vêr verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” PS 103:8-13

Jesus is lewendig. Hy het uit die dood opgestaan. Hy gaan diep in die lewens in van die wat Hom aanvaar, wat oop is vir Hom en hul lewe en harte vir Hom oopmaak. Hy het reeds oor eeue heen mense se lewens omgedraai, nuut gemaak, verander en anders laat lewe, Hy het hulle gedrag, gewoontes, woorde, ingesteldheid, houding, ens. kom verander. Die Bybel noem dit bekering.

Maar wat is bekering regtig? Die Ou Testamentiese woord beteken: omkeer en terugkeer. Jy los waarmee jy besig is, draai om en loop weg daarvan. Jy loop na iets toe en neem ’n nuwe taak aan. Jy kry dan nuwe insig van God en van alles wat Hy in jou kom doen het en in jou gemaak het. Alles word nuut en vry, alles word vergewe en jy word ’n versoenende kind van God. Dis Hy wat jou hele lewe nuut maak en jou gedrag en gewoontes verander. Kyk na die bekering van Paulus: hy ry op sy perd.

Nou onthou ‘n perd is ’n teken van mag, krag, sterkte, status en identiteit, maar Paulus val van sy perd, sy troon af:  “Toe hy op die grond val, het hy gehoor dat Iemand sê: “Saul, Saul, hoekom doen jy hierdie slegte dinge aan My?” Hand 9:4. Maar hoor die hele gedeelte: “Naby Damaskus is Saulus skielik deur ’n skerp lig uit die hemel verblind. Hy het baie groot geskrik toe hy die lig sien en het soos ’n dooie op die grond neergeval. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?” “Sê asseblief vir my wie U is, Here,” het hy benoud gevra. “Dit is Ek, Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Staan nou op en gaan Damaskus toe. Daar sal jy hoor wat jy moet doen,” het Jesus geantwoord.” Hand 9:3-6.

Iets val net as dit swaar is. In Paulus se geval was sy lewe swaar en vol van dit wat hy in Filippense 3:3-7 beskryf, amper soos sy CV: “ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër”.

Fil. 3:3-7 “3Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseer, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. 7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter will van Christus.

Hy val as’t ware, “fell in love” en beskou dit wat eers belangrik en ‘n bate was as waardeloos. Hy val uit dit uit, hy verloor dit, maar val in die liefde en genade van God. Hy kry meer as ooit, meer as dit waarna hy sy hele lewe lank gesoek het.  Augustinus beskryf dit as “die hart van die mens bly onrustig totdat dit rus vind in God”.

Jy het ook ‘n perd. Die vraag is: op watter perd sit jy? Waarop maak jy staat en vertrou jy? Wat dryf n motiveer jou? Wat is jou motivering om God te dien? Om kerk toe te kom, om te bid, Bybel te lees, te glo?

Paulus val soos ‘n klip op die grond in die wonderbaarlike liefde, genade barmhartigheid, lankmoedigheid van Jesus in en dit verander sy hart. Toe steek God Sy liefdesvuur brand in sy hart en kry hy ‘n brandende hart deur sy motivering oor wie God is (Sy karakter).  Oor wat Jesus vir hom, Paulus, ‘n drek, ’n misgeboorte, die slegste van alle mense, kom doen het aan die kruis naamlik om hom te vergewe, hom vry te maak en hom met Homself te versoen.

Dit dryf en motiveer hom om beskikbaar te wees vir God. Om God se doel uit te leef naamlik dit wat in Genesis 1 staan asook die groot gebod van naaste liefhê en dien. Dit het ook met Cleopas en sy vrou gebeur in hulle hernude ontmoeting met Lewendige Opgestane Jesus. Hulle harte het brandend warm geword en hulle het teruggegaan na die plek waar hulle verliese gelê het, waar hulle seergekry het, terug na die plek wat hulle moedeloos gemaak het. Daarheen gaan hulle terug, maar nou as getuies met ‘n wonderlike boodskap. Die boodskap dat HY LEWE. Ons moet bewus word van Sy Lewendige teenwoordigheid en toelaat dat die asem en wind van Sy Gees die liefdesvlam in jou hart aanblaas. Hierdie ontmoeting en ontdekking van wie God is, Sy karakter, word die motivering om dieper te gaan met God in jou geloof.

Mag jy nes Paulus destyds, nou hier in 2019 bewus word van God se lewendige teenwoordigheid. Ek hoop jy her-ontmoet die opgestane Jesus soos Cleopas en sy vrou en dat jou hart warm sal word, omdat Hy dit brand gesteek het. Herontdek wie God in en deur Jesus se Gees is, sodat jy 2019 dieper met God kan gaan, dieper in jou liefde, dieper in jou verhoudings, dieper in jou dien en diens aan almal met wie jou paaie gaan kruis in die jaar. Mag jy die jaar dinge los, omdraai en wegloop van . . . .

Mag dit ‘n brandende, opwindende jaar wees waarin jy met passie en ‘n bonsende hart elke oggend wakker word, met ‘n doel uit die bed klim en die dag tegemoetgaan.

Met ’n BRANDENDE HART – IN ALLES . . .  ALLES IN – PASSIEVOL!

Amen

 

Preekopname

https://drive.google.com/file/d/1sA2mbj2NqGjjziVQ0291yCM7YFiExasd/view?usp=sharing

Sondag: 2 Desember 2018

Teks : Matt 2:1-12

1Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”
3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe: 6“En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees." 7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”
9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Mark 13:32-37
32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

 

Wat sien u op die verhoog? ’n Kersboom, ’n krip met die baba, sterre op die kruis, ens. Alles handel oor die geboorte van Jesus, van hoe Hy in die wêreld ingekom het. Dan weet ons ook dat die boom alreeds ‘n heenwysing is na Sy sterfte. Tog is die winkels met versierings opgemaak en oral speel Kersliedere. Mense doen groot inkopies en terwyl ander alreeds met vakansie is. Almal berei voor vir Kersfees. Die doel is dat ons die geboorte van Jesus herdenk.

Dis interessant dat alles tydens Kersfees gaan oor die herdenking van wat in die verlede gebeur het en wat Jesus in die verlede gedoen het. Ons self kyk ook meeste van die tyd na Jesus se geboorte as ‘n historiese gebeurtenis met die besonderse verhaal van Jesus wat in ‘n stal gebore is. Ons kyk na Kersfees amper op dieselfde manier as wat ons na ons verjaarsdae kyk: ons herdenk ons geboortedag en met Kersfees herdenk ons die geboortedag van Jesus. Met ander woorde dis iets wat gister en eergister gebeur het. Dit voel vir my of die historiese aspekte daarvan ons heel verblind en so daarvan weerhou om vorentoe te kan kyk. Alles en ook Kersfees gaan vir ons mense oor ‘n terug kyk en nie ‘n vorentoe kyk nie. Dis waar ons die fout maak. Kersfees behoort ‘n vorentoe kyk te wees. Te veel mense vier Kersfees net met ‘n terugkyk en meeste mense bly net daar vasgehaak. Vir hulle gaan Kersfees net oor families. geskenke en ontspanning. Hoor mooi, dis belangrik om die eerste Kersfees te vier, maar as dit net daar bly, dan is dit tragies. Dit is daarom wat Mariah Carey sing: "All I want for Christmas is you." Dit gaan net oor die nou en wat ek nou wil hê en kan kry. In plaas daarvan om te sing: ”You’re all I want”. Dit gaan oor die hier en die nou en my onmiddellike behoeftes wat bevredig moet word. Selfs die winkels beklemtoon en bemark slegs die onmiddellike tydens die feestyd. Hulle sê: koop nou want dis afslag. Die klem val op al die Kersfees winskope.

Vir die Bybel gaan alles oor ‘n vorentoe kyk. Daarom praat die Bybel van wat ek noem ‘n tweede Kersfees. Die eerste Kersfees is belangrik, want ons herdenk die eerste koms van Jesus na die wêreld, maar die tweede Kersfees is wat tel, want die tweede Kersfees wil ons laat vorentoe kyk, die tweede Kersfees vertel ons dat Jesus weer gaan kom. Met die tweede Kersfees gaan alles verander, want daarmee kom ‘n geskenk wat geld nie kan koop nie. Die tweede Kersfees (die Bybel gebruik die woord: wederkoms) beteken Jesus kom weer. Dit was bevestig alreeds by Sy hemelvaart. In Handelinge 1:10-11 staan daar: “Terwyl Jesus weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere gestaan. Die sê toe vir hulle: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel opgeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel toe sien opgaan het”.

Die verskil met tweede Kersfees is dat hierdie keer kom Jesus nie as ‘n pap, hulpelose babatjie wat daar in ‘n krip lê nie, maar hierdie keer kom Hy terug as Koning en Regter. Die goeie nuus is dat wanneer Hy kom, dan bring Hy die grootste geskenk ooit, naamlik die Nuwe Hemel. Dis daardie plek wat Hy spesiaal vir ons voorberei het, ‘n plek waar daar geen siekte, pyn en lyding sal wees nie. Dit is die ultimate, dit is daardie plek waar daar algehele vrede sal wees. Dit is die plek met ‘n lewe van oorvloed. Daarom moet ons eintlik leef vir die tweede Kersfees. Die goeie nuus is dat die tweede Kersfees aan die kom is. En die boodskap van die tweede Kersfees is dat dit wat ons op aarde gedoen het, nie niksseggend is nie. Al die armes wat jy gehelp het, die mense wat jy opgetel en bemoedig het, al jou goeie dade, jou dien van die Here in alle omstandighede heen, is nie verniet nie. Tweede Kersfees sê dat jy dan vir al jou goeie dade beloon sal word, beloon met die hemel en dit breek aan wanneer Jesus weer kom. Die tweede Kersfees gaan ‘n fees met groter vreugde wees. Daarom die oproep: Kom ons leef vandag op die eerste Advent met alles wat ons het. Kom ons leef vir die tweede Kersfees. Dis met die tweede Kersfees in gedagte dat die Bybel sê ons moenie ophou om goed te doen nie. Jou belonging wag vir jou op die tweede Kersfees wanneer Jesus weer terugkom met jou beloning, naamlik die Hemel die plek waar jy by God kan wees, daardie plek met die goue strate.

Natuurlik vriende, gaan die tweede Kersfees vir sommige net een bitter-fees wees, ‘n fees van trane en smart, van tande kners en vrees. Dit is die mense wat God nie liefgehad het nie, wat Hom nie met hart, siel en liggaam gedien het nie. Wat Hom verwerp het. Met die tweede Kersfees breek die hel (die plek van Godverlatenheid) aan vir ander.
Die Bybel sê die tweede Kersfees het egter nie ‘n datum en tyd en seisoen nie, d.w.s. dis anders as die eerste Kersfees waar daar ‘n dag, maand en datum en plek was. Die tweede Kersfees weet niemand watter dag, tyd, maand, jaar en plek dit sal wees nie. Inteendeel, die enigste aanduiding van tyd wat ons het, is dat dit onverwags sal wees, soos ‘n dief in die nag, wanneer ons dit die minste sal verwag. Daarom is die voorbereiding belangrik. Ons moet eintlik sê dat die voorbereidingstyd eintlik aangebreek toe Jesus opgevaar het na die hemel toe. Ons leef nou in voorbereidingstyd. Vanweë die feit dat ons nie die tyd, uur, jaar en plek van die tweede Kersfees ken nie en omdat dit enige tyd mag plaasvind, is dit so belangrik om voorbereid te wees. Daarom moet ons wegbeweeg van die nou af, weg van terugkyk na vorentoe kyk. Ons moet leef vir die tweede Kersfees. Al ons energie moet daarin gaan. Dit is die moeite werd om vir die tweede Kersfees voor te berei. Die tyd waarin ons nou is, is egter ‘n aktiewe wagtydperk waar ons gereedmaak en voorberei soos vir ‘n groot wedloop. Dis ’n tyd waar ons voorberei vir die tweede Kersfees wat op pad is. So elke viering van die eerste Kersfees moet eintlik ‘n "wake up call" wees wat uitroep: Is jy gereed, is jy wakker vir die tweede Kersfees?

Hoe berei n mens voor vir die tweede Kersfees? Slegs op twee maniere:
1. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand. Dit beteken om Jesus aan te neem as Saligmaker en Verlosser. Om God te dien en so Sy getuie te wees. Om ander na Jesus te lei deur Sy Gees tot bekering.
2. Jy moet jou naaste lief hê soos jouself. Dit beteken om jouself en van jouself te gee inplaas daarvan om net te ontvang nie. Soos Jesus Homself gegee het vir ander.
• Gee van jou besittings met hulle wat nie het nie.
• Gee jou tyd vir mense wat emosioneel stukkend is.
• Gee jou talente vir hulle wat nie weet hoe om verder te gaan nie.

So kom ons vier Kersfees, maar met ‘n fokus op die toekoms, op die tweede Kersfees, die wederkoms. Is jy gereed? Is jy voorbereid?

Amen

 

'n Opname van die preek kan verkry word by hierdie adres: 

https://drive.google.com/file/d/1wIoaA4bY31lYghjmGLgvmSG3qsye35aA/view?usp=sharing

 

Holy Night

https://drive.google.com/file/d/1eb-ofn79R3nyKjabvkeOWLaSY4-mjME-/view?usp=sharing 

 

Sondag, 25 November 2018 09:00

HOU UIT 2018: Lewende Hoop

Geskryf deur

Sondag 25 November 2018

 

1 Pet 1: 3-9, 18-21 

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.”

Paulus skryf hier aan mense wat geweldig swaar gekry het onder allerhande vervolgings en martelings in die ergste vorme. In ’n poging om vir hulle hoop te gee, bied hy praktiese en werklike hulpmiddels van hoop. Hy hou hulle dus nie besig met abstrakthede en teologieë nie. Hulle het met hulle optrede die wêreld verstom, omdat hulle alles wat met hulle gebeur het, selfs erge lyding en marteldood met vreugde hanteer het. Dis merkwaardig dat dit niks aan hulle gedoen het nie, naamlik dat daar by hulle ’n gebrek was aan vrees, hysteria, trane en ’n geskreeu en dat hulle alles met styl hanteer het.  Hulle stylvolle optrede was die grootste getuienis vir die skare dat hulle die ergste pyn en marteling ondergaan het, maar dit kon uitstaan ter wille van hulle geloof. Dit het mense tot geloof laat kom.

Wat is dit wat Paulus vir hulle gee?

Ons hoor nie deesdae meer baie preke oor die hemel nie. Dit mag dalk vreemd wees, siende dat elke Christen wil hemel toe gaan om vir ewig met die Here te wees, maar tog wil niemand fisies doodgaan nie. Die belofte van die hemel is die kern van die Evangelie wat ons preek, soos in die teksvers 1 Petrus 3:9 “het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is”. Tog sê die Bybel nie baie oor hoe die hemel is nie. Jesus het nooit gaan sit en aan sy dissipels die roemrykheid en majesteit van die hemel verduidelik nie. Hy het vir die dief aan die kruis gesê, “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees,” maar Hy het nie gesê hoe dit sal wees nie. Wanneer die apostel Paulus na die hemel verwys, sê hy dat ons in die paradys opgeneem sal word. Hy sê dat hy dinge daar gesien en gehoor het wat hom so oorbluf het, dat hy dit in geen taal kon beskryf nie. ‘n Mens kry die idee van Paulus sy beskrywing dat, selfs al kon hy beskryf wat hy gesien het, ons menslike verstand dit nie kan verstaan nie. Wat Paulus ook al in die hemel gesien het, het so ’n indruk op hom gemaak dat hy vir die res van sy lewe daarna verlang het om daar te wees en dat die hemel hom gehelp het om die moeilikste, hardste, onregverdigste, ergste dinge (lyding, siekte, finansiële nood, egskeiding, dood, werkloos ens.) in die gesig te staar en dit deur te gaan. 

Hoe help die hemel jou met al hierdie dinge?  Hoe help die hemel jou op aarde?

Eerstens as jy iemand aan die dood afstaan – kry mens soms ’n totaal nuwe perspektief en uitkyk op die lewe. Maar ook op die hemel deurdat dit ’n werklikheid is, dat dit waar is en ’n realiteit is dat jy met die afgestorwene verenig gaan word. Dit verander jou lewe, met hoe jy lewe asook hoe jy die dood hanteer.  Dit verander jou geheel en al.

In 2 Pet. 3:13 lees ons “Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

’n Pa wat sy kind aan dood verloor het, skryf vir my: “Ek het die dood nie verstaan nie. Ek besef egter nou dat die dood eintlik baie mooi ook kan wees, nie net sleg nie. Ja, vir ons wat agterbly, is dit nie lekker nie, maar vir my kind wat ons vooruitgegaan het, is dit die beste gebeurtenis in haar lewe. Dit is die einde van dit wat ons ken op aarde, maar die geboorte van ’n nuwe lewe, die ewige lewe. Hier huil ons omdat sy dood is, in die hemel jubel hulle omdat sy nuut gebore is.”

Tweedens leer ons in 1 Petrus 1:3 hoe die hemel ons help om enige sleg ding te hanteer. Paulus sê dat hoe jy nou optree en reageer as gevolg van wat in die hede met jou gebeur het en waarin jy jou nou bevind, hang totaal en al af van hoe en wat jy oor jou toekoms glo en hoop. Mense kan hulle in presies dieselfde situasies bevind en nog steeds op totaal verskillende wyses optree. Hoekom? Oor dit waarop hulle hoop in die toekoms en dit bepaal jou reaksie. By voorbeeld een ou werk vir N$ 30 000 en die ander ou doen presies dieselfde werk, maar vir 30 miljoen. Nou watteer een van die twee gaan nie tou opgooi nie?

Paulus gee hulle ‘n prentjie van die hemel

Jesus, het ons ‘n nuwe lewe geskenk. Nikodemus hoor dat hy deur die opstanding van Jesus, nuutgebore is. En dat Jesus Christus aan die regterhand van God in die hemel gaan sit het, vanwaar Christus se Gees vanuit die hemel op mense uitgestort is. Sodoende het hulle iets van die hemel in hulle lewens ontvang naamlik ’n lewende hoop. Met ander woorde ‘n erfenis wat in die hemel vir jou in bewaring gehou word totdat jy sterf en jy dit in die hemel erf. Die opstanding van Jesus word beskryf in die Bybel as die eerste vrugte, eerste gawe of die eerste paaiement van die nuwe hemel en die nuwe aarde, want met die koms, die sterwe en die opstanding van Jesus kom maak Hy alles nuut: Ons lees van die nuwe gebod in Johannes 13:34, van die nuwe verbond in Hebreërs 8:13 en die nuwe beker in 1 Korintiërs 11:25. Paulus sê dat die regte siening, uitkyk of lens waarmee ons na die hemel kyk (die toekoms en alles waarop jy hoop) jou help om alles waarmee jy in die lewe te doen kry (die seer, moeilikheid, swaar, pyn, onreg, sukkel, sweet) help jou om dit alles te hanteer. En dus nie moedeloos te word, op te gee of toe te laat om negatief, pessimisties, teleurgesteld, sinies en ongelowig te word nie.

Hoe? Jy moet die hemel reg verstaan, reg sien, en reg daaroor dink. Die hemel gaan hier wees. Die Bybel praat van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Dus die herstel daarvan soos dit veronderstel was om te wees naamlik perfek geskep en met geen droogtes, aardbewings, klimaatverwarming, orkane, tornados, tsunamis, tropiese storms, oorstromings, besoedeling ens. nie. Ons gaan mekaar herken en selfs saameet -  Jesus in Johannes 20 eet vis saam met Petrus.

Wat daar nie in die hemel gaan wees – Daar gaan geen:

Horlosies: Tyd, oudword, grysword, stres wees nie.

Drup/Pille: Pyn, siektes, epidemies, kankersoorte.

Sneesdoekies: Dood, trane, seer, leed, smart.

Sonde: haat, woede, oorlog, rusie, konflik, misverstande, rugstekery, diefstal, moord, leuens, bedrog – geen vrees, bekommernis, begeertes

Duiwel: geen boosheid, versoekings en verleidings nie.

Ons lees in Openbaring 21:1-4 “Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Nuwe gaan kom in terme van:

Woonplek: Tuiste en huis – volkome vrede en vreugde

Verhoudings – herstel, heel, gelukkige: Families

Liefde

Liggame

Lewe – nuwe jy – volkome versadig, vervuld, tevrede, vergenoegd

Jou diepste begeertes en verlange bevredig – soos vrou Johannes 4 – lewende water – sal nooit weer dors kry nie.

Open 21: 5 sê “Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.”

Jesus is die lewende water, wat geheel en al, in totaliteit bevredig. Dit beteken dat Hy in jou lewe opstaan en jou bekeer. Hy sterf nie ’n tweede keer nie, maar staan uit die dood van jou ou lewe op en maak dit nuut: 2 Korintiërs 5:17 beskryf dit: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Gal 6:15 sê “Of 'n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy 'n nuwe mens is”. Jesus Christus maak jou nuut. Dan lewe jy as ‘n nuwe mens wat nuut en anders lewe omdat die opstanding van Jesus in jou lewe lewende hoop bring. Hoop op die toekoms, want onthou ons het gesê dat hoe jy nou optree en reageer op jou huidige omstandighede absoluut sal afhang van hoe en wat jy oor die toekoms – jou toekoms - glo. Die lewende hoop kom wanneer die Gees van Jesus Christus die nuwe van die hemel af in die hede in bring, daar waar jy is. Dit word soos ‘n bril waardeur jy na môre en die toekoms kyk.

Die nuwe gaan kom in die omstandighede van waar jy jou nou bevind. Die nuwe kom terwyl jy in die sleg, seer, swaarkry plekke verkeer, want die hoop is nou meer as net gewone optimisme (wat glo dinge gaan verbeter en beter word). Dis die geloof dat dit geheel en al anders gaan word, nuut gaan wees.

 Hoop word dan ook meer as wat dit was. Dit gaan dan verder as ideologieë, teorieë, abstrakthede en word dit ‘n werklikheid. Dit word ‘n realiteit in ‘n persoon wat dit van binne jou moontlik maak om te glo dat daar uit ‘n dor, droë stomp, ‘n takkie sal spruit (Jesaja 11) en die Here sê vir Jesaja (43:19) “Kyk Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom”. ‘n Takkie van hoop as gevolg van lewende hoop in jou en waardeur jy kyk en dink. Soos ‘n vrou in kraam wat die geboorte van ’n nuwe kind voor oë hou.

Rom 8:18, 22-28 “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Op die hoogtes (goed, reg) van die lewe groei jy nie, dit is net in die valleie (verkeerd, sleg, seer) waar jy groei en nuut word. Dit beteken prakties dat jy sal glo wat ook al die omstandighede en situasie is waarin jy jou bevind – dat die NUWE gaan kom: Nuwe plek, werk, liefde, verhoudings, maat, moontlikhede, geleenthede, kanse, uitdagings, nuwe jy kragtens nuwe gedrag, gewoontes, sienings, opinies en ingesteldheid. Want lewende hoop glo dat al is dinge gebreek, stukkend, uitmekaar, deurmekaar, vuil, besoedel, stink, oud, in onbruik, onvanpas dit weer heel sal word, sal herstel, weer sal werk, skoon, suiwer, vars, weer gebruik/in werking, van pas sal word. Dan sien jy dat lewende hoop as gevolg van opstanding jou ‘n nuwe prentjie gee van die nuwe in die toekoms, want alles wat jy glo van môre impakteer jou in die hier en nou – hetsy positief of negatief. En ek glo en lewe met die verwagting veral in moeilike, swaar, sleg, seer, verwarde en moeilike tye of situasies as gevolg van die lewende hoop dat God na aanleiding van Jakobus 1:16-18 sê hoop:

  • Is Liefde - soos by die doop waar God sê Ek sal jou God wees en bly.
  • Is Goedheid – God sal dit ten goede laat meewerk, sal dit transformer, sal my weer vreugde en blydskap laat ervaar – Ps 51:41 “Hy sal my my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is” en in Job 8:21 “Hy sal jou weer vreugde gee, jou van blydskap laat jubel.”
  • Is genade – dis vergifnis, vryspraak, versoening.

As jy hierdie dinge glo sal jy enige iets kan trotseer, hanteer, deurgaan, uithou, aanhou, volhou, want die moed-hou kom van die lewende hoop wat glo dat God alles wat mooi en goed is, vir my wil hê dus die beste vir my wil hê. Daarom vertrou ek God. Dis die prentjie van môre wat nou vandag in my kop is midde van al die ‘tough’ en ‘bad’ en ‘sad’.

 

Die voorbeeld van ’n lappieskombers word voorgehou. Dis baie mooi aan die bokant maar die onder of agterkant is lelik, deurmekaar en niks maak sin nie. God maak die lappieskombers in die hemel en ons is op aarde die onderkant. Dit is hoekom ons worstel met die sin en doel van alles wat in ons lewens gebeur en worstel met vrae soos waarom en hoekom. Maar lewende hoop sien en glo die mooi bokant waar God ‘n ongeëwenaarde meesterstuk van jou lewe maak. Die dag as jy hemel toe gaan sal jy uiteindelik die bokant van die lappieskombers van jou lewe sien. Intussen lewe jy met ’n lewende geloof in die ry...

'n Opname van die preek kan verkry word by hierdie adres: 

https://drive.google.com/file/d/11MtBhnNo2ZGeqjYkC0HgrJRIEzzaiDNT/view?usp=sharing

 

Sondag, 18 November 2018 09:00

HOU UIT 2018: Soetheid van God

Geskryf deur

Sondag 18 November 2018

Ons termyntema se metafoor was die van ultra marathon. Ons het gekyk na aspekte hoe om nie tydens die marathon op te hou of te stop nie. Vandag kyk ons na die woord “tapering” wat vertaal kan word met afskaal. As jy goed wil doen die dag van die marathon moet jy reg rus en afskaal. Doen jy dit nie, sal jy ooroefen wees en baie sukkel. Dus is afskaal en voldoende rus belangrik. Die Bybel is baie ernstig oor om te rus.

Genesis 2: “Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.”

Hoekom het God gerus? Die antwoord lê in die herhalende woorde telkens nadat God geskep het, naamlik “En God het gesien dit was goed”. God rus deur dit wat Hy geskep het, te geniet. God rus deur dit wat mooi en goed en reg is, te vier. Om te rus beteken dat jy oomblikke in jou lewe neem waar jy kan terugkyk om die dinge te “sien” wat mooi en goed was, wat reg uitgewerk het, waar vordering en groei plaasgevind het en om die seëninge en hulp te geniet en te waardeer. Jy is dus dankbaar vir al die vordering en groei wat jy vermag, bereik, besit en ontvang het. 

Die tweede aspek rondom rus, kry ons in Eksodus 20: “Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.”

En in Deuteronomium 5 “Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte 'n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.” Die volk moes in hulle rus hul vryheid vier. Hulle was slawe en nou is hulle vry. Om te rus beteken dus ook dat jy oomblikke in jou lewe neem waar jy vry kom van alle vorme van verslawing soos werk, prestasie, sukses, tegnologie, sosiale media, ens.  Wanneer jy vry is kan jy suiwer en sober dink. Maar die gevaar is weliswaar ook dat jy in sulke tye van vryheid jou gedagtes vul met alles wat jy MOES en NIE MOES doen nie asook alles wat jy nog MOET doen. Wanneer jy hieraan dink kom daar onomwonde skuldgevoelens, moedeloosheid, veroordeling, vrees en angs, asook bekommernis by jou op. Die S en die T van moeS en moeT is die probleem

As jy die “OE”-klank tussen-in die twee woorde neem en die S en T aansit, kry jy die woord SOET! Volgens die Bybel is God se Woord juis SOET. Johannes skryf dat Jesus die Woord is wat vlees geword het en die Heerlikheid van God verbeeld het. Die heerlikheid van God is dus soet en lekker en dit is dit wat vir ons in die hemel wag. Openbaring 21: 11 sê “Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos 'n kristalhelder opaal.

Dit beteken dat toe Jesus mens kom word het, het Hy iets van die hemel na die aarde toe gebring en dit sigbaar gemaak. Hierdie “iets” is die heerlikheid van God.  Ons lees in Hebreërs 1: “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.”

Jy ervaar dus iets van die hemel naamlik die heerlikheid van God wanneer jy rus. Jy gaan in Sabbatsrus in. Markus 2 lees ons: “Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die Sabbat.”

Jesus is die Here van die Sabbatsrus en volgens Hebreërs 4 ”. . . gaan die wat glo, in God se rus in”. Wat beteken dit om in God se rus in te gaan? Ons sê mos wanneer ons ‘n persoon begrawe dat hy/sy ter ruste neergelê word en daarmee bedoel ons dat die persoon nou by God in die hemel is. Wanneer jy jou rus vier, dit geniet en vry is, sal jy die soete heerlikheid van God beleef. Dan is Sy vergifnis, vryspraak en versoening in jou gedagtes wanneer jy aan ‘moes’ en ‘moes nie’ dink. En wanneer die lysies van ‘moet nog’ by jou opkom en daarmee saam al die gevoelens van bekommernis en vrees, moet jy die soete heerlikheid van God se beloftes van bystand en hulp jou met geloof en ‘n diep vertroue vul. Almal wat die soete heerlikheid van God beleef, kry ‘n opdrag en ’n taak naamlik: wat ons in 2 Korintiërs 3 lees: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Ons roeping is dus om die soete heerlikheid van God se heerlikheid te weerkaats en te weerspieël op ander. Dit doen ons deur al die dinge waarmee God se heerlikheid in my lewe ingebring word, net so na ander uit te straal. Deur te leef met vergifnis, vryspraak, versoening, vertroue en geloof. Dit kan alleenlik gebeur as die heerlikheid in jou lewe bewerkstellig word deur die Gees. Dit kom as jy rus en ’n diep gemeenskap het en gesprek voer en kontak het met God.

Ten tye toe die volk die goue kalf gemaak het, terwyl Moses op die berg was om die Tien Gebooie van God af te ontvang, het die Here baie kwaad geword en sê dat Hy nie meer verder met die volk gaan trek nie. Hy sal ‘n engel met hulle stuur wat alle goeie goed vir hulle sal bring, maar Hyself gaan nie met hulle saam nie. In Eksodus 34 hoor ons: “Toe het die Here vir Moses gesê: “Trek nou hiervandaan af weg, jy en die volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het. Trek na die land toe wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit aan julle nageslag gee.’ Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf. Julle is so 'n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.” Toe het Moses vir Hom gesê:As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.”

Die woord wat gebruik word vir God is “Panin” en verwys na God se gesig, sy teenwoordigheid en sy heerlikheid. Wat Moses dus bedoel is, dat selfs al gaan die engel saam, wil en sal hulle nie sonder God se heerlikheid trek nie. God se heerlikheid is baie meer werd as materiële, sukses, geld, mag en goeie goed wat die engel sou bied. So baie mense lewe met hierdie baie besittings, geld, roem, sukses en materiële dinge, maar sonder God. Dus ervaar hulle nie die soete heerlikheid van God nie.

Die jaar 2018 is op sy rug. Skep tyd om te rus, terug te kyk, die goeie te geniet en te vier. Tweedens om vry te kom van alles wat jou verslaaf maak en slegte gevolge in jou lewe meebring en laat die soete heerlikheid van God eerder jou lewe vul met Vergifnis, Vryspraak, Versoening, Vertroue en Geloof.

Geseënde Kersfees

'n Opname van die preek kan verkry word by hierdie adres: 

https://drive.google.com/file/d/1CrTXEqdl_eVV6V_LemT9Tpstb_NyFoZX/view?usp=sharing  

Sondag, 11 November 2018 09:00

HOU UIT 2018: Leef ‘n Godvresende lewe

Geskryf deur

Sondag  11 November 2018

Job 1:8; "En Jehovah het vir Satan gesê: “Het jy jou hart op my kneg Job gerig, dat daar niemand soos hy op die aarde is nie, ’n onberispelike en regskape man, wat God vrees en afwyk van die kwaad?”

Ps 4:4;  "Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep"

Lukas 12:4-6; “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. 5Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. 6“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie."

 

Hoe voel jy as dit vir jou voorkom asof iemand jou sonder respek behandel? Of watter gevoelens kom by jou op wanneer iemand jou nie respekteer nie? Was jy al in so ‘n situasie en hoe het dit jou laat voel?

Bladsy 3 van 9

Groei

Materiaal vir groei & Bybelstudie

Lees meer

Gemeenskap

Reik uit na die gemeenskap

Lees meer

Koinonia

Interaksie tussen gemeentelede

Lees meer

Kalender

Bly op hoogte van al ons gebeure

Lees meer