NG Kerk Eros Preke
Sondag, 02 September 2018 09:00

HOU AAN 2018: Kind van die Koningkryk

Geskryf deur

Sondag 2 September 2018

Skriflesing

Markus 10:13-16

13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” 16Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

Hierdie verhaal is vanaf die vroegste tye deur die christelike kerk in die doopliturgie opgeneem. Met goeie rede, want dit waaroor dit in hierdie gedeelte gaan is ook presies waaroor dit in die kinderdoop sowel as die hart van die evangelie gaan.

Eerstens. Markus vertel ons dat ouers hul kinders na Jesus gebring het sodat Hy hulle sou aanraak.

Lukas gaan sover om duidelik te sê dat hierdie kinders nog babas, ja suigelinge onder die ouderdom van twee jaar was. Dis belangrik om in te sien dat Jesus nie kruis en dwars oor die land gereis het en babas voor die voet geseën het nie. Hy het ook nêrens iemand gedoop nie, omdat Hy die doop eers net voor Sy hemelvaart ingestel het. (Matt 28:19) Dis duidelik dat die ouers in hierdie verhaal 'n spesiale verwagting van Jesus gehad het. Hy was Iemand besonders in hul oë en omdat hulle net die beste vir hul kinders wou hê, wou hulle dat Jesus hul babas ten minste net moes aanraak.

Die babatjies het nie op hul eie na Hom gekom nie. Hulle kon doodgewoon nog nie. Maar die ouers se optrede was tog belangrik. Orals in die NT waar Jesus kinders gesond gemaak het of selfs uit die dood laat opstaan het, word gepraat van die ouers se geloof. Nêrens lees ek dat Hy betrokke geraak het by kinders van ongelowige ouers nie.

By die doop is dit netso.

Die ouers bring hul kinders na Jesus sodat Hy hulle sal doop. Die kinders kan nie op hul eie na Jesus kom nie. Daarom is die ouers se optrede so kardinaal belangrik. Die kinders word nie op grond van die ouers se geloof gedoop nie, maar die ouers se geloof skep die ruimte waarbinne hierdie gedoopte kind gaan grootword. Daarom mag ons nie die kinders van ongelowige ouers doop nie, want daarmee maak ons God se bedoeling en ook die sakrament belaglik. Hoe sal iemand die belofte wat hy teenoor God in wie hy nie glo nie, hou?

Ons mag net die kinders van gelowige ouers doop. Dit plaas egter 'n groot verantwoordelikheid op die ouers, want van hulle word nie net verwag dat hulle hul kinders eenmalig na Jesus moet bring (om gedoop te word en daarna nooit weer in die kerk gesien word) nie. Hulle moet elke dag weer na Jesus gebring word. In hul omgang met hul kinders moet Jesus se gesag oor hul lewe duidelik word. Hul woorde en dade moet van hul geloof spreek. Daarom moet ons as ouers onsself voortdurend afvra: is ek steeds besig om my kind na Jesus te bring?

Tweedens. Die dissipels raas met die ouers en wil hulle verhinder om naby Jesus te kom.

Daar sou baie moontlike redes vir die dissipels se optrede uitgedink kon word, soos dat hulle Jesus wou beskerm te midde van 'n besige program. Of dat Hy moontlik laat kon kom by 'n belangrike afspraak of dat hulle die ouers as lastig beskou het. Daar staan niks hieroor in die teks nie, maar waarom hulle dit gedoen het, is eintlik ook nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is om te hoor dat hierdie optrede Jesus verontwaardig laat reageer. Dit is net in hierdie geval dat Jesus so ernstig afwysend teenoor Sy dissipels reageer. Waarom?

Dis duidelik dat die dissipels neergesien het op die kinders, hulle as minderwaardig beskou het en as onbelangrik.

'n Mens moet verstaan wat die posisie van kinders in die Bybelse tyd was. Palestina is 'n semi-woestyn soos ons eie land. Armoede en gevolglike hongersnood was nog erger as hier by ons. Daarom was dit gewoon 'n gegewe dat baie kinders in daardie tyd vroeg doodgegaan het. Daarom wou niemand te veel aandag aan hulle gee nie. Die meeste ouers wou ook nie te geheg raak aan hulle nie. Hulle is saam met die tollenaars, armes, gebreklikes, prostitute, vreemdelinge en diesulkes as randfigure beskou.

Jy mors nie tyd met hierdie groepe mense nie. Jy hou jou met belangriker sake en mense besig! Die dissipels het maar net opgetree in ooreenstemming met die kultuur van daardie tyd. Volgens hulle moes volgelinge van Jesus darem waarde van 'n aard hê, 'n minimum ouderdom hê, diens kon lewer, dalk selfs die wet van Moses (kon) onderhou. Hulle wil dus volgelinge hê wat aan sekere minimum vereistes kon voldoen en dit beteken: geen babas!

Dis waarteen Jesus in opstand kom, want hul denkraamwerk is totaal in stryd met die hart van die Evangelie. Dis asof Hy vir hulle sê: verstaan julle dan nie? Nog steeds nie?

Dink julle dat ek net volwassenes wat vir hulleself kan dink as volgelinge wil hê? Is My genade dan nie vir almal nie? Dit maak dit tog immers genade: dit word gegee aan diegene wat dit op geen manier kan verdien nie.

Ons moet ook weet dat wat Jesus met die kinders doen, spesifieke betekenis in daardie tyd gehad het. Die ouers se verwagting was dat Hy hulle net moes aanraak, maar Hy doen baie meer as dit. Hy sit Sy arms om hulle, lê hulle die hande op en seën hulle.

Wat Hy hiermee doen is om die kinders Syne te maak, te verklaar dat hulle aan hom behoort, dat Hy vir hulle sal sorg. Dis immers presies wat by die doop ook gebeur.

Ons word aan Jesus verbind, by Hom ingelyf en Hy neem dit op Hom om vir ons te sorg, veral om 'n plan met ons sonde te maak. Hy doen dit sonder dat ons iets kan bydra, iets kan bely of belowe. Hy doen dit uit vrye genade alleen om geglo te word.

Maar met dit alles gesê, het ons nog nie by die belangrikste punt van die verhaal gekom nie. En dit is dat Jesus helder en duidelik sê dat net kindertjies in die koninkryk van God sal ingaan.

Die bedoeling van die verhaal is dus nie dat Jesus vir volwassenes wil leer wat ons gesindheid teenoor kinders moet wees en hoe ons teenoor hulle moet optree nie. Jesus se bedoeling is dat die kinders vir ons moet leer hoe om weer kinders te word en soos kinders te glo.

Ons probleem as volwassenes is dat ons op ons eie bene wil staan. Ons wil van niemand afhanklik wees nie. Ons kan ons eie ding doen en het niemand nodig nie. Maar eintlik speel ons net grootmeneer en het ons te groot geword vir ons skoene. Ons hoef nie na sielkundige eienskappe by kinders te soek wat hulle dan nou aanvaarbaar by Jesus sou maak nie. Soos byvoorbeeld hul onskuld of watter eienskap ook al nie. Hulle is net klein en totaal afhanklik van hul ouers of versorgers. Hulle het geen verdienste nie en kan niks bydra nie. Hulle kan nie eers agter Hom aanloop nie. Hulle moet na Hom toe aangedra word. Hulle besef dit nie eers nie. Daarom staan daar in groot letters oor die ingang van die hemel: Slegs kinders. Geen volwassenes toegelaat. Jesus het immers self gesê: Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Matt 5:3.

Dis tog mooi om te sien hoe klein kindertjies na hulle pappa, hul abba (Hebreeus vir pappa) kom, hul armpies uitsteek en vra dat hul pappa hulle moet optel. Ons kan maar elke dag weer ons arms in die lug opsteek en vir ons hemelse Abba vra om ons op te tel en te abba. In ons huwelike, in ons huise, by die werk. Oral. Hy is en bly getrou. Hy het Hom deur die doop as ons Vader verklaar!

Amen

'n Opname van die preek kan verkry word by hierdie adres:

https://drive.google.com/file/d/1SN--4c2KW75euzxMJq88YGHxzg-ybWL6/view?usp=sharing

Vrydag, 08 September 2017 07:44

Anders 2017: Nuut!

Geskryf deur

Skriflesings: Gen 1:14; Ps 74:17; Hosea 6:3; Jes 43: 18, 19; 2 Kor 5: 16-19

By ons in Namibië word dit nooit erg koud in die winter nie , maar in die noordelike halfrond weet hulle van koue winters met sneeu en temperature wat tot minus 10 en meer kan daal. Daarom is lente by hulle belangrik en word dit met oorgawe gevier, want dit beteken nuwe lewe en groei. Al is dit broos en soms gering, is dit vars en 'n simbool van optimisme en nuwe hoop. Dit het skilders en digters en musikante geïnspireer om besondere kunswerke te skep. Een van Vivaldi se bekendste werke is juis Die Seisoene, en Van Gogh se Die Peerboom.

Saterdag, 02 September 2017 18:19

Verander 2017: Denke

Geskryf deur
Skrifgedeeltes: Efes. 4: 23, 24; Rom 12: 1, 2; 2 Kor 10: 1-6 
 
'n Italiaanse neurochirurg het gesÍ dat hy in Desember 2017 die eerste kopoorplanting gaan doen.Die Russiese pasient ly aan motor-neuron siekte (soos Joost vd Westhuizen) en kan nie wag vir die operasie nie. Hy kan hom nie indink hoe  dit moet wees om 'n gesonde liggaam, sonder siekte, te he nie. 'n Chinese neurochirurg gaan assisteer. Hy het reeds die koppe van 'n duisend muise oorgeplant, maar almal het net 'n kort rukkie gelewe. Hy het ook al die kop van 'n
apie oorgeplant, maar die het ook nie lank gelewe nie. Hulle glo hierdie 36-uur operasie kan 'n sukses wees.Vir my is hierdie een van daardie artikels wat jou daaraan herinner om nie alles te glo wat jy op die internet lees nie.
Hoewel 'n kopoorplanting, selfs 'n breinoorplanting op hierdie stadium onmoontlik is, praat die Bybel wel oor so ’n moontlikheid. 
Vrydag, 24 Maart 2017 05:32

Anders: Solus Christus 2

Written by

SOLUS CHRISTUS.

Vandag staan ons vir die tweede keer stil by die vierde pilaar van die gereformeerde verstaan van die Evangelie, nl. solus Christus: Christus alleen. Met hierdie stellinginname het die gereformeerdes gesê dat daar net een middellaar tussen God en die mense kan wees, nl Jesus Christus. Vyf honderd jaar gelede was dit glad nie so verstaan nie. Elke groep, van die boere, kinderlose egpare tot die prostitute het hulle eie tussengangers tot God gehad. Jy kon enige tyd van die dag 'n kers voor die ikoon (prent) van jou spesifieke heilige in die katedraal kom aansteek en tot jou (beskerm-)heilige (saint, bv. St. Onesimus vir bediendes, St. Blasius vir dokters, St. Barbara vir begrafnisondernemers, St. Agata vir juweliers, St Margareta vir prostitute ens.) bid om namens jou by God in te tree. Hulle is immers nou reeds in God se teenwoordigheid en omdat hulle soos jy is (was), bid jy tot hulle om vir jou 'n goeie woordjie by God te doen. (Voorvader aanbidding kom in wese op presies diesefde neer.) Die belangrikste van hierdie middellaars in die RK Kerk was natuurlik Maria. Na die voorbeeld van Joh 2 waar Jesus water in wyn verander het, en Maria as tussenganger tussen die kelners en Jesus opgetree het, het hulle geglo dat jy nie direk na Jesus kan gaan nie, maar 'n tussenganger (middellaar) na Jesus moet gebruik. Sy was immers ten volle 'n mens van vlees en bloed en belangrik(!) die moeder van Jesus. Sy kon werklik jou situasie verstaan en het begrip en medelye. Wie beter as sy kan jou saak  voor Jesus lê as jy 'n positiewe antwoord van Jesus wou hê?

Woensdag, 01 Februarie 2017 06:04

Anders: Sola Scriptura - Die Woord is die Lamp

Geskryf deur

Lees: 2Tim.3:14-17; Hebr. 4:12; Ps 119:105

Ons begin vandag by die eerste van ons vyf solas waarby ons in hierdie termyn gaan stilstaan, nl. sola scriptura, wat beteken: die Skrif alleen. Die vraag wat die reformatore wou antwoord, was: waar leer jy God ken? Luther was nog meer spesifiek en het gevra: waar leer jy 'n genadige God ken. Hulle antwoord was onomwonde: in die Skrif alleen! Daarom kan jy 'n gereformeerde Kerk dadelik uitken wanneer jy hom binnestap: die kansel, vanwaar die Woord spreek, staan in die sentrum van die liturgiese ruimte. Dit gaan nie oor die belangrikheid van die prediker nie, maar oor die belangrikheid van die boodskap!

1. Een van die kere wat ek saam met 'n groep belydenisklaskinders die Visrivier gaan stap het, het dit laat namiddag begin reën. Na die bui oor was, was dit aand. Pikdonker, want die wolke het verhoed dat ons enige lig kon sien - geen ster, geen maan, niks. Toe gee ek aan die kinders drie opsies waarvan die derde was dat ons die laaste elf kilometer Ai-ais toe kon stap, wat hulle toe natuurlik gekies het. Ek sou toe voor stap met 'n flits, iemand in die middel van die groep moes 'n flits aansit en die laaste persoon in die ry moes ook 'n flits hê. Toe kom een van die meisies na my en sê sy is nagblind. Sy kan gladniks sien nie. Ek sê toe vir haar om reg agter my te loop en waar ek my voet optel, moes sy haar voet neersit. Sy het dit gedoen en ons almal het veilig in Ai-ais aangekom waar ons 'n heerlike ete op die restaurant se stoep geëet het. Ek het hierdie laaste deel van ons stap nie 'n enkele moeilikheid met enigiemand gehad nie. Almal het die nagmars feitlik in stilte gestap. Ek het geweet almal vertrou my om hulle by Ai-ais te kry, want ek het die lig, ek ken die pad en ek stap voor. Is dit nie met Jesus ook so nie? Hy sê tog self dat Hy die lig vir die wêreld is en dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is. Daarby het ons besef hoe belangrik dit is om lig op jou pad te hê - veral as dit nagdonker is. Die Bybel sê in Ps 119:105 dat God se Woord vir ons so 'n lig is. Ps 119 was vir die Joodse rabbi's baie belangrik; so belangrik dat elke Joodse seuntjie wat in hulle groep was, dit uit sy kop moes ken. Die hele Psalm vertel hoe kosbaar en waar en reg die Here se woord, sy verordeninge, sy voorskrifte en gebooie is. Vir hulle was dit ononderhandelbaar dat die woord van God hulle lamp en lig was. 

Bladsy 1 van 11

Groei

Materiaal vir groei & Bybelstudie

Lees meer

Gemeenskap

Reik uit na die gemeenskap

Lees meer

Koinonia

Interaksie tussen gemeentelede

Lees meer

Kalender

Bly op hoogte van al ons gebeure

Lees meer