NG Kerk Eros Preke
Sondag, 18 Augustus 2019 09:00

Nader 2019: Ek nooi jou uit...om ander in te nooi!

Geskryf deur

Sondag 11 Augustus 2019 

1.    Inleiding

Tydens hierdie reeks gebruik ons deurgaans twee beelde om ons te help om God se uitnodiging beter te verstaan. Die eerste beeld is ‘n ikoon wat ontwerp is deur Andrei Rublev en die tweede is ‘n leer. Ter wille van die besoekers, kyk ons gou weer na die betekenisse van hierdie beelde:

1.1.       Die leer

Die leer verwys na die tendens van die mensdom om deur sy eie poging waardig te word. Mense wat so leef word beskryf as mense wat in die “eie ek” leef. Skielik word ons prestasies en aansien voorop gestel asof ons ‘n leer probeer klim na God toe. Die ironie is egter dat as ons só leef, mis ons heeltemal vir God en beweeg ons in die proses net nog verder weg van mekaar en van God af. Ons tema van die termyn is nader, nie verder nie!

Hierdie leer is dus ‘n simbool van ons wat probeer om uit ons eie by God uit te kom. Die leer laat my ook dink aan Genesis 28 waar ons lees hoe Jakob een nag op ‘n klip aan die slaap raak en droom hoe die engele van God met ‘n leer op en af klim aarde toe. Toe hy wakker word sê hy “God was altyd hier en ek het dit nie besef nie!”

Dit bring ons dan by die kunswerk, wat ‘n uitbeelding is van hoe God, as Triniteit, reeds op aarde is en onder en in ons werk.

1.2.        Andrei Rublev

Hierdie ikoon is sowat 500 jaar oud en word deur baie mense beskryf as een van die beste christelike kunswerk wat bestaan. Een bekende teoloog het die volgende oor die ikoon gesê: “Rublev’s icon of the Trinity exists; therefore God exists.”

Kom ons kyk hoekom dit, vir miljoene mense oor meer as ‘n halwe millennium, so baie beteken.

Ons sien…

  • Ons sien die Triniteit uitgebeeld as drie persone.
  • Ons sien almal se koppe na mekaar gebuig, daar is geen hoof nie, net totale gelykheid.
  • Ons sien ‘n opvallende gebruik van kleure.
    • Die eerste opmerking is dat al drie persone se klere blou bevat, wat iets sê van die afkoms van die blou van die Hemel.
    • Die feit dat mens die gebou, boom en rots kan sien, beteken dat hulle nie in die hemel sit nie, maar op die aarde! Die huis van God, waar die Triniteit bymekaar kom, is op aarde.
    • Kom ons kyk na die 3 persone van links na regs:

Goud is die kleur van die Vader wat spreek van volheid, heelheid en volmaaktheid.

Blou is die kleur van Jesus. Ons weet water is blou, omdat dit die blou  lug reflekteer. So reflekteer Jesus die goddelikheid van die hemel op aarde. Dit spreek van Jesus se Godheid en mensheid. Dit word ook deur die twee vingers wat Jesus uithou, uitgewys.

Groen is die kleur van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word beskryf as die heilige, lewegewende oorsprong wat alles laat groei en blom in eindelose skakerings van groen.

  • Ons sien God drie-enig wat eindeloos in totale vreugde en vrede saam kuier, en uit dieselfde bak eet en deel. As ons hierdie uitbeelding ernstig opneem, kan ons sê “In die begin was die Verhouding”.
  • Ons sien die Heilige Gees se regterhand wat wys na die 4de plek aan die tafel. Sien jy dit? Vir wie kan dit wees?
  • Ons sien, as jy naby kyk, dat daar iets is wat ontbreek in hierdie kunswerk. Sien jy die reghoekige “gat” in die middel? Baie mense mis hierdie deel. Kunswetenskaplikes sê egter dat daar ‘n stuk gom is wat op die oorspronklike beeld vassit, wat eens ‘n spieël vasgehou het.
  • Ons sien die 4de plek aan die tafel, is vir dié een wat na die kunswerk kyk. Die 4de plek aan die tafel is vir jou. Die Heilige Gees nooi jou uit om by die verhouding te kom aansit. Is dit nie ongelooflik nie?

Mense wat die “eie ek”, dus die klim van die leer prysgee, kies om deel te word van God en die verhouding van die Triniteit. Mense wat só leef, leef in die groter “EK is” verhouding. Ons kan ook sê dit is die groter “ONS” verhouding.

2.    Skuldbelydenis-gebed / Epiklese

Dis goed en wel om uitgenooi te wees en om die uitnodiging van om deel te wees van die groter “ONS” verhouding te aanvaar, maar wat is óns rol in hierdie verhouding? Kom ons kyk hoe die teks ons vandag hiermee kan help, maar kom ons bid net eers saam vir leiding.

Liewe Heer, ons is tog so dikwels besig om op ons eie by U te probeer uitkom. Dié wêreld druk ons om só te leef. Help ons Heer, om as Christene die alternatiewe storie, die nuwe storie te skryf. Help ons om U genade te verstaan sodat ons as kerk daardeur ook ons plek as lid van U Liggaam kan inneem. Lei ons tog deur U Woord sodat ons meer van U kan leer. Lei ons om U uitnodiging te verstaan, dat ons kan deelneem aan die dans. Amen!

3.    Skriflesing: Lukas 14: 16-23

  1. Toe sê Jesus vir hom: “Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het.
  2. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’
  3. Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’
  4. 'n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u verskoon my asseblief.’
  5. Nog 'n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.’
  6. “Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’
  7. Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’
  8. Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.

4.    Preek

4.1.       Historiese interpretasie

Hierdie gelykenis is deur die geskiedenis al op vele verskillende maniere verstaan.  Die uitnodigings word onder andere as metafoor van verlossing en redding geïnterpreteer. Die gaste in die storie, wat nee gesê het, word dan vergelyk met mense wat vir God se verlossing, ‘nee’ sê. Baie meen dat God as die gasheer verstaan moet word wat almal na die feesmaal (hemel) uitnooi, maar dat slegs dié wat besluit om te kom daaraan kan deelneem. Ons is dan die uitgenooides, wat moet besluit of ons in of uit is. Die laaste deel van die gelykenis sê dan dat God gelukkig is daarmee om die “slegter” mense te kies, om ons plek aan tafel in te neem. Hierdie is een manier om die teks te verstaan. Ek sê nie dis verkeerd nie, maar persoonlik dink ek dat daar ‘n baie dieper betekenis in hierdie teks opgesluit lê.

Hoe sou ons verstaan verander, as ons fokus op Jesus se woorde? Of as ons fokus op die inhoud van die verhaal? Onthou, Jesus praat hier met regte mense wat regte probleme het. Jesus beloof nie slegs redding van die aarde nie, maar redding binne die aarde. Jesus se fokus was nie net op die mense wat ‘nee’ gesê het vir die partytjie nie. Jesus se fokus was veel wyer en was gerig op die onwaarskynlikheid om die randfigure uit te nooi. Julle sien die verskil, ne? Hierdie manier van lees, bied vir ons ‘n ander storie met ánder waardes.

4.2.       Alternatiewe storie – Agtergrond

Om die alternatiewe storie beter te verstaan, gaan ons na die uitleg van ‘n antieke stad kyk. Onthou, dis die prentjie wat die eerste hoorders van hierdie gelykenis in hulle koppe sou gehad het, toe Jesus destyds met hulle gepraat het. So byvoorbeeld sou ‘n antieke stad in Jesus se tyd toe Hy die gelykenis wat ons gelees het, vertel het die volgende aspekte hê wat ons in die beeld kan sien:

 

Jerigo.jpg

  • Fisiese grense

Die fisiese grense is duidelik sigbaar in die mure rondom asook binne die stad. Dit laat mens amper dink aan die muur wat Donald trump wil bou. Nes in Donald Trump se geval, is hierdie grense maar net ‘n simbool van die sosiale grense. Die resultaat van sosiale grense het baie slegte gevolge. In Amerika, is daar verlede naweek weer oor die 30 mense doodgeskiet wat hoofsaaklik ‘n direkte gevolg is van Donald Trump se uitsprake teen immigrante.  

  • Sosiale grense

So was daar ook baie streng sosiale grense in die Ou Nabye Ooste. Ons sien ook ‘n beweging, ‘n uitkring van heiligheid. Die heiligste is in die middel en die onheiligste buite. Daar was binnemure met hekke wat die interaksie tussen die sosiale groepe beheer het. Hoofsaaklik was daar 3 afgesperde gebiede of kringe:

  • Die eerste kring was in die middel waar ons die paleis, tempel en ‘n paar huise van die rykes gekry het. Die middestad was duidelik met ‘n binne muur afgesper Dit is waar die gasheer in die gelykenis bly. Kom ons noem hom sommer ‘Peet’.
  • Die tweede kring was geskep sodat die gewone mense, die armes buite die rykes se grense kon bly, maar tog binne die grense van die stad kon wees. Die lewensomstandighede hier was sleg, die strate stowwerig, klein en die gebied oorbevolk. Baie het verstik aan die rommel. Varke, voëls en honde sou oral aan die rommel vreet. Die honde was bekend as die skoonmakers en eintlik ongewenste diere wat oral aan die gemors vreet en natuurlik onheilig was. Peet sou hierdie gedeelte van die stad met alle mag probeer vermy het.
  • Dan was daar ook ‘n 3de kring wat die siekes, die melaatses, die kreupeles, prostitute, bedelaars ensovoort, ingesluit het. Hulle het fisies buite die stad gebly en was as onheiliges beskou. Hulle mag uiteraard nie naby die rykes binne die stad, gekom het nie. Sosiale interaksie met mense binne die stad was heeltemal buite die kwessie vir hulle en as jy binne die stad was, sou jy baie moeite gedoen het om hierdie mense so ver as moontlik te vermy.
  • Uitnodigings

Die kruks van die saak is egter hoe uitnodigings in daardie tyd gewerk het. Dit was ‘n gebruik van die tyd om lank vooruit ‘n tipe “save the date” uitnodiging te stuur. Op die dag van die geselligheid sou jy jou slaaf uitstuur om die gaste vir oulaas te gaan herinner. Dit beteken dat die drie ‘verskoningsoekers’ van die gelykenis, tien teen een vooraf met mekaar gesels het en saam besluit het dat ‘Peet’ nie oulik genoeg was om by te gaan kuier nie. Uitnodigings vir etes, soos in die gelykenis, was veral onder rykes ‘n groot toets van jou sosiale status. Net omdat iemand in die binnemure van die binnemure gebly het, het nie beteken dat almal daar gelyk was nie. Daar was ‘n konstante stryd oor wie belangrik genoeg is. Uitnodigings was niks anders as ‘n toets om te sien hoe vêr jy teen die leer op is nie. Die mense wat na Jesus geluister het, sou op hierdie punt almal op die punt van hulle stoele gesit het.

1.1.       Draaipunt

Nou kom die groot draaipunt in Jesus se gelykenis. Jesus vertel hoe ‘Peet’ ‘n vreemde ding doen. Peet is kwaad, maar in plaas daarvan dat hy woedend veg teen diegene wat sy uitnodiging van die hand gewys het ,kies hy om vir geregtigheid te veg. In plaas daarvan om weer te probeer om die rykes se guns te wen, dalk op ander of beter maniere, breek hy al die sosiale reëls. Hy nooi dié wat in ‘n laer klas as hy is. Nie net nooi hy die laer klas wat net-net buite die heilige mure is nie, maar selfs die wat buite die stad se mure is naamlik, die siekes, die melaatses, die kreupeles, prostitute en die bedelaars. Peet gooi ook nie net die reëls van die stad en eerbaarheid uit die venster nie, maar hy gooi ook die reëls van die tempel en van reinheid uit die venster uit deur hierdie “onrein” mense uit te nooi. Hy het daardeur die mure wat die klasse skei afgebreek en die wêreld onderstebo gedraai. Deur hierdie mense uit te nooi, het hy homself met hulle vereenselwig. Daardeur sê hy dat hy kies om eerder soos hierdie randfigure te wees as om soos die leerklimmers te wees.

Die gelykenis se fokus is nie op ons wat die uitnodiging na die hemel moet aanvaar nie, maar op God wat Sy huis vol wil hê. Ons het ook ‘n rol, naamlik om die wat nie welkom voel nie in te nooi sodat God se huis vol kan word.

Jesus gebruik vir Peet om ons iets te vertel van die Koninkryk van God, waar die belangrikste waardes van eer en reinheid skielik geen rol meer speel nie. Om grense te kan oorsteek, moet ‘n prys betaal word. Hier gaan dit nie meer oor hoe hoog jy die leer kan klim nie. Peet het in hierdie gelykenis besef dat dit nie oor hom gaan nie. Hy is deel van iets baie groter as homself. Peet het eerder gekies om deel van die “EK is”-, die groter “ONS” verhouding te wees.

2.    So what?

Nou kan ons vra “so what?” Wat beteken dit vir ons op ‘n praktiese vlak?

2.1.       Die toets

Die feit van die saak is, die wêreldtendens is om grense te bou. Mense bou grense sodra hulle bedreig en bang voel. Grense is bloot teen God se wil! Hierdie gelykenis leer ons dat ons as Christene die alternatiewe storie moet skryf. Ons moet eerder brûe as mure bou. Een manier hoe jy jouself kan toets wat grense aanbetref is, om jouself af te vra: Wie is almal deel van jou “ons”? Is “ons” die familie? Is “ons” afrikaners? Is “ons” gekoppel aan jou vel kleur?

12.3. Slot

Jesus het die mure afgebreek en hekke oopgemaak sodat ons almal in vrede en in gelyke verhouding kan leef. Dit is die Evangelie. Die skrywers van ‘This is me’ het iets van Lukas verstaan.  Hulle verstaan hoe mense wat uitgestoot word, weer deel kan word van die groep en gelyk wees. Johannes het iets van Lukas verstaan toe hy my, ‘n nuweling, aan die hele groep voorgestel het. Mag jy ook hierdie boodskap aangryp en grense afbreek sovêr jy gaan. Kom ons gebruik ‘n oomblik om na te dink oor die grense wat ons beleef. Dalk beleef jy grense tussen jou en

-           iemand by jou werk,

-           iemand by die skool,

-           iemand wat anders as jy glo,

-           iemand met ‘n ander seksuele oriëntasie,

-           iemand van ‘n ander ras,

-           iemand in jou familie of gesin.

Gebruik nou ‘n oomblik van stilte en dra hierdie mense aan die Here op…

Amen

n Video opname van die preek kan verkry word by: https://www.facebook.com/NGErosGemeente/videos/2344559175612824/

Sondag, 04 Augustus 2019 09:00

Nader 2019: EK nooi jou uit...na MY Huis

Geskryf deur

Sondag 4 Augustus 2019

 

Hoekom hou ons so baie van uitnodigings?
Uitnodigings is spesiaal want:

  • ‘n uitnodiging maak jou deel,
  • ‘n uitnodiging sê “ek het aan jou gedink”,
  • ‘n uitnodiging sê daar is iets lekkers wat gaan gebeur en jy gaan kan deel in daardie vreugde.

Ons begin vandag met ‘n 3 weke reeks oor geleenthede waarna God ons uitnooi, want die Bybel is propvol uitnodigings wat wag vir ons om te RSVP. Nou kom ons kyk wat is God se uitnodiging vir vandag…
God sê vandag: EK nooi jou uit… na my Huis!

1.Andrei Rublev se ikoon van die Triniteit

Kyk gerus na die Russiese ikoonskrywer Andrei Rublev se ikoon van die Triniteit. Die oorspronklike een op die bord wat nogsteeds uitgestal word in die Tretyakov gallery in Moskou. Hierdie ikoon is sowat 500 jaar oud en word deur baie mense beskryf as een van die beste christelike kunswerke wat bestaan. Een bekende teoloog het die volgende oor die ikoon gese: “Rublev’s icon of the Trinity exists; therefore God exists.”
Kom ons kyk hoekom dit vir miljoene mense oor meer as ‘n halwe millenium, so baie beteken.
Ons sien…

  • die triniteit uitgebeeld as drie persone,
  • almal se koppe na mekaar toe gebuig. Daar is geen hoof nie, net totale gelykheid,
  • ‘n opvallende gebruik van kleure:
    • Die eerste opmerking is dat al drie persone se klere blou bevat, wat iets van die afkoms van die blou van die Hemel sê.
    • MAAR, die feit dat mens 'n gebou, boom en rots kan sien beteken dat hulle nie in die hemel sit nie, maar op die aarde! Die huis van God, waar die triniteit bymekaar kom, is op die aarde.
    • Kom ons kyk na die 3 persone van links na regs:
      • Goud is die kleur van die Vader – wat spreek van volheid, heelheid en volmaaktheid.
      • Blou is die kleur van Jesus – Ons weet water is blou, omdat dit die blou lug reflekteer. So reflekteer Jesus die godlikheid van die hemel op aarde. Dit spreek van Jesus se Godheid en menslikheid, dit word ook uitgewys deur die twee vingers wat Jesus uithou.
      • Groen is die kleur van die Heilige Gees – die Heilige Gees word beskryf as die heilige, lewegewende oorsprong wat alles laat groei en  laat blom in eindelose skakerings van groen.
  • in hierdie kunswerk God drie-enig wat eindeloos saam kuier, eet en deel uit dieselfde bak in totale vreugde en vrede… As ons hierdie uitbeelding ernstig opneem, kan ons sê “In die begin was die Verhouding...”.
  • die Heilige Gees se regterhand wat wys na die 4de plek aan die tafel. Vir wie kan dit wees?
  • as jy naby kyk, dat daar iets is wat kort uit hierdie kunswerk. Sien jy die reghoekige “gat” in die middel? Baie mense mis hierdie deel, maar kunswetenskaplikes sê daar is ‘n stuk gom wat op die oorspronklike beeld vassit wat eens ‘n spieël vasgehou het. Die 4de plek aan die tafel is dus vir die een wat na die kunswerk kyk. Die 4de plek aan die tafel is vir jou. Die Heilige Gees nooi jou uit om by die verhouding te kom aansit. Is dit nie ongelooflik nie?

Hoekom is hierdie beeld vir ons belangrik?

2.Die probleem & Gevolg

Baie mense verkeer onder die wanindruk dat God baie ver is. Dat hy daar ver bo in die hemel is, verwyderd van ons. Soos die sogenaamde “Pie in the sky when we die”. Ons vergeet dat God in sy 3-enigheid in verhouding met ons en die aarde hier by ons is. Dat Hy in ons en om ons betrokke is…soos wat die ikoon vir ons probeer wys.
Wat ons moet besef, is dat hierdie wanindruk ‘n direkte invloed het op hoe ons leef…
As jy dink dat God baie ver van jou af is, is jou verhouding met Hom afhanklik van dit wat jy self doen. Dan moet jy, met respek gesê, die God in die hemel dien, sodat Hy gelukkig kan wees en jou kan seën. Baie mense, selfs mense wat hier sit, selfs ek, verval soms hierin. Skielik word ons prestasies en aansien voorop gestel asof ons ‘n leer na God toe probeer klim. Die ironie is egter dat as ons só leef, mis ons heeltemal vir God en beweeg ons verder van mekaar en van God af.Ons tema van die termyn is nader, nie verder nie!
Die leer is ‘n simbool van ons wat probeer om uit ons eie by God uit te kom. Die leer laat my ook dink aan Genesis 28 waar ons lees hoe Jakob een nag op ‘n klip aan die slaap raak en droom hoe die Engele van God met ‘n leer op en af klim aarde toe. Toe hy wakker word sê hy: “God was altyd hier en ek het dit nie besef nie!”
In plaas daarvan dat ons ons plekke aan tafel inneem by ‘n drie-enige God wat reeds op die aarde werk, probeer ons met ons goeie dade en leefstyl opklim na die hemel. In die proses mis ons heeltemal vir God. Dis bloot net nie hoe genade werk nie! Om die leer te probeer klim, is om onder die wet te leef. Paulus sê dis om in die vlees of sondige natuur te leef. Jy lewe in die “eie ek”. 
MAAR
Die nuwe verbond sê iets heeltemal anders. Die doop sê iets heeltemal anders. Die evangelie is ten diepste ‘n uitnodiging om jou “eie ek” (wat die plek probeer verdien) prys te gee, sodat jy kan deel word van die groter “EK is”. Die “eie ek” staan direk teenoor die “EK is”. Jy hoef nie die leer op te klim nie, want God het die leer klaar afgeklim. Dít is bekering, dít is wat dit beteken om as gedooptes te lewe in die nuwe lewe van Christus. Dit is nie altyd so maklik nie, kom ons bid saam vir leiding hiervoor…

3.Skuldbelydenis-gebed / Epiklese

"Liewe Heer, ons is tog so dikwels besig om op ons eie by U te probeer uitkom. Dié wêreld druk ons om só te leef, daar is baie stemme wat vir ons sê dat ons is nie goed genoeg is om U kinders te wees nie.
Help ons Heer, om as Christenne die alternatiewe storie, die nuwe storie, te skryf. Help ons om U genade te verstaan dat ons daardeur die sekerheid kan hê, dat ons kan wéét, dat ons goed genoeg is.
Lei ons deur U Woord waar ons nou meer van U gaan leer, lei ons om U uitnodiging te aanvaar, want na die afsterwe van onsself kom daar nuwe lewe in U…"
Amen!

4.Skriflesing: Johannes 1:35-42

35        Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom.
36        Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”
37        Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg.
38        Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”
39        Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.
40        Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het.
41        Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.
42        Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.

5.Preek

Het julle al agtergekom hoe daar baie keer ‘n dieper betekenis lê as bloot dit wat mense sê? Dink maar aan die vrou wat vir haar man sê: "dis reg my liefling, jy is baie welkom om vir die 3de naweek in 'n ry saam met die manne te gaan visvang, terwyl ek alleen die kinders oppas."
Wat ons vir mekaar kan sê, is dat die vrou se boodskap baie meer gelaai is as wat bloot die woorde sê, nie waar nie? Dit is presies só met die teks. Daar is in die dialoog tussen Jesus en die dissipels 'n baie dieper betekenis as wat ons op die oog af sien. Ons gaan nou ook spesifiek na hierdie dialoog kyk, waar Jesus praat, dan die dissipels, dan weer Jesus en laastens die dissipels:

5.1.Wat soek julle?

Jesus praat eerste en vra: “Wat soek julle?” Ek wens ek kon Jesus se stemtoon hoor. Dit sou darem baie gehelp het om die dialoog te verstaan. Dit kom voor asof Jesus geïrriteerd is, maar as ons nader kyk, sien ons dis glad nie die geval nie. Hy is die een wat omdraai, om met hulle te gesels. Hy is die een wat die inisiatief neem! Hy praat eerste... Soos met die vrou se gesprek aan haar man, lê hier baie meer as net bloot die vraag “waarna is julle op soek?” ‘n Beter beskrywing van die vraag sal dalk eerder klink soos: “Wat is jou diepste begeerte, wil jy my werklik volg?”

  • Paulus se vlees vs gees

Baie mense se diepste begeerte is om hulle “eie ek” te volg. Hulle heg hul waarde in die “eie ek”. Dan word hul waarde bepaal in wie hulle is, hoe hulle lyk en wat hulle doen. Hulle identiteit lê binne in hulself en daarom is dit beperk. Weet jy hoeveel spanning dit veroorsaak as mens só leef? Om die “eie ek” te volg, beteken jy moet perfek lyk. Dit beteken jy moet ryk wees, status hê, presteer en beter wees as ander mense, want jy is altyd in kompetisie met ander. Jy moet die leer klim, dag in, dag uit!
Die feit is, wanneer mens só leef sal jy nooit gelukkig wees nie. Jy sal nooit tevrede wees of voel jy is goed genoeg nie. Ek sal my kop op ‘n blok sit wanneer ek sê, ek dink hierdie is die hoof rede vir die depressie onder jongmense.  Daar is net te veel druk. Jy moet al die toekennings kry en vir elke span gekies word. Jongmense vat dan ook gewoonlik ‘n “gap” jaar om hulself te vind. (Nou praat ek met die tieners). Ek het niks teen ‘n ‘gap” jaar nie, maar só 'n fokus is verkeerd. Jy moet eerder vir God as jouself probeer vind. Die teenoorgestelde is dan waar, as jy vir God vind sal jy jou rol in die triniteit vind.
Nou gaan ek ‘n radikale stelling maak. Om die “eie ek” te volg is sonde. Glo julle my? Ek’s dood ernstig! Paulus was die mees invloedryke mens in die Nuwe Testament en dalk die wêreld. En om die “eie ek” voorop te stel, om die leer te klim, is Paulus se definisie van sonde.
Baie mense verwar Paulus se gebruik van die leef in die vlees of sondige natuur (waarvan ons in Galasiërs lees) met goed soos drank, dwelms, ooreet en seks. Wanneer Paulus praat oor vlees/sondige natuur, praat hy nie van hierdie liggaamlike gebruike nie, maar oor die leefwyse van om jou eie eer te probeer kry. As jy wonder of jy in die “eie ek” leef… kom ek gee gou 2 voorbeelde waaraan jy jouself kan toets, en ek belowe dit werk altyd.

  1. Let op hoeveel keer jy vasberade is om ‘n argument te wen vir die blote feit om die argument te wen. As jy in die “eie ek” leef moet jy altyd wen. Die goeie nuus is dat daar ‘n ander manier is hoe jy kan leef… ander mense mag ook wen. Jy verloor nie noodwendig as jy dit vir ander mense gun om ook te wen nie. En ja manne, dit geld selfs ook vir Gholf.
  2. ‘n Tweede toets is om op te let hoeveel keer jy aanstoot neem. Mense wat in die “eie ek” leef neem maklik aanstoot. Enige moontlike negatiewe stelling maak hulle seer en hulle is dadelik op die aanval. Mense wat in die “Ek is” leef neem… net nie… so… maklik… aanstoot… nie.

Hier wil ek graag met julle ‘n aanhaling deel van Dr. Barbara Holmes, ek lees dit in Engels, soos wat sy dit geskryf het Holiness is a concept that makes ordinary people nervous. . . . The holiness that Jesus describes has less to do with “good” character traits and more to do with the hosting of God’s presence. It is not effort but invitation that opens the human spirit to the possibility that God may live within us.

5.2.Waar gaan U tuis? – Dissipels

Dit bring ons by die volgende deel van die dialoog: Die dissipels vra: “Waar gaan U tuis?” Ook hierin sien ons ‘n dieper betekenis. Volgens Bybelwetenskaplikes sou dit ‘n voorbeeld wees van ondergeskikdheid aan ‘n gesagsfiguur om só ‘n vraag te vra. Wat hulle bedoel met hul vraag is “Kan ons saam met U tyd spandeer? Ons wil by U wees”…
Ons kan sien die dissipels kies die groter “Ek is” verhouding bo die “eie ek”. Die dissipels sou iets van Rublev verstaan, want hulle diepste begeerte was om saam met Jesus te wees. Ons kan sê hulle het die leer heeltemal ge-systap en gefokus op wie Jesus is en waar Jesus se tuiste is.
Dis die eerste keer wat ons die woord “tuiste” of “huis” hoor. Terloops... is dit nie vreemd dat dit nie vir ons bekend gemaak word waar Jesus tuisgaan nie? Jesus se huis is dan aan die kern van die vraag. Waar is Jesus se huis? Die eenvoudige antwoord hierop is dat die fisiese plek nie só belangrik is nie, maar dat die verhouding met God eintlik hier ter sprake is.
Dit laat my dink aan die gevoel wat mens kry na ‘n vakansie as jy weer by die huis instap. Die gevoel van vrede, aanvaarding, veiligheid, bekendheid, vergenoegdheid en liefde...Jull ken daai gevoel ne? So is die uitnodiging om Jesus te vind in Sy huis, wat nie gekoppel is aan plek nie maar aan ‘n verhouding en ‘n ervaring. Dít is wat dit beteken om deel te word van die triniteit. Dít is wat dit beteken om in die gees te leef, waarvan Paulus ons leer.
Ek hoop julle begryp die implikasie van wat Paulus hier vir ons sê. Paulus sê ons kan die goeie lewe lei as ons in die gees leef, as ons die “EK is” kies bo die “eie ek”. Volgens die 2000 jare oue Paulus is dit goeie spiritualiteit om só te leef. Selfs meer onlangse wetenskaplikes het hierdie manier van leef ontdek.
Daar is skokkende paralelle tussen Paulus se goeie spiritualiteit en wat vandag as beste praktyke beskryf word in goeie sielkunde.
SO!... Om jou “eie ek” op te verloor is om werklik jou lewe in die “EK is”-verhouding te wen.
Daar is ‘n video-uittreksel vanuit die film The Greatest Showman, kyk gerus na hierdie video op youtube. Hierdie toneel vertel die verhaal van PT Barnum wat sy eie roem nagejaag het, wat die leer probeer klim het en die punt heeltemal gemis het van waaroor dit werklik gaan. Hy het eers later besef dat hy die “eie ek” moet opgee as hy aan die dans wil deelneem. Hy wou terugkeur na waar die huis is. In hierdie video bely hy dat hy van nou af anders gaan leef en dat hy die uitnodiging aanvaar om huis toe te gaan.

5.3.“Kom kyk!” – Jesus

Dan kom die wonderlike vers, die rede hoekom ons almal hier is vandag. Jesus nooi ons uit om deel te word van die “Ek is” verhouding. Jesus sê: “Kom saam, dan sal julle sien” / “Kom kyk!”
Jesus sê…: “Jou dade is nie die hart van die saak nie, Ek is! Kom woon by My, kom woon in my en ek sal jou van binne verander. Jou dade is die produk, nie die voorvereiste nie.”
Jesus nooi ons uit om saam met hom in Sy tuiste te kuier om Hom beter te leer ken. Al is Jesus die leermeester, die hooggeagte Rabbi, sê hy jy is altyd welkom in Sy huis… Maak nie saak wie jy is nie!
Dit is Jesus se uitnodiging aan die dissipels, kom en kom kyk waar ek bly, kom word deel van die triniteit waarvan Ek reeds deel is.
Kan julle sien hoe hierdie uitnodiging heeltemal verskil van ons poging om die leer te klim?

5.4.“Kom kyk

Wat is die dissipels se antwoord op die uitnodiging? Hulle aanvaar die uitnodiging en die ervaring is so oorweldigend dat hulle dit nie vir hulself kan hou nie. Die eerste ding wat Andreas doen nadat hy saam met Jesus in Jesus se huis gekuier het is om sy broer, Simon, te gaan haal met die woorde: “Ons het die Messias gevind!”. Hy kon nie anders nie, hy moes sy broer na Jesus toe bring. Toe gebeur daar ‘n wonderlike ding… Jesus gee vir hom ‘n ander naam, die naam van Petrus… Skrywers sê die feit dat Jesus vir hom ‘n ander naam gegee het beteken dat Jesus hom aanneem en daarmee bevestig dat Petrus ‘n rol het as deel van die verhouding van die triniteit…
Dit bring ons vanoggend by die doop, dit bring ons by ‘n ma wat Jesus se uitnodiging aanvaar het en so oorweldig was om saam met Jesus te kuier dat sy nie anders kon as om haar seun ook na Jesus toe te bring nie. En vandag kry Louis se naam ander betekenis waar hy deur God aangeneem word as deel van die verhouding van die triniteit.

5.5.Verduidelik/vertel formulier soos vir die ANTZ

  • Ons word gedoop omdat God vir ons baie lief is en met ons in ‘n verhouding wil wees,
  • OT – God en Abraham se verbond (Genesis) “Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag”. As tekens het die Here in die OT die besnydenis en paasmaal gegee. Die paasmaal is waar ‘n lammetjie geoffer is namens die sonde van die mense. Oor die besnydenis kan julle vir mamma en pappa by die huis gaan vra.
  • NT – In die NT lees ons hoe Jesus die finale paaslam geword het en die besnydenis vervang het met die doop. Ons lees in Mattheus waar Jesus sê “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
  • Die doop is ‘n sakrament (heilige teken) wat ons met ‘n seël aan Jesus verbind.
  • Só…die doop is Jesus se groot uitnodiging aan ons, om deel te word van wie Hy is en ook ons belofte om Hom te dien.

5.6.Doop

Jesus neem die inisiatief en kom eerste na ons toe, wat ons doen en hoe ons leef is die produk daarvan en nie ‘n voorvereiste nie. Daarom dat ons vandag begin by die doop met die doopgeloftes aan die einde.
Doop : Louis Thomas Kruger

5.7.Doopgelofte aan Mariska en familie

5.8.Dankgebed

6.Stilte

Daar is een laaste uitnodiging van die teks waarmee ek wil afsluit.
Een van die geheimenisse van die teks is dat die identiteit van die 2de dissipel, wat saam met Andreas geloop het, nooit aan ons bekend gemaak word nie, hy is as’t ware ‘n gesiglose dissipel.
Niemand kon tot dusver vasstel wie hierdie gesiglose dissipel was nie. Nou kan ons vra: Was dit ‘n fout? Ek dink nie so nie! Ek dink dat hierdie dissipel se naam aspris weggelaat is om jou in die dialoog in te trek, dat wanneer jy die teks lees jy uitgenooi word om jouself in die skoene sal plaas van die gesiglose dissipel.
Ek gaan nou spesefiek met Mariska praat, maar ek vra dat almal hulle oë sal toemaak en die volgende saam met Mariska verbeel…
Verbeel jou jy staan in die veld langs die rivier saam met Andreas op 'n rustige koelerige oggend. Een van jou vriende, wie jy vertrou (Johannes) wys vir jou met sy vinger na 'n ou en sê “daar is die Lam van God”. Jy het al gehoor van hierdie Jesus man en word so aangeraak dat jy deur pure nuuskierighied agter hom aanloop. Skielik draai Jesus om, hy kyk jou stip in jou oë en vra vir jou: “Wat soek jy?”. “Wat is julle diepste behoefte, wat het jou laat besluit om My te volg?” Jy's stom geslaan en al wat jy uitkry is 'n vraag “Here, my diepste verlange is om U te vind en om saam met U tyd te spandeer in U huis, waar bly U?”. Jesus doen die ondenkbare, hy sê "kom kyk Mariska, kom kyk!". Hy nooi vir jou en Andreas uit om saam met Hom te kuier tot die volgende môre. Jy is só oorweldig dat jy teen die volgende môre nie anders kan as om jou seun te gaan haal nie. Met ywer roep jy uit: "Kom saam ons het die Messias gevind!" Jy bring vir klein Louis by Jesus. Jesus kyk hom stip in die oë en sê “jy is Louis Thomas Kruger seun van Mariska; en van nou af sal jy my kind wees.”

Amen

 

'n Video opname van die preek kan verkry word by:

https://www.facebook.com/NGErosGemeente/videos/1399799593491056/

Sondag, 28 Julie 2019 09:00

Nader 2019: Hou aan Bou!

Geskryf deur

Sondag 28 Julie 2019

 

Ons is besig om na die boek Nehemia in die Ou Testament te kyk. Jy kan die hele boek met die volgende opsom: Die herstel van God se saak (opbou van die muur) en jou taak.

Wat maak jy met jou lewe en tyd? Wat bou jy? Skure soos in Lukas 12 waarby net jy baat of mure waarby ander ook baat? Elke mens bou iets met sy lewe. Jy is ‘n steen wat iewers inpas waar die muur (gemeente en gemeenskap) stukkend is, opgebou en herstel moet word. Nehemia het dit reggekry dat almal se harte in die opbou van die muur was (Neh. 4:6). Almal het gebou en gewerk aan die herstel van God se saak. Stel jou voor almal in Eros kom kerk toe, woon die ‘ontdek jou gawes’- kursus by, dien in bedienings, gee hul tiendes, skakel in by die huisgodsdiens op Woensdae. Die samewerkingskrag van almal is juis ook ons gemeente se visie: ‘Christus alles en in almal’.a
Ons het verlede week afgesluit met die muur wat klaar gebou en herstel was in net 52dae. Vanoggend gaan ons dit van nader bekyk. Dit kan klink of die opbou van die muur maklik was, omdat dit in net 52 dae gebeur het. In werklikheid as dit baie moeilik en uitdagend gewees. Kom ons kyk na die omstandighede waarbinne hulle die muur moes bou. Dit sal ons help wanneer ons in soortgelyke omstandighede kom. Die belangrike vraag is: hoe hou mens aan om te bou sonder om te stop of op te gee? Eerstens was daar vyande om die stad. Neh. 4:7 beskryf dat hulle uit die Noorde, Ooste, Suide en Weste gekom het. Die vyande het dinge moeilik gemaak deur met teenkanting en weerstand die proses te laat ontspoor (Neh. 4:1). Daar was ook publieke spottery en vernedering (Neh. 2:18), vervolging, dreigemente, sameswering (Neh. 4:8), konflik, innerlike divisie, uitbuiting (Neh. 5:2-5), leuens, onenigheid, en verdeeldheid (Neh. 6:6-10). Julle weet mos, dis makliker om met iets te begin, met goeie voornemens, besluite en beloftes as om daarmee vol te hou. Enige goeie ding vir en in die koninkryk soos jou eie geestelike muur verder ook die muur van jou huwelik, jou kind, jou kerk (bediening en vrywillige hulp), jou werk en gemeenskap, dus enigiets wat jy besluit om te bou of herbou, omdat dit gebreek en stukkend is, sal jy die wind van voor kry met teenkanting, opposisie, probleme, uitlag en spottery. Hierdie dinge maak dit moeilik om aan te hou, want die uitdaging is altyd om aan te hou. As jy jou naam op die muur skryf en met God se bouwerk begin, word jy eerstens uitgedaag om nie te stop, op te hou, op te gee, of te quit nie.  Tweedens om te volhard, deur te druk en aan te hou. Die oomblik as jy met die opbou van die muur begin sal jy versoek, verlei en ontmoedig word deur die vyand. Die vyand is daai stemmetjie wat vir jou sê jy sal nie slaag nie. Dan sal jy wil ophou, omdat jy voel dit help tog nie, niks verander nie, daar is geen vordering, geen dankies of waardering nie. Daar is inteendeel net kritiek en alles is ‘n gesukkel. Dit maak jou moeg en moedeloos. Mens raak gou ontmoedig as dit wat jy mee begin het langer vat as wat jy gedink het, dit moeiliker is as wat jy verwag het en as niemand jou help nie. Dit is persies hoe die mense in Nehemia se tyd gevoel het. Jy lees daarvan in Neh. 4:10 waar daar staan, hulle kon nie meer nie, dit was te moeilik en dat hulle wou opgee.
Nou hoe bly jy positief en hoopvol as jy so voel? Hoe hou jy aan en volhard jy in sulke tye?
Nehemia het gesê? Jy moet veg! “Fight for your brothers, and your sons and your daughters, and wives and homes!"  Neh 4:14b. Veg of fight met jou . . .
 

  1. Ore - LUISTER – Jy onthou weer die stem van God wat jy gehoor het. Jy onthou jou roeping, van hoekom jy doen wat jy doen en hoekom jy jou daartoe verbind het (Neh. 4:6).

  1.  – KYK – Jy sien weer die eind prentjie in die toekoms waar dit ‘n beter plek en tyd is (Neh. 4:14). Jy verfris jou visie. Jy visualiseer dit en sien jouself in dit wat jy bou en wil bereik. “A man was watching men building and ask them “What are you doing?” one replied, “I’m earning money.” The second man replied, “I’m working” The third man said “I’m building a cathedral!” He was the man with vision.” As jy so kyk, sien jy die onderliggende motiewe raak van diegene wat jou teenkanting gee en jou bouproses vir jou moeilik maak. Dan sien jy dat hulle . . .
  • bedreig word deur sukses en vooruitgang.
  • jaloers is op sukses en prestasie.
  • uitgesluit voel, dus nie in die ‘limelight’ is nie en dan ander probeer ‘downplay’.
  • nie hou van verandering nie en dit ten alle koste teen staan.
  1. Hande – jy LEES die Bybel – Nehemia laat sy mense met ‘n troffel in die een hand en ‘n swaard in die ander hand bou (Neh. 4:13). Die Bybel is die Woord van God en word met ‘n swaard vergelyk,  “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” Heb. 4:12. Die Bybel wys en vertel jou wie God is. Net in hoofstuk 9 is daar 52 verwysings na wie God is! Volharding begin met ‘n vars hoor en ‘n ontdekking van wie God is. Dis ook oor wat die Evangelie is, naamlik vrymaking, vergifnis, genade asook God se trou en beloftes vir wie Hom dien. “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend! Ons God sal vir ons die stryd voer” (vs.14,20). Jeremia 29 sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” Ps 127 sê: “As die Here die huis bou . . . gee die alles selfs in hulle slaap”. Psalm 18:13 sê: “Met my God spring ek oor ‘n muur”.
  1. Mond – PRAAT – In Neh. 4:20 sit Nehemia manne op die muur wat die ramshoring moet blaas as die vyand gewaar word. Dit was ‘n briljante kommunikasie sisteem wat sê ‘kom help’. Jy kan nie volhard as jy nie mense in jou lewe het vir wie jy kan sê ek het hulp nodig nie. Ek kry swaar. Bid vir my. Dit is die essensie van ‘n gemeente om mekaar te ondersteun, te help om nie uit te sak of op te gee nie. Onthou jy die ‘almal’. Daarom waarsku Heb 4:25 ons om nie weg te bly van die gemeente se byeenkomste en eredienste nie "Some people have gotten out of the habit of meeting with other believers . . .  but we should keep on talking and encouraging each other".

 
In moeilike en swaar tye is die versoeking juis om nie bogenoemde te doen nie, maar eerder om die volgende te doen (Let wel Nehemia het dit nie gedoen nie):

  • Om die man te speel in plaas van die bal (persoonlike vernedering, aanval, kritiek, lelik te wees, vergelding). Om op die persoon te fokus in plaas van die saak, vernietig verhoudings.
  • Om opstandig te raak, omdat sake nie jou ‘way” gaan nie. Jy wil alles beheer in plaas daarvan om te leer om aan te pas. Jy moet aanvaar jy is nie in beheer nie.
  • Om op ‘n emosionele roller-coaster te gaan van woede, kwaad, angs en bekommernis.
  • Om alles persoonlik te vat. Te dink almal is uit om jou te benadeel, te na te kom en te vra hoekom gebeur dit altyd met my? Te dink alles is teen jou, niks loop ooit reg nie.
  • Om na die negatiewe stemmetjie in jou kop te luister wat jou ontmoedig, afbreek en “downplay” deur te sê jy is sleg, ‘n mislukking of nie goed genoeg nie. Dit lei daartoe dat jy jouself verkleineer, bejammer en begin betwyfel in plaas daarvan om te glo dat “met my God sal ek oor die muur spring” en dat “die Here my sal help om die huis en die muur te bou”.

As jy bogenoemde weerstaan, sal jy dit wat jy aangepak het, voltooi. Dan moet jy . . .
Feesvier! Nadat hulle die muur voltooi het, sê Nehemia hulle moet weer die Loofhuttefees met vreugde en blydskap vier. In Neh. 8:12 lees ons: “Moenie so bedroef wees nie, as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm” en in 9:5, “Loof en prys die Here ons God”. In Neh. 12:27, “Hulle moes die inwyding (van die muur) vier met lofliedere en met die musiek van simbale, harpe en liere” en vers 43: “Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en die kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor.” Die geheim van godsdiens is: “God het hulle groot blydskap gegee.” Hy gee dit, Hy is die bron van vreugde in ons godsdiens. Dit is nie iets wat ons self in ons godsdiens kan inspuit nie. God gee dit. . . . daarom moet jy elke dag . . .
Met blydskap opstaan en met vreugde en dankbaarheid die muur bou, net oor wie God is: Heilig en onberispelik sonder perk asook oor die evangelie van verlossing, vergifnis, vryspraak, genade, oor God se trou, want die Blydskap in die Here is jou beskutting. Ons het nodig om meer die mure wat ons alreeds opgebou het en reggemaak het, te vier en daaroor dankbaar te wees in plaas daarvan om die heeltyd te kla, negatief en moedeloos te wees oor die mure waarmee ons sukkel of te voel dit vorder nie as gevolg van weerstand, probleme en mislukkings nie. Dit lei altyd dat jy sal wil opgee, in plaas daarvan dat jy eerder uit die boek Nehemia moet hoor “It’s always too soon to quit, and stopping hurts more”. Volhard, byt vas, hou moed-aan-uit-vol! Die beste lê vir jou voor, vir jouself, jou huwelik, jou kids, ons gemeente, die ekonomie en ons land. Dit is wat wat Jesus gedoen het. Hy het volhard en ten spyte van baie weerstand, teenkanting, vernedering, spot, lyding, verdagmakery, verloëning, ens. In die opbou van die muur van God se liefde en aanvaarding, het Hy aangehou tot die einde waar Hy met ‘n troffel in elke hand aan die kruis gesterf het. Hoekom?
Johannes 13:1 sê dit duidelik: “Hy het die mense liefgehad. Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad”. In die Grieks beteken dit: Hy het hulle tot die laaste druppel bloed liefgehad . . . kom ons vier dit in die nagmaal.

 

Amen

'n Video-opname van die preek kan verkry word by: https://www.facebook.com/NGErosGemeente/videos/459161174920869/

 

Sondag, 21 Julie 2019 09:00

Nader 2019: Kom ons Bou!

Geskryf deur

Sondag 21 Julie 2019

Carl Jung die bekende sielkundige het al in die 18de eeu gesê: “Die sentrale neurose van ons tyd is leegheid; ’n gebrek aan singewing.” Almal wil graag hê dat hul lewens sinvol moet wees. Maar al is ons oorvol besig en druk ons elke sekonde uit elke dag, voel mense nie dat hulle lewens sinvol is nie. Dat daar nie vervulling in hul lewens is nie en dat dit nodig is om jou self te vra waarmee jy jouself besig hou. Wat maak jy met jou tyd en wat doen jy met jou lewe? Soms lyk dit of jy met goed besig is of kan wees wat nooit enige vervulling en singewing gaan bring nie. Voel jy dat jou lewe iets beteken? Indien nie, is ek bly jy is hier vandag, want vandag gaan dit verander.
Daar is ‘n merkwaardige ware storie van ongeveer 2500 jaar gelede oor ‘n man se lewe wat eers geen betekenis gehad het nie en toe later ‘n lewe vol betekenis en sin. Dit stem baie ooreen met die tyd waarin ons ons nou bevind, naamlik van ‘n samelewing wat agteruit gaan en dinge wat inmekaar tuimel, morele verval, geen wet en orde, ekonomiese ellende, korrupsie, finansiële uitbuiting, onreg, misdaad, diefstal, geweld, vreemde invloede en verleiding, godsdienstige afval wat lei tot massiewe nood en ellende met die effek van moedeloosheid, hopeloosheid, wanhopigheid, negatiwiteit, uitsigloosheid, raadop, klaar, gaar, moeg, bang en bekommerd. Nadat daar vir 140 jaar sonder sukses probeer is, vind daar ‘n totale transformasie, ‘n reformasie, ‘n ommekeer van gemeenskap en samelewing plaas in net 52 dae deur net 1 man. Sy projek word vandag gereken as een van die merkwaardigste projekte ooit. Hy het iets gebou, wat gebreek was.
Tema: Kom ons bou! Kom ons herbou wat afgebreek en stukkend is. Jy is nodig. Ons het jou nodig om te help bou, want as jy nie jou tyd gebruik om te help bou nie, breek jy iets af. Elke mens bou of breek of herbou n huwelik, loopbaan, besigheid, liggaam, ‘n naam. Waaraan bou jy en wat bou jy met jou tyd?
Terug na die storie…Dis in die Ou Testamentiese boek Nehemia. Die boek is ‘n joernaal van Nehemia self ongeveer 500 jaar voor Christus. Hy begin waar ‘n paar Joodse mans in November maand ongeveer 1400 km te voet reis vanaf Jerusalem na Susan. Susan is die hoofstad van Elam wat vandag Iran is en lê by die Persiese see oorkant Kuweit. Kuweit is weer die plek wat die Persiese koning as winterpaleis gebruik het. Die Persiese koning se skinker was ‘n Jood, genaamd Nehemia. Hy was ‘n belangrike, invloedryke en gesiene man, want die skinker was ʼn vertroueling en raadgewer van die koning. Iemand wat baie naby aan die koning geleef het, deel van sy binnekring was en daarom baie invloed gehad het. Sy taak was om die koning teen vergiftiging te beskerm. Hy was iemand merkwaardige gewees, soos Josef. Omdat hy ‘n Jood was, het hy die mans geken, en met hulle gesels en hulle uitgevra hoe dit met die Judeërs gaan wat vrygelaat is en teruggegaan het na Jerusalem 70 jaar gelede (1:1-3).
Nou jy sou jy kon vra - wat maak hy as ‘n Jood in die vestingstad Susan in Persië? Hoekom werk hy daar? Hoekom is hy nie soos dit ʼn goeie Israeliet betaam in Jerusalem nie? Die antwoord is eenvoudig: Nadat die volk in die beloofde land ingelei is, het hulle afvallig geraak van die Here. Hy het hulle gewaarsku dat as hulle hulle nie bekeer nie, dan sal hulle in ballingskap wegvoer word. Hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en uiteindelik is hulle weggevoer na Babel. In Jer 29:5 sê die Here dat hulle moet huise bou, tuine plant en aanlê, trou en kinders kry, aangaan met hulle lewe in die vreemde stad, maar dat hulle ook die stad se belange moet bevorder en hulle inburger.
Maar ongeveer 70 jaar later het hulle toestemming gekry om terug te keer na hulle vaderland en net ‘n paar groepies het teruggegaan. Nehemia was ʼn nasaat van die mense wat besluit het om nie terug te gaan Jerusalem toe nie. Jy kan jou indink hoekom nie: dit het lekker geraak daar terwyl dit terug by die huis in Jerusalem ruïnes en ‘n puinhoop was. Verder het hy opgang gemaak in die staatsdiens van Persië en gevorder tot skinker van die koning. Vir 20 jaar het hy daar sy loopbaan en naam gebou. In die storie wat Jesus vertel in Lukas 12, sou jy dit kon vergelyk met die man wat sy skure groter gebou het en vir homself in vers18 gesê het “mens jy het goed gedoen” of anders gestel: “Jy het dit gemaak. Jy kan trots wees op jouself”.
‘n Tweede belangrike vraag vanoggend is: Bou jy skure (self) of bou jy mure (ander)?
Die storie gaan oor ‘n stadsmuur. Ganani sê vir Nehemia “Die muur van Jerusalem lê om en die stadspoorte is verbrand. Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad.” Neh 1:3.
Die Jode wat teruggekeer het na Jerusalem het intussen onder leiding van Serubbabel die tempel van die Here herbou, maar die muur wat die stad beskerm het, het in puin en ruïnes gelê. Dit was omdat die omliggende vyande enige poging om die muur te herbou verhinder het, want die muur het beskerming en veiligheid gebied. Mense kon net normal leef as daar ‘n muur was, want hulle kon beheer het wie en wat kom in by die stadspoorte. As daar nie ‘n muur was nie, dan kom enige jan rap en sy maat daarin doen en plunder en vat en maak net soos hy wil. Presies wat gebeur het. Die muur is ‘n simbool van SHALOM – ‘n holistiese vrede, veilig, vreugde en geregtigheid. Dit het iets van die koninkryk van God versinnebeeld. Dit is hier waar ons vir Nehemia ontmoet. Al was die tempel nou al weer herbou, het Nehemia geweet: So lank as wat Jerusalem se mure om lê, so lank sal die volk van God in Jerusalem in ellende leef, sal hulle uitgelewer wees aan die spot en smaad en vervolging van God se vyande in die omgewing. Die Godstad het ‘n muur rondom nodig om al die vreemde invloede, al die spotters, al die vyande van God buite te hou, sodat God se volk Hom in rustigheid kon dien sodat daar SHALOM sal wees en mense smakie van die koninkryk van God kon proe. Sonder die muur kon Jerusalem nie dit wees nie nl. die Godstad, die stad van Dawid, die stad waar die tempel van die Here op die heuwel Sion was, die enigste stad waar die Here gesê het dat die volk aan Hom offers mag bring. Dit was die godsdienstige sentrum van die volk. Die toonbeeld van God se trou en sy almag en sy genade.
Nehemia het geweet waarom dit sleg gaan met die Jode in Jerusalem, naamlik oor die afgebreekte en omgevalle, stukkende muur. Hy kon soos tevore gesê het dit het niks met my te doen nie, dis hulle probleem. Of hy kon dadelik die lang reis aangepak het om so gou as moontlik iets aan die saak te gaan doen. Maar hy doen nie een van die twee nie. Nee, wat doen hy? Niks, want die nuus gryp sy hart aan. Die informasie en statistieke van wat werklik daar gebeur het met die plat muur en poorte lei daartoe dat hulle geen weerstand het teen vyandelike en skadelike invalle nie, teen geweld, onreg, uitbuiting, korrupsie, verkeerde invloede, morele verval, godsdienstige agteruitgang wat lei tot moedeloosheid, negatiwiteit, wanhopigheid en uitsigloosheid. Kennis en informasie bring ‘n ommeswaai in sy hart. Nehemia se hart verander nadat hy op hoogte van die toestande in Jerusalem gekom het. Kyk wat doen dit aan hom: “By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil ... “(1:4a)
Nehemia se hart was gebroke. Gód het sy hart gebreek oor die stukkendheid van Jerusalem. God laat Nehemia Jerusalem sien soos wat Hy dit sien. God laat Nehemia voel oor Jerusalem voel soos wat Hy daaroor voel naamlik hartseer met trane oor planne, want trane bring jou voor God in gebed. “Ek het gesê: Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid. Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teenoor U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig.” (Neh 1:5-6)
 
Nehemia het vir ongeveer 6 maande gebid (Hoofstuk 1 het afgespeel in “Kislev”, die Persiese naam vir Desember. Kyk na hoofstuk 2, dit speel af in “Nisan” – nie die Japanese motor nie, maar die maand April. Dit wys dat daar is ‘n verband is tussen gebed en ‘n roeping. Sy trane beweeg hom van ‘n roeping om SKURE te BOU vir homself (of wyn te skink in die paleis) na ‘n roeping om sy lewe en tyd aan te wend en te gebruik om die MUUR in Jerusalem te gaan herbou vir die gemeenskap.
 
In die tyd moes daar iets baie spesiaal in hom gebeur het, want daar was baie redes hoekom hy nie sou wou gaan nie: Eerstens het dit met hom goed gegaan. Hy het ʼn hoë posisie gehad, gerieflik geleef en die ellende was ver weg van hom af. Dit was nie sy issue gewees nie, dit het hom nie geraak wat met die arme drommels in Jerusalem gebeur nie. Daar was nie eintlik veel wat hy kon doen nie. Tweedens die afstand: Susan was 1400 km van Jerusalem af, te voet of met ʼn rydier. Derdens was daar die vyande van God wat in en om Jerusalem gewoon het. Hulle het finansieel gebaat uit die feit dat die muur afgebreek was en het enige pogings gekeer dat die muur herbou word. Vierdens was daar die volk van God wat totaal moed verloor het en eers gemotiveer sou moes word om op te staan vir die eer van die Here. Vyfdens sou dit harde fisiese werk verg om die muur weer op te bou.
Hoekom gaan hy ten spyte daarvan? Wat gebeur dat hy die wyn skinkery opgee vir die troffel in die son gepaardgaande met baie teëstand en moeilikheid? Roeping! Die Here het sy hart aangegryp oor die eer van die Here self wat skade lei en die seer van die mense was vir hom soos dolksteke in sy hart. Hy het onmiddellik besef: die enigste manier om die saak reg te stel, was om die muur van Jerusalem weer op te bou en om die poorte weer te herstel sodat dit gesluit kan word. Alleen so sou die volk die enigste ware God weer in rus en vrede kon dien, eer en verheerlik sodat die gemeenskap die SHALOM ervaar.
Dit was eers toe hy gevas en gebid het (belydenis van sonde gedoen het) dat hy soos God gekyk en gevoel het daar is ‘n roeping, ‘n pleidooi in sy hart gebore is wat maak dat hy die skure van sy eie lewe, gemak, gerief en belangrikheid opgee vir iets groters, naamlik die stad, sy mense, die samelewing en die nasie. Hoewel jy ’n sinvolle lewe kan meet aan materiële besittings, word die sinvolheid van die lewe eintlik gemeet aan die mate waarin jou lewe ’n impak gehad het en het op ander. Dan doen jy goed wat vir ander nie sin maak nie, soos om ‘n groot en belangrike werk, sekuriteit, voordele, gemak, gerief op te gee en na ‘n gemors toe terug te gaan. As hy in Jerusalem aankom kry hy nie ‘n staande ovasie van mense wat dankbaar is dat hy gekom het nie, nee, hy kry te doen met ‘n klomp moedelose, hooplose, uitsiglose, negatiewe mense maar na ‘n paar dae sê hulle almal soos een man “Kom ons bou die muur” (2:18).
Hoe het hy dit reggekry om hulle te motiveer en te mobiliseer dat almal met ‘n troffel in die hand staan en vir 52 dae, 52 dae se beproewing, 52 dae se bedreiging die muur voltooi? Dat hulle na die tyd kon terugstaan en sien wat hulle met die krag van God kon doen om n nasie se toekoms te verander.
Roeping ontwikkel tot ‘n visie, ‘n prentjie in jou kop van hoe dit sal lyk.
Ons koppe werk nie met woorde en syfers nie, ons droom in beelde. Beelde trek jou vorentoe. Watter beeld het jy van ons land en toekoms? Dit wat jy in die toekoms sien gebeur gaan nou jou ingesteldheid, gesindheid en gedrag bepaal. Iemand sê vir my dat hy sy liefde vir ons land verloor het, omdat dit nie meer sy begeertes, wense, drome aanspreek nie en nie meer vir hom voordele, profyt, geleenthede soos vroeër gee nie.  Daarom wil hy immigreer, want hy voel alles is afgebreek en stukkend en hy wil nie verder afbreek nie, maar van opbou en herstel weet hy niks nie. Dis dalk waarom Nehemia in Susan gebly het waar dit voordelig en lekker was, totdat hy voor die aangesig van die Here geval en gehuil het oor die toestand en gevolge van die Jode. Toe eers het God met hom gepraat en sy hart aangeraak oor wat hy moes gaan doen en hom ‘n roeping gegee.
Ons moenie net besorg wees oor ons eie sak nie, maar werklik, ernstig, ontsteld wees oor die toestand van ons land en die gevolge wat dit op die nasie het. Dit moet ons harte werklik aangryp en ons laat ween, bid en God laat vra wat Hy wil hê ons moet doen en sien. Dan sal Hy ons antwoord deur ‘n nuwe, vars openbaring te gee van wat Hy werklik wil hê ons met doen. Nie vyf of tien jaar in die toekoms nie, maar nou al! Kyk hoe eindig Nehemia sy gebed: “Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit ‘n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees” (1:11). . . “ om die stadsmuur te gaan herbou” (2:7c)
 
En dan laat die koning hom gaan en pak hy die lang reis terug aan om dit wat al verskeie kere misluk het met mening te gaan aanpak, uit oortuiging en doelgerig, gemotiveer want:
 
1.      ‘n Visie inspireer . . .
 
As jy nie ‘n visie het nie, verloor jy jou fokus en raak jy gou mismoedig. In Nehemia 2:8(b) lees ons: “My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.”
 
Nehemia was geïnspireer, omdat hy geweet het God is saam met hom op hierdie avontuurlike reis. Hy was daarom in staat om selfs vir die Persiese koning sy versoek te rig. Onthou, die Jode was op hierdie stadium steeds in ballingskap en Nehemia het dus nie hier met ‘n ander Jood onderhandel nie, maar met die een wat hom gevange geneem het. Wanneer ons ‘n nuwe visie van God ontvang word ons geïnspireer en aangemoedig, omdat ons weet Hy is saam met ons en dat dit Sy wil is. Hy wil ons gebruik om sinvol te lewe en te doen wat singewing en vervulling in jou lewe sal gee.
2.   ‘n Visie gee aan ons rigting en betekenis
 
In Nehemia 2:11 lees ons dat Nehemia geweet het dat om die Here se wil te doen, moes hy na die plek toe gaan waar die werk gedoen moes word. In Jerusalem aangekom, gaan stel hy ondersoek in van die toestand van die muur, maak opnames en planne vir die uitvoering van die visie. As ons nie versigtig is nie, kan baie van wat ons doen, eintlik niks vir die Here beteken nie. As ons net besig is om in stand te hou, of ‘n verkeerde koers in te slaan, voer ons nie die wil van God uit nie. ‘n Visie beteken ons verstaan waar die behoeftige areas in die gemeenskap is wat aangespreek moet word. Ons vind so uit watter opleiding ons, as kinders van die Here, nodig het. Ons kan dan programme in werking stel waardeur ons God se wil uitvoer.
 
3.   ‘n Visie gee momentum, energie en passie
 
In Nehemia 2:18 lees ons hoe hy die visie met al die ander gedeel het. Dit is eers wanneer almal verstaan wat God se visie en wil is dat daar eenheid, rigting, inspirasie en dryfkrag kom wat aanleiding gee tot momentum wat mense laat sê: “Kom ons bou...”. Hierdie boek in die Bybel word Nehemia genoem omdat hy die skrywer is, maar dit kon net sowel geheet het “Die Werkers”, want Nehemia gee aan die werkers erkenning wanneer hy in Nehemia 4:6 skryf: “Ons het bly bou aan die muur ... Die mense se harte was in die werk”.
In Nehemia 3 kry ons die geskiedenis van wie watter deel van die muur gebou het. Op die oog af lyk dit baie vervelig om te lees, maar eintlik is dit baie interessant, want jy sien die name van die persone of groepe aangeteken op elke plek op die muur waar hulle gebou het. Ons lees in Nehemia 3:5, “Die volgende stuk is herstel deur die mense van Tekoa, maar hulle vooraanstaande mense was nie gewillig om swaar werk te doen vir hulle Here nie”
Letterlik staan daar: Hierdie vername manne wou nie die vuil werk doen soos om dagga aan te maak, stene aan te dra of enige swaar bouwerk doen nie, want hulle was te belangrik daarvoor. Hulle het geredeneer: Kry maar iemand anders om die swaar werk te doen. Daar is vandag ook sulke mense wat nie bereid is om hulle tyd vir iets of iemand te gee en sodoende die muur in ons gemeenskap wat stukkend is te bou nie. Hulle redeneer ook: Kry maar iemand anders wat dit sal doen. Ek is te belangrik en te besig met die bou van my skure! Maar dan lees ons gelukkig ook van die ander: Hulle name is die hele hoofstuk vol: By hulle was die entoesiasme om die muur te bou oorweldigend. By oor die 40 plekke in die muur en by 9 poorte en 4 torings het daar oral dankbare gewone mense ingespring en begin bou! Priesters, Leviete, smede, salfmengers, bakkers, gesagvoerders, almal het gehelp. Ja selfs Sallum se dogters. Stel jou voor: ʼn Pa en sy dogters wat groot, swaar klippe aandra en in die muur inmessel. Hulle het nie gesê: Nee, dis manswerk nie. Ons naels sal breek en ons handjies sal skurf word nie. Nee, vir sommige mense weeg God se eer so swaar dat hulle selfs dinge buite hulle aard sal doen. God se eer kom voor hulle eie belange, gerief, voorkeure, smaak en eer. Daarom is hulle bereid om op te offer vir hulle Here, om tyd en energie en selfs harde werk in te sit uit dankbaarheid. Sallum se dogters wys ons daarop dat dat gewone mense die muur moet bou, nie net belangrike gekwalifiseerdes nie. Hulle wys ons om te bou met wat jy het. Wat het hulle gehad? Rommel, puin en reünies. Gebruik dit wat jy het, naamlik ervaring, mislukkings, foute en hulle wys dat jy bereid moet wees om jou hande vuil te maak, dat dit iets gaan kos. Dis die moeite werd, want weet dat God saam met jou is in die reünies, rommel en gemors. Carl Jung het gesê: “Die sentrale neurose van ons tyd is leegheid; ’n gebrek aan singewing.” Om net aan jou eie skure te bou is te leeg, sinloos en betekenisloos.  Soos die gelykenis van die ryk dwaas wat sy Zoë (‘n sinvolle en betekenisvolle lewe) verloor het. Daar is soveel mense vandag wat in die tyd waarin ons, ons bevind onttrek, isoleer en afsny van dit wat om hulle gebeur en sê dis ‘n gemors, jy kan niks daaraan doen nie. Hulle sorg net vir hulle self in terme van hulle toekoms en veiligheid.  Hulle skink net wyn, maar om iets te beteken, iets iewers te bou of by te dra, te help is nie ‘n opsie nie. Ek wil jou uitdaag: Dis eers as jy troffel vat en die muur begin bou wat jou lewe sin maak. Ons is elkeen ‘n bouer en ons bou elkeen iets. Waak daarteen om net jou eie skure te bou, want dit verwyder mense verder van mekaar af. Maar as jy aan die gemeenskapsmuur bou, bring dit jou nader aan mekaar en aan ander. Volgens Ef 4:16 is ons elkeen ‘n steen (met sy eie funksie) wat die gat in die muur met jou gawes moet toemaak en so die omgevalle mure met jou gawes en ervaring op te bou en te herstel.
Ons gaan Saterdag 3 Augustus @ 9:00 ‘n ONTDEK JOU PLEK kursus aanbied – meld by die kerkkantoor aan as jy wil deelneem.
Hoekom?
Elke gelowige is geroep om te bou, om die omgevalle mure van Jesaja 60:17 te herstel: “Ek laat vrede oor jou regeer, Ek laat geregtigheid jou bestuur. Daar sal nie meer gehoor word van geweld in jou land nie, of van ondergang en verwoesting binne jou grense nie. Jy sal jou mure noem: Redding, jou poorte: Lof. Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.”
Ons gemeente gaan bou. Gaan jy saam met ons bou?  Gaan jy saam met ons herbou aan dit wat stukkend en afgebreek is in ons samelewing? Wie anders gaan dit doen? Die meeste wil dit net afbreek (negatiewe houding…).
Hoe bou jy?

  1. Kry ‘n ‘Ganani’ wat vir jou informasie kan gee: Vra iemand of daar gate (werklike toestand) in jou en die muur is.
  2. Luister diep: Laat dit jou hart aangryp. Laat die gate jou hartseer maak en laat huil.
  3. Bid: Bely jou aandeel, dat jy niks gedoen het nie. Vra dat jy van wyn/oros skink, van jou eie skure bou sal gaan na help bou aan die muur.
  4. Ontvang jou roeping: Skryf jou naam op die steen in die muur sodat jy die gate kan toebou en die muur kan opbou.
  5. Gee jou TYD: Waarmee hou jy jou besig? Gee jou tyd vir die gate in die muur en doen wat nodig is.

Begin bou - eers by jou eie huis
Uit Nehemia is dit duidelik dat hulle eers hul eie huise in orde gekry het voor hulle op ander plekke begin help het.  Ons lees in hoofstuk 3 op verskeie plekke dat hulle voor hulle eie huis help bou het.  In vers 28 lees ons: “… elkeen by die gedeelte regoor sy huis.”  Dit maak sin né!  Om voor jou eie huis te bou, want dis die naaste plek om te begin werk.  Bouwerk begin by en voor jou eie huis! Elkeen moet net op sy eie stoep vee, dan is die straat skoon. Sal jou naam op die lys van bouers wees wat voor jou eie huis bou? Is jou naam op ‘n steen in die muur:

  • . . . in jou lewe?  Ek bedoel, hoeveel tyd en moeite en energie spandeer jy daaraan om jou verhouding met God te bou en te herstel in jou eie lewe? Ons lees in 1 Petrus 2:4-5 : “Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” Jesus sê in Matt 7:24 dat die storms dit waarop en waarmee jy gebou het sal ontbloot. Die storms sal uitwys of dit op sand of op rots gebou is. Wat is jou fondasie? Waarop en waarmee bou jy?  Ons lees in 1 Kor 3:10-14: “Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word”.
  • . . . in jou huwelik. Hoe lyk die muur van jou huwelik en hoeveel tyd spandeer jy om dit op te bou? Hoeveel tyd spandeer jy aan jou huweliksmaat?
  • … aan jou kinders? Konstruktief, opbouend?  Bou jy of breek jy jou kinders?  Onthou, jy breek nie net jou kinders wanneer jy hulle verkeerd behandel nie, jy breek hulle ook wanneer jy nie doen wat jy veronderstel is om te doen nie.  Wanneer jy hulle nie leer wanneer hulle moet geleer word nie of dissiplineer wanneer hulle gedissiplineer moet word nie. Hoeveel tyd spandeer jy daaraan om die fondasie van jou kinders se geestelike huis te help bou?  Dit is die huis waarin hulle eendag sal moet bly! 

 
Bou die huis van God
In Haggai 1:9 lees ons dat die Here vreeslik ontsteld is, want Hy sien hoe sy kinders hard werk en bou om hulle eie huise mooi te maak, terwyl die huis van die Here in puin lê! Ons is elkeen bouers van die muur om die huis van die Here, naamlik die gemeente van die Here Jesus.  Jy kan nie net jou eie huis bou nie, jy moet die kerk ook help bou!  Dit was die motivering vir Nehemia se bouwerk.  Kom ons trek terug en maak ons eie huise reg, maar dan moet ons begin bou aan die tempel van God!  So baie mense gee vandag eenvoudig nie om vir die kerk nie.  Mense sê selfs dat die kerk en eredienste oorbodig is.  So dis volgens hulle belangriker om te bou aan die gerief van jou eie huis as aan die huis van die Here.  Die huis van die Here kan maar verval, solank as wat my huis net mooi en gerieflik is!
Jy is nie net ’n bouer by jou eie huis nie. Jy is deel van die geloofsgemeenskap, omdat die Here hier vir jou ’n stukkie bouwerk uithou.  En as jy dit nie hier doen nie, is daar ’n gat in die muur van die huis van die Here, want aan elkeen is ’n stukkie gegee om te bou. Ons lees in Nehemia 7:70: “Party familiehoofde het bydraes gegee vir die werk… Van die familiehoofde het vir die werksfonds honderd ag en sestig kilogram goud en een en ’n kwart ton silwer bygedra.”  Dit beteken dat jy ook deur jou bydrae die muur van die kerk bou! So die vraag is: sal jou naam op die lys van bouers wees wat aan die huis van die Here, die gemeente help bou het? Is jou naam op ‘n steen in die muur van ons gemeente?
Weet dat daar baie plekke is in die gemeente waar die muur omlê en dat ons jou nodig het!
Bouer van die gemeenskap
Jy kan baie verskonings en redes aanvoer as jy hoor jy moet die nasie bou of ‘n stukkende gemeenskap se mure regmaak, maar as jy reg bou aan jou eie huis en help bou aan die huis van God, sal jy spontaan daar waar jy loop en praat en leef  bou. Jy sal spontaan aan die gemeenskap bou, daar dit stukkend is. Nehemia se hart was stukkend gebreek oor die stukkende gemeenskap wat niks van God se SHALOM beleef het nie. Dit word die roeping wat hom terugbring met ‘n prentjie en ‘n visie van hoe ‘n gemeenskap sal lyk en funksioneer as die muur opgerig is. Van hoe dit sal lyk as die mense God dien, Hom eer en vir Hom lewe.  Leef die mooi en die goeie in die stad en nie die bose nie. Jy word geroep as ‘n bouer by die werk, bouer van die ekonomie en die nasie. Jy word geroep as ‘n bouer van die koninkryk. Elke gelowige is ‘n dominee, sendeling en dissipel gekamoefleer as ‘n dokter, boekhouer, onderwyser, prokureur, besigheidsman, huisvrou  . . .
 
Slot: Waarmee hou jy jouself besig? Wat doen en bou jy met jou tyd?  Skink wyn/oros, bou jy skure of bou jy die gate in die mure toe?  Staan jou naam iewers op ‘n omgevalle muur? Almal soek na sin en betekenis in die lewe.  Jy kry dit nie in skure of op winkelrakke of in Google se soekenjin nie. Ook nie in die veld of by die see nie.  Om aan die koninkryk van God te help bou, bring die grootste vreugde en lewensvervulling wat daar is.  Jy is deel van God se bouspan.  Gekies, geroep, bekwaam gemaak.  Jy het iets (rommel, ruïnes van ervaring of bekwaamheid). Jy is nodig om iewers ‘n gat toe te bou. As jou naam op die lys van bouers verskyn en as jou naam op ‘n steen in die muur staan, sal jou lewe sin maak en betekenis hê. Wil jy nie hê jou lewe moet iets beteken nie?
So kom ons bou. Kom ons elkeen bou sy eie lewe, eie huis en aan God se huis, Eros gemeente. Dan sal die muur om Windhoek, God se koninkryk, stukkie vir stukkie herstel en mooier word en sal ons die SHALOM proe. 
Amen

 

Klankopname van die preek:  https://www.dropbox.com/s/pjolxdo6hp8pb4n/01-190721_0919%20%28online-audio-converter.com%29.mp3?dl=0

Videoopname van die preek: https://www.facebook.com/NGErosGemeente/videos/459161174920869/

Dinsdag, 02 Julie 2019 14:38

Nader 2019: Storms

Geskryf deur

Visvang is lekker, maar jy  kan nie veel doen met ‘n tou wat vol knope, koeke of kraaines is nie. Jy het groter moeilikheid as jou hoek in die water is en jy vang ‘n vis met daai lyn wat ‘n kraaines het, want dan kan jy niks doen behalwe baklei, moeg raak en uiteindelik die stryd opgee as die lyn breek nie. Partykeer kom ‘n mens by die punt waar dit voel en lyk of jou lewe vasgedraai het. Wanneer jou kop voel soos ‘n tou vol knope en koeke. Jy kom net nie reg nie, niks wil meer werk nie en jy weet nie meer waar om te vat en waar om te los nie. ‘n Deurmekaar warboel van gedagtes. En as daar dan iets aan jou lewenshoek kom soos ‘n storm, ‘n krisis, moeilikheid of probleme, dan maak die baklei jou moeg en voel jy of jy gaan gebreek. Vir elkeen wat tans met so kraaines-sindroom worstel, het die Here besondere hoop vandag. Hy wil jou help hoe om al die koeke, knope en kraaineste in jou kop en denke te ontknoop en los te maak, want die tou is eers regtig bruikbaar as dit ontknoop is. Kom ons kyk net vinnig weer wat die laaste 2 Sondae gepreek is: Daar is verskeie tipes vereensaming.  Verskillende plekke en maniere hoe jy vereensaam.

  • Jy voel jy behoort nie of word nie liefgehê nie. Of jy word fisies verlaat, van geskei, gelos, of afgesny van iemand.
  • Jy voel jy word nie geken nie en kan nie jouself wees of ontsluit nie. Jy voel jy is nie reg nie, daar is iets fout met jou en jy moet verander.
  • Omstandighede, storms of branders wat oor jou slaan, golwe wat hoog is en alles donker om jou laat.

In ons elkeen se lewe sal daar storms kom. Storms is onafwendbaar. Jy kry publieke storms  soos droogte, ekonomiese resessie, depressie, ens. En dan persoonlike storms soos jou gesondheid, of in jou huwelik, gesinslewe, gemoed, werksituasie of in jou finansies. Storms tref almal, iewers of altyd. In Handelinge 27 beskryf Lukas, wat saam met Paulus op die skip was (hy praat heeltyd van “ons”) hoe Paulus na Rome geneem is, omdat hy hom  op die Keiser beroep het om sy saak te besleg. Julle sien die Joodse godsdienstige leiers het 'n klomp valse klagtes teen hom ingebring – waarvan hulle niks kon bewys nie. Nou word Paulus per skip (as gevangene) na Italië gestuur om voor die Keiser te verskyn. Die reis het in 'n katastrofe geëindig toe die skip vlak by die eiland Malta, suid van Italië vergaan het – alhoewel sonder enige lewensverlies. In die lig van 2 Kor 11:25 was dit die derde skipbreuk wat die Apostel Paulus oorleef het. Kom ons leer belangrike lesse uit die storms in ons lewe. Met ander woorde kom ons leer wat jy nie moet doen nie en wat jy wel moet doen om die knope te ontknoop sodat ons nie in die storm wat ons tans beleef (droogte, ekonomiese resessie, werkloosheid) sal vergaan nie.

Die eerste les is: Storms kom onverwags.

Paulus het baie ondervinding van die Middellandse See gehad. Hiérdie skipbreuk was hoofsaaklik die gevolg van die veranderlike weerstoestande gedurende die herfs dus einde Oktober. Vanaf begin November af, was daar destyds geen skeepvaart op die Middellandse See nie. Alle skepe het iewers oorwinter. Hierdie skip sou ook by Mooi Hawens oorwinter het, maar wou toe net nog 40 myl verder vaar tot by 'n meer geskikte hawe om te oorwinter. En dis oppad daarheen waar die moeilikheid met 'n onverwagse stormwind gekom het en wat die skip in ‘n groot storm laat beland het. Kyk in hoofstuk 27: 13.  ́n Ligte bries waai uit die suide en hulle het gedink dat hulle die hawe van Feniks kon bereik waar dit beter was om te oorwinter as in Mooi Hawens. Geleerdes sê hulle sou hierdie reis in normale omstandighede in ongeveer drie ure kon aflê̂. Maar skielik verander die weer van ‘n ligte suidewind tot orkaanwinde uit die noordooste. Binne die drie ure waartydens hulle gereis het. Die meeste storms wat oor ons pad kom, kom skielik. Jou kar ry nog een oomblik normaal en die volgende oomblik borrel die rook by jou enjinkap uit of bars die wiel. Jy gaan vir hierdie roetine-doktersondersoek en vanaand lê jy in die hospitaal. Ongelukke kom skielik, sommer so uit die bloute. Geen tyd om daaroor na te dink of te beplan nie. Tragedies stuur nie vooruit ‘n sms om ons voor te berei nie. Jy kry nie ‘n waarskuwende epos van iets slegs wat in jou liggaam begin groei nie. Krisisse aktiveer nie een of ander waarskuwings-app op jou selfoon drie dae voor dit gaan gebeur nie.

Die tweede les is: storms oorweldig jou.

Mens raak verward, bang en beangs in ‘n storm. Veral as jou vaardighede en ervarings jou nie meer kan help nie. Die manne op die skip saam met Paulus was ervare matrose en kon net nie die storm te bowe kom nie, so sterk was dit. Dit laat ‘n mens magteloos voel wat lei tot negatiwiteit en pessimisme wat weer maak het dat jy maklik hoop verloor in storms. Handelinge 27:20 “Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word.” Die storm is nou in beheer. Al wat hulle kon sien, was die storm. Was jy al daar? Die die plek waar jy sê, ”Ek gee op. Wat nou sal gebeur, sal maar moet gebeur. Ek is nou die slagoffer en die storm is in beheer”. Adrio König skryf dat mense wat alle hoop verloor, een van drie dinge ervaar: Die eerste is aggressie gebore uit frustrasie. “Ek het hoop verloor dat ons huwelik sal werk en nou het ek al hierdie aggressie teenoor my huweliksmaat”. Of aggressie teenoor die regering, die ekonomiese krisis ens. Die tweede wat jy kan ervaar as jy hoop verloor, is oorgee. Oorgee in die sin van totale lewensmoegheid en intense moedeloosheid wat ‘n passiewe reaksie op jou situasie veroorsaak. “Ek is magteloos en moedeloos in eensaamheid en isolasie”. Die derde is koersloosheid. “Ek weet nie waarnatoe nie of hoe om vorentoe te gaan nie”. Dis veral hierdie laaste twee naamlik, oorgee en koersloosheid, wat met die mense op die skip in Handelinge 27 gebeur het.

Die derde les is: In storms gooi ons soms die dinge oorboord wat ons aan die gang kan hou. Dit gebeur ook met Paulus en sy reisgenote. Kyk in Hand 27:18 en 19. Wat gooi hulle oorboord? Die vrag. En wat was die vrag? Koring, dus kos wat jou aan die lewe kan hou. Wat gooi hulle nog oorboord? Die skip se toerusting, dus daardie dinge wat nodig was om die skip te laat funksioneer. Ons doen dit ook dikwels as die storm ons lewens aanval. Ons gooi die goeie goed oorboord, goeie gewoontes soos om te oefen, goed te slaap, te rus, verantwoordelik met geld om te gaan in plaas daarvan om te oorspandeer, te ooreet, te drink, te oorwerk. Of ons gooi ons  geloofsgewoontes oorboord soos ons stiltetyd, lees van die Woord saam met gebed wat ons regop kan hou, kalm hou en opnuut vertroue in God gee. Of in ‘n storm gooi ons verhoudings met die mense wat ons ondersteun het oorboord en onttrek ons onsself van hulle in selfbejammering en eensaamheid. Jy probeer die storm alleen uitry. Ons begin paniekerig raak en maak slegte besluite in alleenheid. As die storm losbars kan jy maklik jou waardes prysgee en op maniere optree en dinge doen wat jy nie normaalweg sou doen nie.

Die vierde les is: Dis maklik om perspektief in lewensstorms te verloor. Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie.(Hand 27:20) Daarom verloor hulle alle hoop. Die seevaarders het die son bedags en die sterre in die nag gebruik om hul rigting te bepaal. As die son en sterre nie sigbaar is nie, kon jy nie op see navigeer of jou rigting bepaal nie. Ons verloor ook maar maklik perspektief in die storms van ons lewe. Jy sien net die slegte. Hoekom moet dit altyd so sleg gaan met my? Hoekom gebeur slegte goed net met my of my familie? Straf God, waar is Hy, hoekom? Daar is so baie goeie dinge in jou lewe oor. Soveel goeie tye agter jou en waarskynlik voor jou ook. Maar al wat ek kan sien is die donker van my lewe waarin ek nou is en skielik bied dit ‘n skeefgetrekte perspektief op my hele lewe. Ons glo ook baie keer as die storms kom, ons is alleen of staan alleen, geïsoleer, onttrek van almal. Ons sien dan nie die Here se hand onder ons nie. Ons sien nie altyd die mense raak wat saam met ons sal staan nie, ook al kom die storms nie. In ‘n storm verloor jy maklik perspektief. Jy verloor sig op God en begin glo dat Hy nie in beheer is nie. Glo dat Hy dit oor jou gebring het, dat Hy jou straf of jou alleen los of nie omgee nie. Dan vorm daar knope en koeke in jou brein nes ‘n kraaines. Jy moet dus reg dink in storms. Jy moet kop hou en die regte perspektief hou op God, die lewe en jouself hê om sodoende die knope en kraaines uitmekaar te kan haal. Einstein het gesê dat die oplossing nie vanuit dieselfde plek kom as waar die probleem is nie. Dit kom vanuit ‘n ander plek. Dit kom van buite af. Paulus doen dit as hy sê dat niemand die boot mag verlaat nie. Hoekom nie? Die groot versoeking in storms is om jou eie reddingsplannetjies te begin maak. Die reddingsplanne met die 3 V’s naamlik: Vlug, Vries of Veg. Dit gebeur deur hetsy jouself te isoleer en te onttrek of andersins om te “blame and shame”. Paulus is in die storm weens ander mense se slegte besluite. In Hand 27:10 het Paulus die kaptein en bemanning gewaarsku dat die reis gevaarlik gaan wees en dat hulle die skip, sy vrag en selfs hul eie lewens kan verloor sou hulle voortgaan. Waaroor Paulus hulle gewaarsku het, is toe presies wat gebeur het. Menslik gewyso kon Paulus toe die “blame/shame game” speel deur die kaptein en sy bemanning te blameer, omdat hulle nie na hom geluister het nie. Ons speel maklik die ‘blame game’. Ons blameer maklik ander vir die krisis of gemors waarin ons is en dan raak ons verbitterd teenoor hulle. Die ander uiterste is om die ‘shame game’ te speel. Dis nou as jy self vir jou eie krisis verantwoordelik is deur ́n swak besluit te neem of keuse te maak. Dan ‘shame’ jy jouself deur jouself te verwyt en te veroordeel, omdat jy is waar jy is. Ek kan dink die hoof van die wagte en die kaptein van die skip het hulself blameer vir die gevaarlike situasie waarin hulle so baie mense geplaas het. As jy met hierdie stuk verwyt vandag teenoor jouself sit hoor hierdie woorde: “Even if the storm is your own making, God still cares for us and about us”. Die ‘blame’ en ‘shame’ werk nie. Storms is ‘n paradoks: God is in beheer en het ‘n plan MAAR jy en ek dra die verantwoordelikheid om die regte keuses te maak. Elke keuse het gevolge. As God 100% in beheer was sou jy kon reken dat jou keuses niks kan beïnvloed of kan beteken nie. Dan is alles God se skuld. En as God glad nie in beheer was nie, sou jou keuses 100% alles bepaal het en sou alles jou skuld wees. In storms moet jy weet beide is reg: God is 100% in beheer en jy is 100% verantwoordelik vir al jou keuses! Dis hoekom Paulus sê almal moet agterbly, want die engel het dit vir hom gesê en daarom weet hy dat hy die regte keuse en verantwoordelikheid moet uitoefen. Vers 22 beskryf hoe hy hulle moed in praat en deel die boodskap met hulle wat die engel namens God vir hom gesê het. God het ‘n plan met sy lewe gehad, naamlik dat hy voor die keiser in Rome moet verskyn. Daarom sou almal se lewens aan boord gespaar word. Om die rede sê hy: “Manne hou moed!”. Ons sien in Paulus iemand wat die storm vanuit sy geloof hanteer en nie uit sy eie bronne en krag nie, want hy het geleer dat storms nie net sleg is nie en dat daar goeie en positiewe goed ook uit storms kom.

Die positiewe gevolge van storms:

Storms bring jou op beter plekke en nader aan mense.

Ons gaan almal die storm oorleef sê Paulus, want sy perspektief op swaarkry en lyding het hom geleer dat God nog altyd ‘n plan en ‘n doel met storms gehad het. ‘n Storm bring jou vinniger uit waar jy moet wees as goeie mooi weer. Storms bring jou op ‘n beter plek. Hulle het op Malta gekom waar vriendelike mense was en waar hulle kon wonders doen, mense tot geloof en genesing bring. Storms bring jou nader aan mense. Dit was ‘n goeie plek voor Rome.

Storms bring groei en vrug voort.

"Your storm doesn ́t take God by surprise. But He can use the worst storm to produce fruit in you life." Om vrug in jou en my lewe voort te bring. Bome het die winter se koue ook nodig om hul vrug op die ou end te kan produseer. Ons het die suidewind waarin skepe mooi vaar, nodig. Ons het ook die noordooste wat stormsterk waai nodig, sodat God die vrug in ons lewens kan voortbring wat Hy daarin wil voortbring. Ons groei nie as net die sagte suidewind die heeltyd in ons lewens waai nie.

Storms bou karakter.

Ons wil mos almal graag ons kinders beskerm teen die storms van die lewe. Daardie seun of dogter wat hul hart breek of as ons kind geboelie word by die skool of nie tot die span verkies word nie. Ons vergeet so maklik dis juis storms soos hierdie wat karakter in ons kinders en in ons as ouers se lewens bou en wat God se vrug in ons lewens te voorskyn bring. Die beste ding wat jy vir jou kinders kan leer en nalaat is nie geld, goedere, eiendom of selfs geleerdheid nie. Laat eerder goeie geloofsgewoontes vir hulle na soos om elke dag jou stil tyd saam met God deur te bring. Om elke dag te bou aan hul verhouding met die Here. Dis waar die vertroue en die NOGTANS denke gebou word. Van “al sou die vyeboom nie bot, beeskrale sonder beeste, geen oes . . .nogtans sal ek juig in God my Redder”. Dit was maklik toe dit goed gegaan het om die lied te sing, maar om dit te sing as dit werklik die geval is, verg ‘n ontknoopte, oop kop en denke. En dit kan net as jy ‘A long obedience in the same direction” het. Dis wat elke dag leef en wandel met die Here is. Leer jou kinders uit jou eie lewe hierdie “long obedience in the same direction”. Dis die stewigste anker wat jy hulle ooit kan gee. Jou kinders sal altyd onthou wat pa of ma gedoen het toe die storms op ons toegesak het. Het hulle begin vloek en skel of van angs na pille en drank gegryp of het hulle in geloof opgetree en God vertrou? Al is die beeskrale leeg, geen oes nie, NOGTANS . . . Rom 12:2 sê, laat God jou denke vernuwe en verander en geloof vaslê in jou denke, in jou kop, in jou brein. Dit is jou denke wat roetes of paaie deur geloofsgewoontes bou. Dis jou denke wat die knope en koeke in jou brein ontrafel sodat die ou paaie van twyfel, angs en bekommernis verdwyn deur die vertroue op God wat die regte perspektief in die storm gee, wat by jou is en belowe dat jy nie sal vergaan nie, wat sal help om te kan sê NOGTANS . . .  Dit kan net gebeur as jy reg dink oor God en oor storms. Hy is jou lewensboot. Jy moet die boot met jou eie reddingspogings verlaat, want Hy is in beheer. Dit kan net as jy jou geloof oefen (soos spiere) om in toewyding te lewe. Soos 1 Tim 4:7 sê om in die goeie tye en mooi weer God se teenwoordigheid in die storms te ervaar en te beleef met ‘n NOGTANS geloof en denke. Ons wil baie keer eers in die storms na God toe draai en hierdie kitsverhouding met Hom probeer bou as die storm klaar losgebars het. Dis soos gholfswaai wat jy probeer verander terwyl jy speel in plaas daarvan om dit vooraf op die oefenbof te verander. Die matrose het nie geweet waar hulle was nie. Die son en sterre waarvolgens hulle hul rigting bepaal het was nie sigbaar nie. Paulus kon ook nie die son en sterre sien nie. Maar sy verhouding met God het hom ander dinge laat sien. Soos dat die samevatting van sy lewe sou wees om voor die keiser van Rome, die magtigste man in die wêreld, oor sy geloof te gaan getuig. Soos dat God ook in die storm op see aan die werk was en sy planne sou uitvoer. Sy pad met God het hom geleer dat God altyd getrou is aan sy beloftes. Daarom sê hy vers 23: “Manne, hou moed. Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het”. Rom 8:28 sê dat alles ten goede sal meewerk. Op grond van hierdie belofte van God het hy al 276 mense belowe dat nie een van hulle ‘n haar sou verloor nie (Lukas 21:18).  Paulus het God gedank, brood gebreek en vir hulle gegee om te eet vir krag.  Al 276 passasiers het moed geskep en geëet. Paulus tree anders op in die storm. Daar was hy ‘n bron van kalmte en geloofsvertroue, omdat hy al voor hierdie storm en in ander storms hierdie diep en daaglikse verhouding met die Here gebou het. Hy praat van “…die Here aan wie ek behoort en wie ek dien”. Hierdie is verbandstaal van “ek behoort, ek is Sy kind, Hy is my God, Hy ken my”. So ek weet en glo Hy is in my en by my. Ek oefen myself hierin, in my kop of brein. Oefen en leer jou denke en gedagtes om op God te fokus. Dis hoe jy storms gaan oorleef naamlik om nuut en anders en positief te dink. Jy kan jou kop net ontrafel deur nuwe insigte en feite en deur die waarheid van buite af dus van ‘n ander plek af te begin naamlik by God. Oefening en lees Sy Woord en bid, vul jou denke met good stuff met wie Hy is, wie jy is. Dat Hy saam jou is. Dink aan Fil 4:8 wat sê alles wat reg, waar, mooi, edel, rein is. . . laat dit jou kop skoonmaak en lewe ligter lewe in jou kop. God nooi jou “Kom na my almal moeg, moedeloos, oorlaai en Ek sal jou rus, kalmte en vrede gee”.

Vrede in die storms: Paulus is die enigste een wat met hierdie bonatuurlike vrede en kalmte optree terwyl die storm woed. Hoekom? Hy het al geleer die God wat Hy dien is getrou. Dis waar die vrede vandaan kom. Nie omdat die omstandighede goed is nie, nie omdat moeilikheid afwesig is nie. Maar omdat God aanwesig en teenwoordig was in die storm met Sy belofte. Daarom is Paulus eintlik die kaptein van die skip in die storm. Ons verhouding met God en die diepte van ons verhouding met Hom bepaal of die storm in beheer gaan wees en of jy met Hom in beheer gaan wees. Of die storm die pas gaan aangee en of Hy deur jou die pas gaan aangee. Paulus se vrede in die Here veroorsaak dat hy nie net op homself en sy eie oorlewing fokus nie. Hy fokus op God se plan en op die skip vol ongelowiges rondom hom. Hy neem vir hulle verantwoordelikheid en hulle word eintlik gered oor Paulus op die skip is en God hom voor die keiser wil bring. Ons is verantwoordelik vir die samelewing en die dorp en elke gelowige en ongelowige mens hier om ons. Die kerk en die wêreld is saam op die boot in die storm. Beide het mekaar nodig. Die teenwoordigheid van gelowiges maak van die wêreld 'n beter plek. Die wêreld is 'n beter plek vanweë die ware gelowiges wat daar woon. Onthou 276 lewens word gered a.g.v. één gelowige wat in hul midde is. Vers 23-24: “Die Here het die 276 mense op die skip aan Paulus gegee, sodat hy na Rome kon gaan!” Die Here het 276 mense se veiligheid aan Paulus toevertrou. Hy het op daardie skip gefunksioneer soos sout wat bederf teëwerk. Jy het in die storm waarin ons nou is, ook ‘n roeping en ‘n taak naamlik om in die plek waar jy is (familie/huwelik/kantoor/werk/skool/vriende/klaskamer) nuwe insigte vir mense te gee wat hulle koppe sal ontknoop, skoonmaak sodat hulle nuut sal dink, positief, met geloof dat God ‘n plan het en dat Hy belowe dat jy nie sal vergaan nie. Is jy op jou pos? Doen jy wat jy moet en sê jy vir die mense in die storm HOU MOED . . . HOU MOED . . .?

 

Klankopname van die preek kan gekry word by die volgende adres:

https://www.dropbox.com/s/j4741ht6fwi4tui/01-190630_0913%20%28online-audio-converter.com%29%20%281%29.mp3?dl=0

 

Bladsy 1 van 11

Groei

Materiaal vir groei & Bybelstudie

Lees meer

Gemeenskap

Reik uit na die gemeenskap

Lees meer

Koinonia

Interaksie tussen gemeentelede

Lees meer

Kalender

Bly op hoogte van al ons gebeure

Lees meer