Sondag, 03 Februarie 2019 09:00

DIEPER 2019: Dieper met God

Geskryf deur Ds Fourie van den Berg

Sondag, 3 Februarie 2019

Soms is daar vog in jou liggaam wat as gevolg van infeksie opbou en akkumuleer in hetsy die buik (ons noem dit Askites), of in die hart (ons noem dit Perikardiale effusie) of as gevolg van ‘n oorreaksie van die liggaam om te help met herstel (ons noem dit effusie). Dit veroorsaak pyn, druk, ongemak, moeilikheid en probleme, want die liggaam funksioneer nie soos dit moet nie.

Die vog moet uit die aard gedreineer, afgetrek, afgetap, uitgetrek word of anders gestel, dit moet daarvan ontslae raak word. Die liggaam moet bevry word. Jy kry ook geestelike perikardiale effusie en askites wat weer lei tot geestelike infeksie en inflammasie.

Die uiteinde is dat dit jou geestelike verhouding met God benadeel sodat jy nie dieper met God kan gaan nie. Alles vanweë hierdie vog-infeksie wat ontstaan as gevolg van dinge wat met jou gebeur of as uitvloeisel van hoe jy lewe en optree wat daartoe lei dat jou verhouding met God beskadig word en jou siek maak.  Ons gaan na sewe sulke oorsake van vog en infeksie in jou gees kyk. Sewe oorsake van infeksie wat jou geestelik vergiftig en vernietig.

Die 7 geestelike effusies en askites wat verdieping met God verhinder, anders gestel is dit geestelike vernietigers:

  1. Woede dus kwaad word, ontploffing, jou humeur te verloor, woedestuipe ens. Die Here vra vir Kain “waarom is jy kwaad?” Jy moet oor dit heers  – Efesiërs 4:26 sê dat ons nie moet kwaad bly nie, moenie kwaad gaan slaap nie”, want dit lei tot:
  2. Wrokke, “grudges”, verbittering, haat, grief, wrewel, afsydigheid.
  3. Wreek, wraak, wreed, vergelding, straf.
  4. Ween, seer, pyn, ongelukkig, onreg, gepreokkupeer, vertroetel, identiteit, manipuleer.
  5. Wen, jaloesie, kompetisie, afguns, bedrog, oneerlik, skelm, huigelary.
  6. Waarheid, reg, hoogmoed, narsis, hard, ongenaakbaar, vuur spoeg.
  7. Wellus, vraatsug, bevrediging van aptyt, plaasvervanging van intimiteit.

Al 7 lei tot baie moeilikheid, probleme en siektes soos konflik, rusie, vyandskap, onvrede, verdeeldheid, hartseer, losbandigheid, drank, ontrouheid, bedrog, angs, bekommernis, vrese ens. Geestelike dreinering is nodig om daarvan ontslae te raak en dis krities belangrik. Die Bybel noem dit om VRY te WORD, te KOM, te WEES, te LAAT en om BEVRY te word.

Heb. 2: 14- 15:  14 Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.”

Joh. 8:36 “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklike vry wees.”

Joh. 8:32 “...en julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak.”

Om vry te kom sal die waarheid jou eers moet ontstel en skok. Sien die meeste mense ontken, rasionaliseer, regverdig die 7 W’s in hulle lewe. Niemand dink nie dis waar van hom/haar nie. Die gevolg is dat dit in gevestigde gedragspatroon uitspeel wat jou beheer en verslaaf maak. Jy besef nie eers hoe skadelik dit vir jou en ander is nie. Maar as jy begin om eerlik te wees met jouself sal die waarheid en die werklikheid aan jou openbaar word en sal jy ontdek dat al die slegte dinge in jou lewe soos probleme, moeilikheid, konflik, finansiële skade, alles as gevolg van die effek van die 7 W’s is.  Die enigste oplossing is om daarvan ontslae te raak, vry te kom sodat dit nie infeksie veroorsaak wat vir jou skade berokken nie. Ons kyk vanoggend na woede:

Die Bybel se boodskap is aantreklik. Dit trek mense aan na ’n mooi God om nader en dieper in verhouding Woede ontstaan as iemand jou te na kom, jou skade berokken, hartseer maak, pynig, iets van jou vat, verliese, nie jou sin kry nie, iemand jou moeilikheid en probleme gee of veroorsaak, jou verneder, inkrimineer, verontreg, onregverdig, teleurstel, verneuk, ignoreer, verwaarloos, lelike en verkeerde goed aan jou doen of sê of net doen wat jou skok, jou straf, gewelddadig, ‘abuse’, verkrag, jou ‘shame’ – dit wat jou kwaad maak, toon wat vir jou belangrik is, toon jou waardes. As jy nooit kwaad word nie, wys dit dat niks vir jou saak maak nie. Kwaad word is dus nie die probleem nie, maar hoe jy optree as jy kwaad is. As woede nie gedreineer word nie, dan veroorsaak dit dat dit soos dinamiet in jou siel ontplof. Jy VLUG of VEG, want selfverdediging en oorlewing veroorsaak dat jy jouself gou of vining verloor en ontplof en dit veroorsaak skade aan:

  • Jouself, liggaamlik dus jou hart of bloeddruk. Jy verloor die vermoë om te dink en tree onnosel op, want jy reageer soos dwaas. Jy maak simpel keuses en besef dit eers as jy afgekoel het, dan skaam jy jou oor jou gedrag.
  • Ander mense en verhoudings. Dit maak seer en stukkend, dit verwond, beseer, isoleer en bring afstand - selfs die dood.

Woede wat nie hanteer word nie, gaan oor in wrokke, verbittering en uiteindelik tot wraak en wreek, soos Lameg “Ek maak ‘n man dood as hy my wond . . . Kain sal 7 maal gewreek word, Lameg 77 maal.” En die ergste is, dit verslaaf jou. Dit word as gevolg van ’n  chemise afskeiding in die brein ’n gewoontevormende patroon wat moeilik is om te breek en te verander. Dit is hoekom ons so sukkel om te verander en bevry te word van die vog en infeksie. Dis ‘n EK-ding, nie ‘n JY-ding nie. Dit gaan nie oor wat jy doen nie, maar wat aan jou gedoen word en wat jy gemaak word. As die Gees van Jesus in jou lewe kom deurdat jy jou lewe vir God oopstel (when you come to Christ, opening yourself to Him), bring dit Verandering en Vryheid van die volgende:

Slawerny – die mag wat jou beheer (selfsug in W’s uitspeel) word gebreek en onder nuwe beheer van binne geplaas. Die nuwe Meester se beheer bring die lewe teenoor die dood, bring vreugde teenoor swaarkry en hartseer, bring vrede teenoor bang wees en moeilikhede.

Identiteit – dit verander van slaaf na kind. Dit beteken jou verlede word Sy verlede! Dis nie meer joune nie, met ander woorde dit kan nie teen jou gehou word nie.

Hoe? VERGIFNIS maak jou vry en skoon. Jesus se bloed was en reinig die vuil kolle in jou lewe af. Sy vergifnis maak jou skoon en bevry jou. Hoe kry jy vergifnis? Hoe word jy vergewe? Hoe werk vergifnis?

1 Pet. 2:1 DB ”Maak julle lewe skoon. Raak ontslae van slegte en oneerlike dinge.”

Jak. 4:8 Afr. 83“Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars en reinig julle harte, huigelaars.”

Jak 4:8 DB “Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie.

Hoe werk dit? God vergewe as jy:

Erken – Dit beteken jy is eerlik en opreg in jou kop. Jy erken “Ek is kwaad en het woede”. Teenoor ontken – ‘denial’, maak verskonings, verduidelik om te regverdig, en ander te blameer. Erkenning lei tot INKEER.

Jak 5:16 DB “Erken dit openlik as julle dinge gedoen het wat God nie wou gehad het nie. Bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. God luister graag na mense wie se saak met Hom reg is.”

Berou – Dis ’n diep besef in jou hart van wat jy gedoen het en die implikasies daarvan. Dit maak jou hartseer oor wat die woede in jou, aan jou en deur jou gedoen het. Berou lei tot OMKEER.

Jak 5:16 Afr. 83 “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.”

Luk. 17:3 Afr. 83 “Pasop vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.

Spyt en berou verskil. ‘n Mens wat spyt is oor sy sonde dink gewoonlik net aan die nadelige gevolge van sy daad. Wie egter berou het, treur oor die daad self. Wie spyt is, kan sy hare uit sy kop trek oor die skade wat hy aan homself gedoen het. Wie egter berou het, wil sy knieë voor God deurkruip oor die oneer wat hy God aangedoen het. Wie spyt is, betreur die skade aan sy eie naam. Wie berou het, treur oor die skade aan God se naam. Wie net spyt is vind nog ruimte vir selfverdediging. Wie ware berou het, neem volledig en onvoorwaardelik skuld op homself. Sonder verskonings, sonder ‘n “ja...maar” of ‘n “ek kon nie anders nie”. Met ander woorde, wie ware berou het werp homself geheel en al op God se genade, barmhartigheid en liefde. Soos Dawid dit pragtig in die Psalm stel: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde” (Ps 51:3).

Bely – Dit beteken daarom openlik uit te spreek, te voice. Dit is nie net kop of gedagte ding nie , maar gaan oor in dade en praktyk met woorde. Jy sê ek is jammer en vra dat dit gedreineer word. Bely lei tot TERUGKEER.

Jak 5:16 Afr. 83 “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.”

Dink aan Jesus waar ‘n spies in sy sy gesteek word. So is belydenis die spies wat ‘n weg open vir God se bloed om die infeksie te laat uitkom. Om vergifnis te vra en te gee is die dreinering en vrylating van die effusie en infeksie van woede. Dit bring verligting, heling, herstel en genesing in jou lewe. Dus, omdat jy deur God vergewe word, verniet en sonder verdienste, gee en bied jy vergifnis teenoor ander sonder dat die persoon dit verdien.

Luk. 7: 47 Afr. 83 “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

En dit beteken dat as jy iemand seer of kwaad gemaak het, jy jou fout erken en dat jy om verskoning vra. Soos die verlore seun wat as gevolg van die W’s van: wen, waarheid, wellus ens. in die varkhok beland. Gelukkig erken hy sy fout, het berou daaroor, bely dit teenoor sy pa, vra vir vergifnis en word bevry. Teenoor die oudste broer wat kwaad was vir sy jonger broer asook ook vir die pa se genadige optrede en vergifnis. Daar is vandag mense wat kwaad is vir die kerk (veroordeling, foute, hard of te sag, te veel genade, te veel akkommodering), of vir godsdiens (oorsaak alle skade, probleme, fights en sterftes), en selfs vir God (Hy is dan die oorsaak van al die bad stuff – Hy is kwaad en straf almal). Dis hoekom Jesus sê dat Hy, die WAARHEID self, sal mense vrymaak. Vry maak van wat? Godsdiens. Daar was 622 wette wat baie swaar op mense gedruk het. Dit was ’n  juk. Jesus sê “Kom na My almal wat moeg en uitgeput is” van die wet en die straf wat dit meegebring het. Waarvan sal ons vandag bevry moet word? Godsdiens? Dit het met ten minste 6 van 7 W’s te doen. Die oudste broer was verlore in sy godsdienstigheid en na sy oordeel sy goedheid, maar hy moes eintlik daarvan bevry word. Ons moet bevry word van godsdiens, want godsdiens is swaar.

Dis ’n uiterlike onderhouding van gewoontes, tradisies, rituele, wette wat jou laat dink jou saak met God is reg. Reg as gevolg van jou regte dade oor alles wat jy goed gedoen het. Dit bring ’n superior houding teenoor ander, jy oordeel en veroordeel. Daar is so baie mense wat hiervan bevry moet word. Hulle moet bevry word sodat hulle God innerlik lief kan hê en Hom met hart en siel te kan dien. Om vry te kom van vrees, oordeel en veronderstellings – in verhoudings. In sy diepste wese is Christenskap verhoudings. Dis gerig en word gedrewe deur die liefde.

Matt. 11:28 Afr. 83 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee.”

Die wonderlike gevolg hiervan is dat dit jou verhouding met God verdiep. Dit bring jou nader aan Hom.

Jou herstelde verhouding met Hom en met ander, selfs jou vyand, bring vreugde en blydskap. Dit bring vergifnis en om ander uit liefde te vergewe. Ons almal sit met woede in ons oor iets wat gebeur het of iemand wat iets aan jou gedoen het. Om daardie rede het ons almal God se vergifnis nodig, om vry te kom van die kwaad. Doen jy dit nie, veroorsaak dit effusie - infeksie - wat lei tot wrokke en verbittering. In die praktyk speel dit uit op wraak en moord soos Kain. Maar om daaroor te heers, is om te vergewe, om vry te kom, sodat jy kan liefhê. Kyk wat doen die liefde aan en met infeksie en effusie. Dit verander...

Woede, kwaad, ontplof, verloor jouself, humeur vining – NA geduld, stadig, onderhandeling.

Wrok, grudge, verbittering, haat, grief, wrewel, afsydig NA vergifnis, vry te stel, met kindness, soepel, sag optree.

Wreek, wraak, vergeld, straf NA genadig, gee reg op om te straf, restitusie.

Ween, seer, pyn, ongelukkig, onreg gepreokkupeer, vertroetel, identiteit, manipuleer NA heling, gesond, groei.

Wen, bedrog, huigelary, jaloesie, kompetisie, afguns NA mededeelsaamheid en  spanbenadering.

Waarheid, hoogmoed, narsis, reg, hard, ongenaakbaar, vuur spoeg NA begrip, ruimte, openheid, akkommodering, vriendelik, sagmoedig.

Wellus, vraatsug NA matig, beheersd, selfbeheersing.

Amen

Read 52 times

Groei

Materiaal vir groei & Bybelstudie

Lees meer

Gemeenskap

Reik uit na die gemeenskap

Lees meer

Koinonia

Interaksie tussen gemeentelede

Lees meer

Kalender

Bly op hoogte van al ons gebeure

Lees meer